Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
KWV kan spog met beste Veritas-wyn

Die Covid-19-pandemie kon nie vanjaar ’n demper op die gesogte Veritas-pryse plaas nie.

Dié kompetisie het vanjaar byna 1 300 inskrywings ontvang, waarvoor 1 092 medaljes vroeër vandeesmaand toegeken is. Die Veritas-pryse vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar en word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) aangebied.

Die uitslae is op 14 November op ’n informele middagete by Val de Vie in die Paarl bekend gemaak en 70 dubbelgoue medaljes, 128 goue, 185 uitnemende silwer-, 506 silwer- en 203 bronsmedaljes is aan verdienstelike wyn- en brandewynkelders toegeken.

Volgens die organiseerders het drie wynmakers elk drie dubbelgoue medaljes verwerf, terwyl sewe van hulle met twee elk uitgeblink het.

Die groot wenner: Die KWV se The Mentors Orchestra 2018 is as die beste wyn in die jaarlikse Veritas-kompetisie aangewys en met die Vertex-trofee vereer. Hier staan Christo Pienaar, Veritas-voorsitter, by Izéle van Blerk, die wynmaker van die KWV se The Mentors-reeks. Foto: Andrew Gorman

Daarbenewens het ’n rekordgetal van 36 wynmakerye vanjaar elk een dubbelgoud- en verskeie goue medaljes ontvang.

Dan het die land se top- gefortifiseerde wyne ook presteer. Altesame vier dubbelgoue en 15 goue medaljes is deur dié wyne in die kompetisie verwerf, terwyl die brandewynkelders vanjaar met sewe dubbelgoue en vier goue medaljes spog.

Die groot wenner vanjaar was egter die KWV. Hulle het nie net drie dubbelgoue wenners en tien goues in die wynkategorie én twee dubbelgoue medaljes vir hul brandewyn opgelewer nie, maar is ook met die gesogte Vertex-trofee vir die algehele kampioenwyn uit al die inskrywings vir die 2020 Veritas-kompetisie vereer.

Die wyn wat aan hulle dié handgemaakte glastrofee besorg het, is die KWV The Mentors Orchestra 2018, ’n Bordeaux-styl versnit. Dié prys is in 2017 ingestel en dit is die eerste keer dat ’n rooiwyn met die trofee bekroon word, aldus die organiseerders.

Die Latynse term “vertex” beteken “hoogste punt” en dit versinnebeeld volgens die SANWSA die Veritas-kompetisie se doelwit om die heel beste wyn uit al die medaljewenners te bekroon.

Die kelders wat vanjaar tweede en derde plek op die podium beklee, is onderskeidelik Spier en Nederburg.

Dié kelders het onderskeidelik drie dubbelgoue en sewe goue medaljes én drie dubbelgoue en drie goue medaljes gewen.

Die vyf kelders wat elk twee dubbelgoue medaljes en een goue verower het, is Anthonij Rupert Wines, Babylonstoren, Badsberg, Darling-kelders en De Wetshof.

Diemersdal en Windmeul Kelder het elk twee dubbelgoues gekry.

In die klas vir gefortifiseerde wyn het die Nuy-wynkelder met twee dubbelgoue en twee goue medaljes uitgeblink, terwyl Distell in die kategorie vir brandewyn met vyf dubbelgoue en twee goue medaljes die botoon gevoer het. In die klas vir tien wyne of minder was Flagstone die beste presteerder.

  • Besoek www.veritas.co.za vir die volledige uitslae.
Meer oor:  Veritas  |  Kwv  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.