Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Min regeringsteun vir SA landbouers’

Minister Tito Mboweni se nasionale begrotingsrede aan die einde van Februarie het kritiek uit landbougeledere ontlok, met bedryfsrolspelers wat glo dat die regering nie die landboubedryf as ’n groot ekonomiese bydraer en werkskepper ondersteun nie. LandbouBurger deel enkele van die reaksies:

Tito Mboweni tydens sy begrotingsrede in die parlement.Foto: gcis

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap:

“Uit die minister van finansies se begrotingsrede is dit duidelik dat kommersiële landbouers nie op veel regeringsteun kan staatmaak nie. Die las op kommersiële produsente is inteendeel verhoog met onder meer die aankondiging van ’n 8%-styging in aksynsbelasting op alkohol en tabak, ’n 27 sent per liter styging in die brandstofheffing en geen droogtehulp aan die sektor nie.

“Daar is min in minister Mboweni se begrotingsrede wat positief vir kommersiële landbou is en sy toespraak het bevestig die land se finansies is in ’n benarde posisie.”

Jannie Strydom Foto’s: VERSKAF

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA:

Christo van der Rheede

“Met bruto leningskuld wat in 2023-’24 R5,2 duisend miljard gaan beloop en ’n geskatte belastingtekort van R213 miljard is ons vinnig op pad na ’n fiskale afgrond. Daar hang ook groot vraagtekens oor die verdere R7 miljard (wat as reddingsboei) aan die Landbank toegeken is, sowel as die R816 miljoen wat begroot is om nuwe grondeienaars deur die restitusieproses te vestig. Dan praat ek nie eens van hoe die 10 000 sogenaamde ‘ervare’ landboubeamptes waarvan die minister gepraat het, ontplooi en betaal gaan word nie. Daarbenewens gaan die 8%-styging in aksynsbelasting op alkohol en tabak die volhoubaarheid van hierdie sektore ernstig in gedrang bring.

“Die nasionale begroting moet eerder op die skepping van welvaart as op die verskaffing van welsynsteun gemik wees. Altesaam R1,2 duisend miljard is vir maatskaplike dienste begroot, terwyl daar slegs R207 miljard aan goed soos ekonomiese infrastruktuur, industrialisering, innovasie, wetenskap en landbou-ontwikkeling gaan. Altesaam R27,4 miljard is vir landbou begroot. Ons kan dus nie help om te wonder of die regering regtig ernstig oor ekonomiese groei is nie.

“Terwyl ons verstaan dat daar ’n behoefte aan maatskaplike ingrepe gedurende die pandemie is, moet alles moontlik gedoen word om die ekonomie vry te stel, beleidsbeperkinge uit te roei én teenstrydige ideologiese uitlatings te beëindig.

“Dit is nou meer nodig as ooit tevore dat daar groter samewerking tussen ministers en hul onderskeie regeringsdepartemente is om hul begrotings verstandig en doeltreffend te bestee. Daar is ongelukkig geen kortpad om die land uit sy ekonomiese moeras te kry nie.”

Henry Geldenhuys, president van die TLU SA:

“Die nasionale begroting van 2021 het niks gedoen om landbou opgewonde te maak nie. Soos verwag was daar ’n sterk fokus op ekonomiese groei en het die minister vroeg in die toespraak gesê hierdie begroting skep die raamwerk, sodat Suid-Afrika teen 2024-’25 ’n surplus op die begroting sal bereik en die regering se skuld teen 2025-’26 sal stabiliseer.

Henry Geldenhuys

“Geen ekonomiese groei vind plaas omdat dit in ’n begrotingsrede aangekondig word nie. Die regering wil deur staatsbesteding en -toelaes ’n ekonomie bou. Enige ekonomie kan net groei deur verwerking, produksie en werkskepping. Hierdie deel van ekonomie 101 het die regering misgelees.

“Mboweni erken dat die grootste gedeelte van die R2 000 miljoen-uitgawe aan maatskaplike dienste afgestaan word. Dit is duidelik dat die staat probeer om soveel as moontlik Suid-Afrikaners van die staat afhanklik te maak, sodat die ANC beheer oor hulle kan uitoefen. Die balans tussen mense wat maatskaplike toelaes kry en diegene wat werk en belasting betaal, raak al hoe groter. Dit is ’n tydbom waarop ons land sit.

“Uit ’n landbou-oogpunt – die bedryf wat die land altyd moet red – word tabak- en alkoholprodusente hard geslaan met ’n 8%-verhoging in aksynsbelasting. Verder sal die somtotaal van die aspekte wat die produksieproses beïnvloed – soos ’n verhoogde loonrekening, duurder kragvoorsiening en die brandstofstyging – dit al hoe moeiliker maak vir landbouers om winsgewend te wees.

“As gevolg van die stygende koste van die produksieproses is landbouers meer afhanklik van finansiering, maar helaas is die Landbank ook op sy laaste bene – al begroot die minister R7 miljard daarvoor. Hierdie inspuiting sal nie die nodige resultate lewer tensy die bank se bestuur geherstruktureer word nie. Die bank moet ook toegelaat word om volgens bankbeginsels sake te doen, sonder dat die regering inmeng en ’n ideologiese agenda afdwing wat onrealistiese vereistes vir finan­siering vereis.

“Die belegging van R791 miljard in infrastruktuurontwikkeling is ’n ligpunt, maar moet ook gesien word teen die agtergrond van korrupte tenderprosedures en onkundigheid. Die regering moet by ’n punt kom waar harde ekonomiese besluite in plaas van ideologiese besluite geneem word. Solank enigiets anders as die markkragte die ekonomiese pad rig, sal die ekonomie net voort stotter.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Landbou  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.