Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nisbedrywe is pad vorentoe vir boere

Nie net die landboubedryf nie, maar ook Suid-Afrika en sy landsburgers sal groot voordeel daaruit trek as boere meer op kleiner nisbedrywe begin fokus, aldus die kenners van die landboumaatskappy Laeveld Agrochem. LandbouBurger vertel meer.

Foto: ISTOCK

Verstedeliking neem toe en dit beteken dat baie meer monde kos moet kry.

Kenners reken bykans die helfte van suidelike Afrika se bevolking sal teen 2025 in stede bly.

’n Belangrike tendens wat parallel hiermee loop, is ’n reuseskuif in verbruikerspatrone wat aan ingeligtheid toegeskryf kan word, sowel as bereidwilligheid om ’n premie te betaal vir gesonde kos of kos wat op ’n omgewingsvriende­like wys geproduseer is.

In die lig van die deurslaggewende rol wat landbou in werkskepping en voedselsekerheid speel, is geteikende beleggingsgeleenthede in die sektor belangrik vir die verhoging van volhoubaarheid en produktiwiteit.

Kenners is van mening dat Suid-Afrika enorme voordeel kan trek indien boere meer sou fokus op kleiner nisbedrywe soos makadamias, pekanneute, olywe en bessies – gewasse wat danksy aansienlike markaanvraag puik uitbreidingspotensiaal toon.

Blik op sake

Voedselproduksie is Suid-Afrika se grootste vervaardigingsektor en word hoofsaaklik deur nasionale en multinasionale voedselvervaardigers gedryf. Die plaaslike landbousektor navigeer steeds ’n reeks uitdagings wat die spektrum dek – van erge droogte en beurtkrag tot die verreikende impak van beleidsonsekerheid.

Desnieteenstaande het ’n aantal sektore uitsonderlik goed presteer met die instandhouding sowel as groei van opbrengste.

Ten spyte van hierdie uitdagings het die Buro vir Voedsel-en-landboubeleid (BFAP) in sy 2019-’28-vooruitskouingsverslag die indrukwekkende groei in landbou-uitvoere in die afgelope dekade beklemtoon – ’n tendens wat deur die tuinboukundige sektor ondersteun is.

Luidens die verslag het bedrywe soos sitrus, tafeldruiwe en kernvrugte daarin geslaag om deur toenemende wêreldhandelsvolumes ’n globale voetspoor te skep.

Ten einde ekonomiese sekerheid te behaal, moes baie boere diversifiseer en vernuwend te werk gaan om hul primêre inkomstestrome te ondersteun. Hierdie diversifikasiestrategieë het daartoe gelei dat boere in ander ondernemings in die waardeketting belê. Die rede hiervoor synde die snel veranderende aard van grootskaalse boerdery.

Nisboerdery bevorder

Volgens Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem, is dit belangrik om aktief en op ’n volgehoue grondslag vernuwing in die veranderende landbousektor te stimuleer.

Dié landbou-onderneming werk reeds drie jaar lank daaraan om die nisboerderykonsep en groei te bevorder.

“Ons rol is om te verseker dat elke individuele suksesstorie tot die groter prentjie van voedselsekerheid en die versterking van ons land se landbousektor bydra,” verduidelik hy in ’n verklaring.

Laeveld Agrochem se Nisboere-reeks op VIA (DStv-kanaal 147), waarvan die vyfde seisoen onlangs begin het, het sedert die bekendstelling daarvan ’n blik gewerp op meer as 200 nisboere in onderskeie nisbedrywe.

Die klem van die reeks lê op buitengewone individuele prestasies op meestal klein stukkies grond oor die land heen.

Die reeks neem kykers op ’n reis na nuwe ruimtes en plekke oor die landboukundige landskap van Suid-Afrika, met eindelose vernuftige wenke oor wat op beperkte grond met beperkte kennis en finansies vermag kan word.

Volgens Liebenberg is die fokus van die huidige reeks op die uitbreidingspotensiaal van belowende nisboerdery-gedagtes met die oog op die groei van ondernemings of moontlik die skep van franchise-modelle.

Elkeen van die episodes van die seisoen fokus op een produk en sy pad vanaf die plaas tot op die bord.

“Ek glo nisboerdery sal vir baie mense toenemend ’n toeganklike en voorkeur-voedselproduksiemodel word. My droom is om deur die reeks baie van die suksesvolle projekte met die publiek te deel om volhoubaarheid te verseker en terselfdertyd mense te motiveer.”

Verbruiker se mag, impak

Volgens dr. John Purchase, bestuurshoof van die landbousakekamer AgBiz, vaar Suid-Afrika se bloubessiebedryf besonder goed, met ruimte vir groei in baie ander nissektore.

Volgens Mordor Intelligence-navorsing, sal die wêreldmark vir bloubessies na raming teen 2024, teen ’n jaarlikse saamgestelde groeikoers van 6,7%, op sowat R64 miljard te staan kom. Twee provinsies, naamlik Limpopo en Mpumalanga, sal na verwagting die grootste produksiegebiede wees.

“Mense het meer geld om aan kos te bestee, veral in China. Suid-Afrika is ’n klein speler wanneer dit by sekere kommoditeite kom, maar ons dra beslis by met sekere nisprodukte. Ons moet fokus op dit waarmee ons goed is.

“Landbou is besig om wêreldwyd te verander. ’n Klein landjie soos Nederland is byvoorbeeld die tweede grootste uitvoerder van landbouprodukte in die wêreld, wat bewys dat dit moontlik is om met die nodige fokus en vernuwing die voortou te neem,” sê Purchase.

Meer oor:  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.