Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nampo Kaap beloof vol en gawe program
Die Nampo Kaap-skouterrein op Bredasdorp in die Overberg. Dié landbouskou word vanjaar vir die tweede keer in die Wes-Kaap aangebied. Foto: Facebook

Dit is vandeesweek ’n bietjie minder as twee maande voor die tweede Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp in die Overberg gaan plaasvind, en die organiseerders is opgewonde om meer oor die propvol program met skougangers te deel.

Dié skou is verlede jaar vir die eerste keer deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC, ’n organisasie sonder winsbejag, op Bredasdorp-park aangebied.

Nampo Kaap beloof om vanjaar groter en beter te wees en spog met altesaam 200 buite-uitstallers sowel as 270 uitstallers in die sale. Dit sluit die vee-uitstalling in.

Die tema vir die 2019-skou is “Winde van vooruitgang”.

Benewens die wye verskeidenheid uitstallers kan besoekers ook uitsien na ’n baie groter Nedbank-blomme-uitstalling met mooi en interessante blomme wat besigtig kan word.

As dit kom by eerstes, is daar vanjaar vele.

Een daarvan is die aanbieding van die opwindende Landbou Boereplanne-kompetisie. Ou en nuwe planmakers word genooi om hul planne en patente vir hierdie kompetisie in te skryf en teen ander slimkoppe mee te ding.

Daar is groot pryse op die spel! Die inskrywingsvorms is op Graan SA se webwerf by grainsa.co.za beskikbaar en die sperdatum vir inskrywings is 26 Augustus.

Vir die vrouebesoekers aan die Nampo Kaap-landbouskou word daar ook voorsorg getref.

Die Media24-vroueprogram beloof om weer ’n treffer te wees, met Kevin Leo wat as gaskunstenaar sal optree.

Hy gaan die vroue op die skou met sang en sy liefde vir kos en kook vermaak. Die volledige vroueprogram sal eersdaags beskikbaar wees.

Aktuele kwessies

Die Nasie in Gesprek-reeks is al ’n gevestigde deel van die Nampo-oesdagprogram in Bothaville, en die besprekings wat op Nampo Kaap vanjaar gaan plaasvind sal boere prikkel om dieper te delf.

Aktuele onderwerpe word daagliks op paneelbesprekings in die soeklig geplaas. Die onderwerpe is gekies om tot landbouers in die Wes-Kaap te spreek.

Dít sluit onder andere sessies oor die Kaap se landboutoekoms, alternatiewe gewasse vir graanprodusente en die wingerd- en vrugtebedryf in.

Die volledige program hiervoor sal ook binnekort op verskeie platforms beskikbaar gemaak word.

4X4, ontbytsessies en vee

Met dié dat die Engen-4x4-baan na die uitstalruimte vir die saadplotte op die skouterrein gaan skuif, word daar vanjaar opwindende demonstrasies deur die onderskeie voertuig-uitstallers aangebied.

Die demonstrasies word daagliks om 10:00 en 14:00 onder streng toesig op die baan gehou.

Die FNB-tent is nog ’n nuutjie op Nampo Kaap. Daar sal ontbytsessies, lesings, aanbiedings en nog vele meer aktiwiteite onder een dak aangebied word. Hierdie aanbiedinge word op ’n nuwe era produsente gefokus en die volledige program is ook eersdaags beskikbaar.

Daarbenewens kan skougangers uitsien na ’n vol en interessante veeprogram in die Voermol-saal daagliks. Dit sluit ’n hoofarena, sowel as verskeie vee-ringe in. Die Agri-Expo-jeugskou, Alpha- kleinvee- en interrasskou, perde- en ponievertonings, sowel as die Overberg- jerseyskou vorm alles deel van hierdie program.

Dít moet jy weet

Nampo Kaap 2019 gaan beslis vanjaar groter wees as verlede jaar se aanbieding en daarom is daar voorsiening gemaak vir meer parkeerruimtes en toegangshekke om dit vir besoekers makliker te maak om toegang tot die skouterrein te kry.

Daar sal ook meer kosstalletjies wees sodat geen besoeker met hongerpyne en droë kele huis toe hoef te gaan nie.

Kaartjies vir Nampo Kaap is reeds op Ticketpro te koop. Diegene wat aanlyn koop, kry R10 afslag op hul kaartjies. Die kaartjies vir volwassenes kos R60 aanlyn en R70 by die feeshekke. Skoolgaande kinders betaal R20.

Die feeshekke open daagliks om 08:00 en sluit om 17:00.

  • Jou kontak: Vir nader besonderhede oor die program, hou grainsa.co.za dop.
Meer oor:  Nampo Kaap  |  Nampo  |  Boere  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.