80
Dít is hoeveel wynkelders die wynbedryfsliggaam Vinpro beraam gaan moet sluit oor die volgende 18 maande weens die regering se verbod op uitvoer, plaaslike handel en die verspreiding van alkohol gedurende die Covid-19-inperkingstyd in Suid-Afrika. Die bedryf het na raming meer as R7 miljard verloor sedert die aanvang van die handelsbeperkings in Maart 2020. Die potensiële verlies aan werkgeleenthede oor die hele wynwaardeketting heen word op meer as 21 000 geraam.
30%
In die aanloop tot die seisoen het Griekeland aangedui dat hul appelkoos-oes tot soveel persent swakker as verlede jaar s’n kan wees weens ongunstige weerstoestande en ’n tekort aan arbeid, skryf Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die Inmaakvrugteprodusentevereniging in die Julie 2020-uitgawe van die vereniging se bedryfstydskrifDie Krat. Die Grieke het in 2019 groot surplusse met hul perske-oes geproduseer, maar het op 3 Julie 2020 aangedui dat hul voorraad uitgeput is. Hulle het tot einde April ’n sewejaar-rekord in volume uitvoer gehad.
29%
Dit is hoeveel persent van Suid-Afrika se landbouskuld deur die Landbank gefinansier word. Die bank het in Mei laste van R45 miljard en bates van net R5 miljard gehad, berig William Horne op Netwerk24. Hy sou dus nie kon voortgaan sonder herkapitalisering deur die aandeelhouer, die staat, nie. Die Landbank was die enigste staatsonderneming wat ’n reddingsboei van die staat gekry het toe Tito Mboweni, minister van finansies, sy aanvullende begroting op 24 Junie bekend gemaak het. ’n Bedrag vanR3 miljard is toegeken.
R370 000
Die stoetbul Prairie (lot 6: JHR16341) is vir die hoogste prys van soveel rand aan Eric Dugtig van die boerdery Kartu by Koster op die 15de produksieveiling van Richter Simbras verkoop. Dit is ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys wat op ’n Simbra-produksieveiling behaal is.
Die veiling van Chris Richter op 14 Julie is vanjaar slegs aanlyn aangebied. Sowat 103 kopers het hulle op SwiftVee se platform geregistreer. Al 28 bulle is teen ’n gemiddelde prys van R95 000 verkoop. Kopers het selfs uit Zimbabwe en Frankryk gebie.