Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Navorsing oor voeding vir skape nou makliker

Veekunde-navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal voortaan ’n raps makliker, vinniger en meer presies hul studies oor die voeding van skape kan uitvoer.

Dr. Brink van Zyl, hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement veekundige wetenskappe, by die geoutomatiseerde voerstelsel wat by die Welgevallen-proefplaas op Stellenbosch geïnstalleer is. Foto: Engela Duvenage

Dit is danksy ’n gevorderde outomatiese voerstelsel (autofeeder) wat op die US-fakulteit agriwetenskappe se Welgevallen-proefplaas in die Eikestad geïnstalleer is.

BKB het dit aan die universiteit se departement veekundige wetenskappe geskenk. Daarmee kan navorsers presies volg hoeveel voer elke skaap in ’n trop per dag vreet, en wat elkeen se voeromset gedurende ’n proef is.

Dit help veekundiges ook om beter doeltreffendheidstudies te doen en die uitwerking van verskillende diëte op ’n dier akkuraat te bestudeer.

Die sagteware en tegnologie agter die outomatiese voerder is deur ’n Suid-Afrikaanse en ’n Duitse firma ontwerp, en daarna deur BKB oorgekoop. Tot 100 skape kan tans in die demonstrasie-eenheid hanteer word.

Die skenking word beraam op ’n kwartmiljoenrand en sluit ook die gebruik van ’n mobiele outomatiese sorteerder (autosorter) in, waarmee die diere vinnig-vinnig geweeg en gesorteer kan word.

“Dit skep ’n besonderse geleentheid vir die departement veekundige wetenskappe, want hierdie tegnologie word nog nêrens anders in Suid-Afrika op ’n eksperimentele of kommersiële basis gebruik nie,” vertel dr. Brink van Zyl, hoof van die departement.

“Ons gaan dit hoofsaaklik gebruik in proewe wat die intensiewe voeding van skape bekyk.”

Só werk dit

Die toerusting behels ’n plastiekvoerbak met ’n tregter wat bo-op ’n baie fyn gekalibreerde skaal staan. As diere daaruit wil vreet, moet hulle hul koppe deur ’n opening druk – waarom ’n elektriese stelsel geïnstalleer is wat elke dier lees.

Dit het behels dat hulle elke dag met die hand die hoeveelheid voer moes weeg wat vir elke dier uitgesit is.

Dié stelsel “herken” elke proefdier outomaties op grond van ’n geel elektroniese sensor aan hul een oor. Soos wat die voerbak met elke sessie ligter word, registreer die stelsel hoeveel elke dier afsonderlik vreet.

Dit teken ook aan hoe lank en hoe gereeld elke skaap vreet. Ná elke vreetsessie word die inligting outomaties na ’n oorhoofse rekenaarstelsel gestuur, en dan danksy ’n spesiaal ontwikkelde sagtewareprogram tot ’n daaglikse verslag verwerk wat deur die betrokke navorser verder ontleed kan word.

Volgens Van Zyl was dit voorheen tydrowend vir die universiteit se navorsers om inligting oor die voedingspatrone van individuele skape vir hul proefnemings in te samel.

Dit het behels dat hulle elke dag met die hand die hoeveelheid voer moes weeg wat vir elke dier uitgesit is.

Die diere moes ook in aparte kampies aangehou word omdat dit die enigste manier was hoe daar bepaal kon word hoeveel elke skaap self vreet.

“Die nuwe toerusting outomatiseer nie net ons navorsing nie, maar bevorder ook die welstand van die diere in ons proefnemings omdat hulle nou in ’n groter, natuurliker trop aangehou kan word,” reken Van Zyl.

Naspeurbaarheid beter

Hy verduidelik verder dat die harde- en sagteware wat met die stelsel gepaardgaan, ook gebruik sal kan word om die naspeurbaarheid van skape te verbeter.

Dit kan ook aangepas word om ander soorte vee te akkommodeer.

Volgens BKB is dit vir die maatskappy belangrik om in tegnologie te belê wat waarde tot opvoeding, navorsing, hul kliënte en die veebedryf toevoeg. Die eenheid sal navorsing op verskeie gebiede moontlik maak.

Dit sal vir alle rolspelers in die bedryf van groot waarde wees en hulle help met winsgewende produksie in ’n toenemend uitdagende omgewing, aldus die maatskappy.

Elke skaap wat deel van ’n proef is, word outomaties deur die voersisteem “herken” op grond van ’n spesiale merk aan die oor. Foto: Engela Duvenage

Studies beplan

Drie meestersgraadstudente in veekundige wetenskappe aan die US gaan in oorleg met die bedryf die eerstes wees om die toerusting in te span wanneer hulle voerkraalstudies op lammers doen.

Een student gaan kyk hoe vetneerslag by lammers danksy beter voeding gemanipuleer kan word. Sewe verskillende voertipes gaan getoets word om die invloed op vetneerslag van die lammers van Kalahari-dorpers en Karoo-dorpers te bepaal.

’n Tweede student gaan die besparende uitwerking van bioflavonoïede op die aktiwiteit van vitamiene A en vitamiene E in die dieet van voerkraallammers evalueer, terwyl ’n derde student alterna­tiewe dieetproteïenbronne vir voerkraallammers gaan ondersoek.

Volgens Van Zyl word hoëprestasie-skaaptoetsgeriewe tans oorweeg. Verskeie bedryfsvennote het ook reeds hul belangstelling uitgespreek om studies saam met die departement in die nuwe geriewe te doen.

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch (Us)  |  Landbou  |  Skape  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.