Landbounuus: In syfers
€255 miljoen
Die waarde van drankuitvoer na Suid-Afrika vanuit die Europese Unie verlede jaar. ’n Oorsese drukgroep in die drankbedryf, spiritsEurope, het ’n beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse regering om ’n “duidelike en betroubare” tydsraamwerk te gee oor hoe die drankverbod gedurende die staat van inperking hier vinnig opgehef kan word, berig Nellie Brand-Jonker op Netwerk24. Die organisasie word beskryf as ’n verteenwoordiger van een van Europa se waardevolste landbou-uitvoersektore, wat die belange van 31 verenigings van spiritualieë-produsente en tien van die voorste drankmaatskappye in die wêreld verteenwoordig. Volgens Ulrich Adam, direkteur-generaal van spiritsEurope, word die verbod op eie bodem ook deur die groot handelsvennote soos die Europese Unie (EU) gevoel omdat Suid-Afrika ’n belangrike uitvoerbestemming vir drank van daar af is.
50%
Dit is ongeveer hoeveel persent van al Suid-Afrika se landbouprodukte uitgevoer word volgens die landbousakekamer Agbiz, berig William Horne op Netwerk24. Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, is hy bekommerd oor die ekonomiese krisis se impak op die landbou. Hy het in ’n gesprek met die Kaapstadse Persklub aan die einde van Julie gesê voedselsekerheid is nie meer ’n kwessie van aanbod nie, dis nou ’n kwessie van of mense dit kan bekostig.
300 miljoen liter
Dit is met hoeveel oorskotwyn Suid-Afrikaanse wynprodusente tans in hul keldertenke sit weens die algehele verbod op drankverkope in die land, aldus die wynbedryfsliggaam Vinpro. Volgens Vinpro is die boere besig om vir die 2021-oes voor te berei, maar met al die oorskotwyn gaan daar moontlik net nie plek vir die nuwe oes wees nie.