Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nat, koue weer goed vir wingerd

Die nat, bibberkoue weer wat die afgelope paar weke oor die Wes-Kaap heen voorgekom het, is goeie nuus vir die provinsie se wyndruifboere aldus die wynbedryfsliggaam Vinpro.

Die provinsie se wyndruifboere is tans besig om hul wingerde vir die 2021-wyndruifoes voor te berei en te danke aan ’n koue, nat winter wat in die meeste produksiestreke ervaar is, lyk die vooruitsigte vir die komende oes goed.

“Die gereelde kouefronte wat in die Wes-Kaap voorgekom het, gekenmerk deur lae temperature, reën en sneeu is bevorderlik in terme van wyndruifverbouing,” verduidelik Etienne Terblanche, Vinpro se wingerdkundige, luidens ’n verklaring.

Foto: iStock

Ondergemiddelde minimum temperature is ook langs die Oranjerivier aangeteken – wat die produsente in daardie gebied goed te staan kom.

Hoe werk dit?

Volgens Terblanche is die lae temperature voordelig in terme van die wingerdstok se fisiologie. “Wingerde benodig die akkumulasie van genoegsame koue eenhede in die winter om egalige bot later in die seisoen te verseker. Die koue weer is gunstig om wingerde dormant te hou tydens die winter,” sê hy.

“Teen volgehoue lae temperature is wingerde in staat om in ’n totale rusfase te bly – wat die onnodige besteding van reserwes verhoed. Dié reserwes is broodnodig vir die aanvanklike groei wanneer die weer in die lentemaande opwarm.”

Buiten vir goeie neerslae wat help om grondprofiele en damme vol te maak, lewer sneeu ook ’n belangrike bydrae tot die aanvul van grondwatervlakke.

“Die feit dat dit stadig smelt, verseker diep en behoorlike deurdringing. Soos wat die sneeu smelt, vloei die water tussen krake en rotse in om van die ondergrondse waterreserwes aan te vul wat tydens die onlangse droogte deur boorgate onttrek is,” verduidelik Terblanche.

Die afgelope warm en droë seisoene het tot die verbrakking van baie gronde in droër streke gelei. Hierdie soute kon deur gereelde reënval – en veral ’n hele aantal groot reënbuie – uit die wortelsones geloog word.

Dít is voordelig vir grond- en wingerdgesondheid.

Snoeityd!

Wyndruifprodusente op eie bodem is ook nou hard besig om te snoei ter voorbereiding vir die 2021-wyndruifoes.

Volgens Conrad Schutte, die bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, strek die snoeitydperk gewoonlik vanaf middel Junie vir vroeër kultivars tot middel September vir laat kultivars soos cabernet sauvignon – afhangend van die getal hektare wat ’n produsent moet laat snoei.

“Die algemene reël is: ‘Prune early, prune wood; prune late, prune fruit.’ As jy vroeg snoei, stimuleer jy vegetatiewe groei en as jy laat snoei, stimuleer jy grootliks die oeslading. Dit help ons om die tydsberekening van snoei doeltreffend te bepaal,” sê Schutte.

Raad vir jou, wynboer

As deel van die gereelde “Wingerddinge”-rubriek in die WynLand-tydskrif, deel Vinpro die volgende wenke vir wynboere:

  • Die ideale snoeityd is drie tot vier weke voor die verwagte botdatum. Daar moet in een aksie skoon en stomp gesnoei word. In rypgevoelige areas kan dit met ogieswel gedoen word.
  • Waar botstimulante drie tot vyf weke voor bot toegedien word, word ’n goeie sinergistiese werking verkry indien die snoei (in een aksie) en aanwend van botstimulante so na as moontlik aan mekaar geskied.
  • Gebruik wondsnoeimiddels soos Trichoderma in hoë-reënvalareas – sowel as op kultivars soos sauvignon blanc, wat meer gevoelig vir die wingerdsiekte Eutypa is.
  • Beheer onkruid op die bankie met ’n produk na gelang van die tipe en stand van onkruide.
  • Onder droë wintertoestande en droëlandwingerde, moet dekgewasse verkieslik voor of met bot doodgespuit en dan platgesleep word om die beste droë materiaalbehoud te verseker.
  • Pas die korrekte planttegnieke toe, veral met die maak van die plantgate. Dit verseker ’n suksesvolle vestiging, asook die lewensduur van ’n wingerd.
  • Doen besproeiingstelsel-onderhoud.
  • Beplan die lente-onkruiddoderprogram, asook kunsmis- en spuitprogramme in samewerking met chemiese verteenwoordigers en doen die nodige produkbestellings.
  • Neem altyd die riglyne vir die geïntegreerde produksie van wyn (IPW) in aanmerking.
  • Doen spuitpomp- en kunsmisstrooier-kalibrasies.

Vir meer inligting of bystand deur Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens, besoek vinpro.co.za/viticulture/ of bel Gaynor Fortuin op 021 276 0432; e-pos na gaynor@vinpro.co.za.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Landbou  |  Weervoorspelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.