Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
’n Gróót hart vir landbou

Die 28-jarige Karooboer Juanita Bellingan is onlangs weer herverkies as die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee se verteenwoordiger vir die Sentraal-Karoo – die enigste vrou op die komitee. Tisha Steyn het met haar gesels.

Bellingan het in 2016 op 22- jarige leeftyd op die plaas Kruidfontein naby Murraysburg vir die Herholdt-broers begin werk, en vandag bestuur sy hierdie plaas van nagenoeg 20 000 ha.

Die plaas is al 90 jaar in die Herholdt-familie se besit, nadat oupa Carel Theron Herholdt die grond in 1928 bekom het. Die plaas is nou in besit van die broers Carel, Ron, Michiel en De Villiers – Herholdt se kleinseuns.

“Ek het in Oos-Londen grootgeword waar ek in die Laerskool Nahoon was,” vertel die spontane blondekop. “Toe ek omtrent 13 was, het ons vir ’n rukkie op ’n plaas gewoon waar ek tien varkies grootgemaak het. Ek dink dis waar my liefde vir boerdery begin het,” sê Bellingan.

Nadat sy aan die Hoër Landbouskool Winterberg op Fort Beaufort gematrikuleer het, het Bellingan ’n landboudiploma aan die Grootfontein-landboukollege op Middelburg in die Oos-Kaap verwerf. Sy het in die kweek van sybokhaar gespesialiseer.

Aan die einde van haar finale jaar het sy oral om werk aansoek gedoen.

’n Nota op ’n aansteekbord by die kollege het haar aandag getrek, en kort voor lank het sy haarself op Kruidfontein bevind, waar Carel vir haar ’n werk aangebied het.

“Toe Carel begin vertel wat hulle hier doen en veral hoe hulle hul werkers benader en saamwerk, het ek dadelik besef hierdie boerdery-opset is ideaal. Ek was nog nooit ’n dag spyt nie!”

Juanita Bellingan (28), die bestuurder van die boerdery Kruidfontein buite Murraysburg in die Karoo.

Bellingan sterk tans nog aan nadat borskanker in Desember by haar gediagnoseer is. Sy het intussen ’n mastektomie gehad en moes ook chemoterapie ondergaan.

Ten spyte daarvan, het sy weer die benoeming aanvaar om haar streek op Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee te verteenwoordig. “Jy word deur jou streek se afgevaardigdes benoem en verkies, en dan tydens die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee se algemene jaarvergadering omskryf en goedgekeur. Ek is op die oomblik die enigste vrou in hierdie hoedanigheid, maar dit pla my nie in die minste nie.”

Blik op boerdery

Die Kruidfontein-landgoed is sowat 50 km vanaf Murraysburg in plat Karooveld met tipiese Karoobossies geleë. Oppervlakwater word deur die Buffelsrivier voorsien, wat in die Sneeuberge ontspring en ná goeie reëns in vloed afkom.

Die bos, waar ’n groot verskeidenheid plante soos soetdoring, soutbos en gannabos voorkom, bied uitstekende weiding en skuiling vir die vee in die warm somermaande.

Die gemiddelde reënval op die plaas wissel tussen 200 mm tot 250 mm per jaar. Volgens Bellingan boer hulle met onder meer merinoskape, angorabokke, angus en simmentaler-kruisbeeste, sowel as wild.

“Dis goed om te diversifiseer. Jy kan nie net met een kommoditeit boer nie. Ons boer ekstensief en al die diere moet in die veld oorleef, want ons voer glad nie,” sê sy.

Naas die Kruidfontein-merinostoet wat uit sowat 250 ooie bestaan, is daar ook kommersiële ooie. “Ons koop stoetramme van telers met die beste bloedlyne in die gebied. Ons maak ook seker dat ons hameltrop van topgehalte is.”

Volgens Bellingan boer hulle met onder meer merinoskape, angorabokke, angus en simmentaler-kruisbeeste, sowel as wild.

Wat die boerdery se sybokhaar-komponent betref, word ’n kudde van sowat 800 sybokhaar-kapaters geskeer. “Ons koop jong rammetjies by stoetboere in die Aberdeen-distrik en maak self van hulle kapaters.”

Die beeskudde bestaan weer uit 150 angus-simmentaler-kruisbeeskoeie. Die speenkalwers word aan voerkrale verkoop.

Daarbenewens beslaan die wildkamp op die plaas altesaam 2 000 ha. Dit word hoofsaaklik vir jagdoeleindes gebruik.

Die wildvertakking is ’n belangrike onderafdeling van die boerderyonderneming, en die jaggeriewe is vanjaar tussen nou tot September feitlik vol bespreek. Daar is altesaam 13 wildspesies.

Daar is in 2016 ’n teelwildkamp op die plaas gebou, waar daar spesifiek op damara-springbokke en trofeediere gefokus word. Die springbokke wat hier geteel word, versterk en verbeter die bestaande bloedlyne op die plaas.

Bellingan en senior landbouwerkers op die plaas vergesel die groepe van 12 tot 24 jagters.

Boublokke

Bellingan meen goed opgeleide landbouwerkers is die sleutel tot die plaas en haar eie sukses. “Die werkerskorps bestaan uit nege plaasmanne en twee voltydse vroue, en nog twee vroue wat as tydelike werkers tydens die jagseisoen werk,” verduidelik sy.

