Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nuwe klonetuin help boere besluit

’n Innoverende klonetuinprojek wat in die Slanghoekvallei die lig gesien het, poog nie net om wyndruifboere toe te rus om meer ingeligte besluite te neem nie, maar sal hulle uiteindelik ook help om meer winsgewend te boer.

’n Velddag vir wydruifboere is verlede week in Bosman Adama se Breëland-klonetuin in die hartjie van die Slanghoekvallei gehou, waar daar 170 klone van 70 wyndruifkultivars en 18 onderstokproewe geplant is. Die klonetuin is op die wynplaas Breëland self gevestig. Foto: Samantha van den Berg

Die wingerdkwekery en plantverbeteringsorganisasie Bosman Adama se Breëland-klonetuin is op die wynplaas Breëland in die Breedekloof geleë. Volgens Jannie Bosman, kwekerybestuurder by Bosman Adama, word daar al sedert 2016 kommersiële klone van verskillende plantverbeteringsorganisasies in die klonetuin aangeplant, sowel as nuwe klone wat vanuit Frankryk en ander dele van die wêreld ingevoer word.

Die idee vir die projek is gebore uit gesprekke tussen die Bosman Adama-span en wyle Kosie Marais, die eienaar van die Breëland-plaas. Hy het die stuk grond vir die tuin aan die kwekery beskikbaar gemaak.

Die Breëland-klonetuin beslaan altesaam sewe hektaar, bestaan uit 170 klone van 70 wyndruifkultivars en 18 onderstokproewe. Die tuin se eerste wyndruifoes is verlede jaar afgehaal.

Wingerdboere van die omliggende streek is verlede Dinsdag na die plaas uitgenooi om die klonetuin as deel van ’n velddag te besoek, waar die verskillende klone en kultivars besigtig asook geëvalueer kon word. Produsente kon eerstehands die vierjaaroue wingerd en trosse met mekaar vergelyk en proe, en ingeligte besluite met behulp van die Bosman Adama-span oor hul toekomstige wingerdaanplantings maak.

Die ervare kultivar- en klonespesialis Danie van Schalkwyk het ook sy bevindinge op die dag met boere gedeel. Van Schalkwyk was voorheen by die Landbounavorsingsraad betrokke en is in 2018 deur Bosman Adama genader om die klonetuin vanuit ’n onafhanklike perspektief te evalueer en dataverwerking te doen, sodat die inligting direk aan produsente beskikbaar gestel kan word.

Petrus Bosman, uitvoerende bestuurder van Bosman Adama, aan die woord by die velddag verlede Dinsdag.

Bosman het op die velddag gesê dit is vir hom en sy familie ’n voorreg om voort te bou op die sterk fondasie wat daar vir hulle gelê is. “Dit was altyd my pa se droom gewees om topgehalte-wingerdstokke te produseer. Dit is vir ons generasie baie lekker om dit vorentoe te neem en uit te brei – tot waar ons nou vandag is met die klonetuin.”

Die Bosman-familie is al sedert 1888 meester-enters en stokkieskwekers en het in 2014 Distell se plantverbeteringsaanleg op die plaas Ernita naby Wellington bekom.

“Daar was ’n bestaande genepoel van verskeie kultivars en klone wat ons oorgeneem het. Ons het ook ’n klomp nuwe kultivars en klone vanaf 2014 ingevoer – vanuit plekke soos Spanje, Frankryk, Italië, Duitsland en die VSA. Ons is self wingerdboere en weet waar die uitdagings is en waarop ons moet fokus. Daarom oorweeg ons die volhoubaarheid van die kultivars en klone wat ons invoer.”

Wyndruifboere kon gedurende die velddag vierjaaroue wingerd en trosse met mekaar vergelyk en proe.

Bosman meen faktore soos produksie is belangrik wanneer dit by kultivarkeuse kom. Só ook weerstandbiedendheid teen wingerdsiektes soos donsskimmel en witroes.

Die klonetuin is daar om te meet en evalueer – te besluit wat werk en wat nie, en dan ontslae te raak van dit wat nie werk nie. Dít wat werk, aldus Bosman, moet gepromoveer en na die produsente gebring word.

“Die projek is nog in sy babaskoene, maar ons nooi álle boere hierheen uit. Ons wil almal betrokke kry – dit is al hoe mens dit gaan laat werk,” het hy gesê.

“Daar is baie opsies daarbuite, maar ons moet na die marges op ons plase kyk en die wingerddoelwitte wat ons het. Jy moet besluit of die kloon en kultivar by jou wingerddoelwitte pas – en dit moet só deurgaan tot by die kelder. Gaan kyk na wat die markte doen, en hoe dit verander. Hoe het die wetgewing verander – en ons klimaat; dit verander heeltyd. Besluit dan wat in jou omgewing pas.”

  • Vir nader besonderhede, bel Marco Blom, Bosman Adama se bemarker, op 083 441 9802 of besoek hul blad bywww.bosmanadama.co.za.
Die Breëland-klonetuin se eerste oes is verlede jaar afgehaal nadat die tuin amptelik in 2016 op die plaas gevestig is.
Die klonetuin op die Breëland-plaas het ten doel om boere te help om ingeligte besluite te maak en op hul beurt meer winsgewend te boer in ’n bedryf waar die winsmarges al hoe kleiner word.
Meer oor:  Boer  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.