Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nederige aartappel skep werk

Aartappelboere op eie bodem het dit oor die afgelope jare nie net reggekry om hul gemiddelde opbrengste te verhoog nie, maar dra ook tot voedselsekerheid by, skep werk en verseker vooruitgang in die land se ekonomie. Dr. André Jooste, uitvoerende hoof van die aartappelprodusenteorganisasie Aartappels Suid-Afrika, vertel meer.

R8 miljard: Die waarde van die primêre aartappelbedryf in Suid-Afrika beloop ongeveer soveel. Foto’s: ISTOCK

Die waarde van die primêre aartappelbedryf in Suid-Afrika beloop ongeveer R8 miljard en dié van die sekondêre bedryf ongeveer R25 miljard.

Die grootte van die aartappeloes het met net meer as 200 miljoen sakke (van 10 kg elk) vir etlike jare sywaarts beweeg. Sedert 2015 beweeg die oesgrootte van aartappels sywaarts tussen 245 miljoen en 250 miljoen (10 kg) sakke, met die uitsondering van 2016 toe die oes ongeveer 215 miljoen sakkies (van 10 kg elk) was as gevolg van ongunstige klimaatsomstandighede.

Die hektare in Suid-Afrika waarop aartappels geplant is, wissel die afgelope tien jaar tussen 50 000 ha en 54 000 ha sywaarts.

Dit is minder as 1% van die grond op eie bodem wat vir landboudoeleindes gebruik word.

Dr. André Jooste, uitvoerende hoof van die aartappelprodusenteorganisasie Aartappels Suid-Afrika.Foto: VERSKAF

Wat beteken dit?

Die verhoogde aartappelproduksie, tesame met die getal aartappelhektare wat sywaarts beweeg, impliseer dat die gemiddelde opbrengste van produsente in Suid-Afrika mettertyd ver­beter het.

Ons aartappelprodusente het die afgelope 20 jaar daarin geslaag om die gemiddelde opbrengste onder besproeiing en droëlandproduksie van 30 ton per hektaar tot 47 ton per hektaar te verhoog.

Die primêre aartappelbedryf is vir tussen 8% en 10% van die werkgeleenthede in Suid-Afrika se primêre landbousektor verantwoordelik.

In baie gevalle is die lone wat aan arbeid in die primêre aartappelbedryf betaal word ’n belangrike lewenslyn vir die voortbestaan van kleiner plattelandse dorpies oor die land heen.

Die uitdagings

Een van die grootste uitdagings wat aartappelprodusente in die gesig staar, is die voortdurende toename in produksie- en bemarkingskoste teen ’n hoër koers as inflasie, terwyl aartappelpryse in reële terme die afgelope de­kade min of meer sywaarts beweeg het.

Sedert 2015 was daar egter ’n stygende neiging in reële aartappelpryse. Dít het saam met die toenemende aartappelverbruik ietwat verligting geskep.

Aartappels Suid-Afrika het doelbewus in verskillende modelle belê om die impak van kostestygings op die aartappel­bedryf te bepaal.

Dit stel ons as ’n organisasie in staat om die impak van byvoorbeeld geadministreerde koste soos brandstof, arbeid en elektrisiteit op die aartappelbedryf aan regeringsinstellings en die georganiseerde landbou te kommunikeer.

Produsente kom eerste

Aartappels Suid-Afrika is verbind tot aartappelprodusente in Suid-Afrika en dien hul beste belange.

Die produsenteorganisasie se aktiwiteite is die direkte uitvloeisel van besluite wat deur aartappelprodusente geneem word, in ’n stelsel van plaaslike vergaderings en komitees waarop hierdie aartappelprodusente dien.

Aartappelprodusente se verbintenis om betrokke te raak by bedryfsaktiwiteite en -strukture ontsluit die waardeproposisie van samehorigheid en same­werking tot hul eie voordeel.

Dit sluit onder meer ’n mededingende voordeel in deur die optimale gebruik van hulpbronne, ’n verenigde stem, geloofwaardigheid en die skep van ’n platform om terug te gee aan die breër gemeenskap, sowel as sigbaarheid in aartappelbedryfskwessies.

Meer oor:  Landbou  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.