Van hierdie landbouwerkers het saam met die Herholdt-broers grootgeword en werk al tussen 25 en 40 jaar op die plaas. “Ek het uit die staanspoor besluit om net myself te wees en dat hulle my só sal aanvaar. Wanneer daar ’n ongemaklikheid ontstaan, praat ons dit uit – ons skree nie op mekaar nie. As ’n opdrag nie presies uitgevoer is nie, vra ek hoekom – en meestal is daar ’n goeie rede voor.”

’n Dag op die plaas begin soggens met ’n dagstukkie vanuit haar Bybeldagboek. “Hierdie tydjie saam met my plaasmanne en die Here dra my deur die dag en bind ons saam – dis ’n goeie fondament om die dag mee te begin.”

Wol- en sybokhaar vorm deel van die inkomstestroom op Kruidfontein.

Daarbenewens word daar ook baie op die plaas gedoen om die werkerskorps by te staan. Benewens lewenslange gratis verblyf op die plaas, word die elektrisiteit onder meer gesubsidieer, daar is maandelikse inkopie-uitstappies na Beaufort-Wes vir kruideniersware, en skoolgaande kinders word koshuis toe en terug vervoer.

Opleiding is ook baie belangrik. “Ons hou gereeld opleidingsdae wat op die bedryf van toepassing is, maar gesinne word ook oor lewensvaardighede ingelig. Ons volg die volgende benadering: Ek kyk na jou, jy kyk na my en sáám bou ons Kruidfontein op.”

Bellingan is ook vol lof vir die wyse waarop die Herholdt-broers as haar werkgewers haar ondersteun. “Ja, my gesondheid is nou ’n groot uitdaging, veral omdat ons twee besigste seisoene met skeer en jag voorlê. Maar ek en die hele Kruidfontein-span was nog nooit bang vir ’n uitdaging nie.”

Vrou-alleen

Vir ’n vroueboer wat alleen op ’n plaas woon is daar ook spesifieke uitdagings, maar volgens Bellingan is dit beslis nie onoorkomelik nie.

“Boerdery is ’n manswêreld. Ek dink mans voel dalk geïntimideer omdat ek nie ’n man nodig het om vir my goed te doen nie. Dis nie dat ek dink ek is beter as hulle of dat ek meer weet nie, maar miskien weet hulle nie hoe om my te hanteer nie,” vertel sy.

“Dis ook moeiliker vir ouer mense om te aanvaar dat vroue enige beroep kan beoefen. Maar ek dink hulle respekteer my omdat ek vrou-alleen boer – al is daar nog so baie wat ek moet leer. Gelukkig is daar nie ’n ouderdomsperk vir ophou leer nie.”

Volgens Bellingan kry die afsondering haar ook nie onder nie omdat sy daarvan hom om op haar eie te wees en haarself met goed soos bak- en naaldwerk besig te hou.

“Ek doen graag naaldwerk as ek die bevlieging kry – ek is nie baie goed nie, maar dit maak nie saak nie.”

’n Roeping

Maar waarom is dit vir haar lekker om te boer? “Ek hou daarvan dat jy kan sien watter verskil jy maak. As ’n skaap siek is, dokter ek hom en sien hoe hy gesond word en aangaan.

“Ek is betrokke by die diere vandat hulle die eerste lig sien. Dis lekker om buite te wees en met my hande te werk,” sê sy.

Goed soos lone uitwerk is weer minder lekker, skerts sy, omdat sy dan voor die rekenaar moet sit. “Alles hoef of kan egter nie altyd nét lekker wees nie – daar moet uitdagings wees. Daar sal altyd probleme wees, maar as jy dit reg hanteer kan jy altyd ’n oplossing vind.

“Partykeer borrel daar ’n groot vreugde in my op wat my opnuut laat besef dat ek diep gelukkig is. Ek en my plaasmanne is eensgesind en werk saam as een span. Hulle het my aanvaar en respekteer my en ek vir hulle.”

Ander sê

Bellingan was in 2018 een van die vier finaliste in die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Sy het ’n groot indruk op die beoordelaarspan gemaak.

“Ons het haar leer ken as ’n bondel energie met ’n gróót hart vir landbou; iemand wat nie ’n millimeter terugdeins vir ’n uitdaging nie en wat 100% toegewyd is aan wat sy ook al aanpak,” vertel Jeanne Boshoff, Agri Wes-Kaap se kommunikasiebestuurder. “Sy is ’n inspirasie: Sy is ’n jong, vroulike alleenboer op ’n Karoo-plaas en wat sy vermag, maak ons ekstra trots op hierdie meisie van ons. Dit is beslis haar lewenslus en energie wat uitstaan.”

Volgens Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, speel die jongboerkomitee ’n belangrike rol in die organisasie se struktuur. “Wanneer jy na die komiteelede kyk, weet jy die provinsie se landboutoekoms is in goeie hande. Ons is bevoorreg om vir Juanita op die komitee te hê. Haar passie vir boer en die natuur gaan jy moeilik elders kry.

“Die feit dat sy by georganiseerde landbou betrokke geraak het, beklemtoon haar ywer om ’n bydrae te lewer en ’n verskil te maak.”

Meer oor:  Juanita Bellingan  |  Karoo  |  Landbou  |  Roeping  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.