Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou-afval kan help preserveer
Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het druiwe-afval in hul studie gebruik om te bepaal of hierdie byproduk as ’n natuurlike preserveermiddel vir kos gebruik kan word. Daar is in die studie bevind dat druiwe-ekstrak die grootste hoeveelhede saamgeperste tannine bevat. Foto’s: Verskaf

Groot hoeveelhede byprodukte van sitrus en druiwe wat gewoonlik as afval beskou word en meestal op stortingsterreine beland, het dalk die potensiaal om in die produksie van natuurlike voedselpreserveermiddels gebruik te word.

Dít is een van die vernaamste bevindinge van ’n interdissiplinêre navorsingstudie wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) onderneem is.

“Ons navorsing toon dat die gebruik van bioaktiewe-ryk byprodukte van sitrus en wyn ’n doeltreffende, goedkoop, maklik beskikbare en omgewingsvriendelike platform vir die produksie van natuurlike en volhoubare voedselpreserveermiddels kan bied,” sê dr. Cletos Mapiye. Hy is aan die US se departement veekundige wetenskappe verbonde.

Mapiye het die navorsing saam met kollegas van die departement voedselwetenskappe en die hortologiedepartement se navorsingslaboratorium vir na-oestegnologie aan dié universiteit onderneem.

Dié studie en sy bevindinge het onlangs in die vaktydskrif Sustainability verskyn.

Die agtergrond

Mapiye verduidelik dit is belangrik om die fitochemiese (biologies aktiewe verbindings) samestelling, antioksidante en antimikrobiese doelmatigheid, veiligheid en stabiliteit van hierdie byprodukte gedurende die voedselverwerkingsproses te verstaan ten einde dit suksesvol te gebruik as natuurlike preserveermiddels wat op byprodukte van vrugte gegrond is.

“Bioaktiewe fitochemikalieë speel ’n belangrike rol in die preservering van voedsel deur die geur, kleur, tekstuur en voedingstowwe te behou, terwyl dit terselfdertyd die moontlikheid om ’n siekte deur middel van voedsel op te doen, verminder. Dit kan potensieel ook bydra tot die voorkoming van kroniese siektes danksy die antioksidant­eienskappe.”

Lemoenpulp en -skille is ook as deel van die studie ontleed. Navorsers het bevind dit is ’n geskikte alternatief vir sulfate danksy hul antimikrobiese eienskappe.

Hoe werk dit?

Mapiye en sy medenavorsers het die fitochemiese samestelling sowel as die antioksidant- en antimikrobiese eienskappe van druiwe-afval, druiwepitte en clementine-mandaryn-lemoenskil en -pulp wat in Suid-Afrika verbou is, ontleed.

Nadat hulle monsters van die vrugtebyprodukte versamel het, het hulle dit gewas, in die oond drooggemaak en toe tot fyn poeier gemaal voordat hulle die fitochemikalieë vir ontleding onttrek het.

Die navorsers het bevind dat druiwe-ekstrak die grootste hoeveelhede saamgeperste tannine bevat, terwyl die ekstrakte van die mandarynskil die grootste inhoud askorbiensuur (vitamien C) gehad het.

“Oor die algemeen het druiwepitekstrakte die meeste antioksidantiese aktiwiteit van ál die ekstrakte wat getoets is, getoon. Antimikrobiese aktiwiteite het die meeste in ekstrakte van mandarynlemoen se skille en -pulp voorgekom, gevolg deur die ekstrakte van druiwepitte en druiwepulp,” verduidelik hy.

“Ekstrakte verkry uit druiwepitte en die skil van mandaryn­lemoene en -pulp kan individueel of gekombineerd as uit­stekende antioksidante en antimikrobiese bronne vir die moontlike aanwending in voedsel oorweeg word.”

Mapiye sê druiwe-afval, druiwepitte en clementine-mandarynlemoenskil en -pulp kan ’n lewensvatbare alternatief bied vir sintetiese preserveermiddels wat algemeen gebruik word om die prosesse wat voedselbederwing veroorsaak, te vertraag en die gehalte, veiligheid en rakleeftyd van voedsel te verbeter.

“Danksy hul antimikrobiese eienskappe kan clementine-mandarynlemoenskil en -pulp ’n geskikte alternatief vir sulfate bied en sodoende die allergierisiko’s wat die gebruik van sintetiese preserveermiddels inhou, verminder.”

Dít gaan verlore

Mapiye voeg ook by dat verbruikers se kommer oor gesondheid daartoe gelei het dat mense bang is vir voedsel wat sintetiese preserveermiddels bevat en dit eerder vermy.

Hy sê die valorisasie van vrugtebyprodukte as natuurlike preserveermiddels vir voedsel het die potensiaal om nuwe waardekettings vir die vrugteproduksiebedryf te ontsluit en ’n groot bydrae tot volhoubare voedselstelsels te maak as ’n mens kyk na die groot hoeveelheid voedsel wat elke jaar vermors word.

“Voedselbederwing lewer ’n groot bydrae tot die verlies of vermorsing van sowat 1,6 miljard ton voedsel per jaar. In Suid-Afrika beloop naoesvoedselverliese en vermorsing tot 10 miljoen ton per jaar, met 95% van die verliese wat voorkom in die waardeketting voordat die voedsel die verbruiker bereik.”

Mapiye wys daarop dat minstens 40% van die 1 miljoen ton mandarynlemoene wat jaarliks in die land verbou word, vir die produksie van lemoensap gebruik word.

Dit beteken dat tussen 50% en 70% van die vars gewig, bestaande uit skille, pulp en pitte, ver­lore gaan.

“Daarby word 1,5 miljoen ton druiwe vir die maak van wyn geproduseer, met druiwe-afval wat 20% tot 25% van die geperste druiwe op ’n droëinhoud-grondslag uitmaak. Druiwe-afval bestaan uit steeltjies, pitte, vel en pulp.”

Mapiye sê gegewe die gebrek aan sistematiese navorsing oor die preserveringsvermoë van ekstrakte uit plaaslike druiwe- en sitrusbyprodukte in Suid-Afrika, is dit belangrik om die bioaktiwiteit en ware voordele van hierdie ekstrakte vir funksionele toepassing op voedsel vas te stel.

“Verdere navorsing om die veiligheid en doeltreffendheid van sulke produkte in voedsel geldig te verklaar, is nodig,” voeg hy by.

  • Pfukwa, T.M. et al. 2019. Food Preservative Capabilities of Grape (Vitis vinifera) and Clementine Mandarin (Citrus reticulata) By-products Extracts in South Africa. Sustainability, 11 (6).
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.