Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Nuwe tegnologie die sleutel tot vooruitgang’

Wes-Kaapse rooivleisprodusente het onlangs op Laingsburg saamgetrek vir die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarvergadering. Hier is ’n uittreksel van die takvoorsitter Louis Wessels se voorsittersverslag.

Die grootste kwessie wat die bedryf in die verslagtydperk die hoof moes bied, was die bekend­making in Januarie vanjaar dat Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor het.

Dít het die meeste rooivleisuitvoere, die uitvoer van huide en velle, wol- en bokhaar-uitvoere, sowel as die uitvoer van genetiese materiaal, oornag tot ’n einde gebring.

Dis ironies dat die RPO juis in Desember verlede jaar versoek het dat die staat se verpligtinge wat bek-en-klouseer-bekamping betref, regstegnies aan hulle uitgespel moet word omdat die RPO in daardie stadium uiters bekommerd oor die stand van bek-en-klouseer was.

Ek wil die RPO gelukwens met die wyse waarop hy die saak in noue samewerking met die Nasionale Diere­gesondheidsforum hanteer.

Verskeie uitvoermarkte is reeds weer geopen, maar ons is uiters bekommerd oor die verbod op die uitvoer van huide, velle en wol na China – dié produkte se grootste mark.

Dit is nou duidelik dat die bedryf in die toekoms diere­gesondheid in samewerking met die staat sal moet hanteer, aangesien die staat alleen bloot nie meer die kapasiteit het nie.

Ons hoop dat die ge­affekteerde sone binnekort aan die internasionale organisasie vir dieregesondheid verklaar sal word en dat dit die eerste stap sal wees om ons bek-en-klouseervrye status terug te kry.

Terugblik

Die 2018-’19-boekjaar sal onthou word as die jaar waar die perfekte storm wat prys­impak betref, plaasgevind het.

Vanweë die land se lae groeikoers en die stygende pryse van brandstof, belasting en energie, sowel as ’n belastingverhoging van 14% tot 15%, is die verbruiker se koopkrag onder ernstige druk.

Dít, tesame met onverantwoordelike uitlatings deur politieke leiers, die droogte en die staking van uitvoere weens die bek-en-klouseer-uitbraak, het veroorsaak dat rooivleispryse vir die grootste gedeelte van die verslagtydperk jaar op jaar verlaag het.

Baie dankie aan al die organisasies vir die hulp wat hulle verleen aan landbouers tydens hierdie droogtetydperk.

Internasionale huidpryse het vanjaar aansienlik gedaal en een van die grootste leerlooierye in Suid-Afrika het sy deure gesluit. Die departement van handel en nywerheid is aan die steun werf vir ’n beleid wat behels dat ’n algehele verbod op die uitvoer van rou beeshuide geplaas word. ’n Heffing van 20% sal van toepassing wees op die uitvoer van semiverwerkte velle in die eerste jaar, en dan 40% vanaf die tweede jaar.

Dit is die RPO se standpunt dat dié beleid die produsent ten sterkste gaan benadeel. Alles is reeds gedoen om dit te vermy. Dít, tesame met die verbod op uitvoere, het stadig maar seker ’n kritiese impak op produsentepryse.

Daarbenewens moet ons ook nie die droogte se impak miskyk nie. Sekere dele van ons provinsie gaan steeds onder die ergste droogte in menseheugenis gebuk.

Baie dankie aan al die organisasies vir die hulp wat hulle verleen aan landbouers tydens hierdie droogtetydperk – veral aan Agri Wes-Kaap vir die koördinering, verkryging en verspreiding van voer.

En die positiewes?

Daar was egter ook positiewe ontwikkelinge in die boekjaar, soos die feit dat die minister van landbou, bosbou en visserye gemagtigdes aangewys het om ingevolge die Vleisveiligheidswet van 2000 inspeksiedienste deur die vleisinspeksieskema te lewer.

’n Adviesforum is in die lewe geroep en al die provinsies, sowel as elke veespesie, word daarop verteenwoordig.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum het ’n voorstel oor die regering se Brusellose­beheerbeleidstuk ter tafel gelê en dié voorstelle word tans deur die departement oorweeg. Verder is ’n groot veldtog tydens die verslagtydperk begin om vleisprodusente op verskeie maniere daarvan bewus te maak dat dit baie belangrik is om hul beeste op die regte tydstip teen brusellose in te ent.

Die rooivleisbedryf steun die departement van landbou, bosbou en visserye ook met ’n aansoek oor die veterinêre prosedurele kennisgewing en die beweging van buffels.

Die hele aksie word gedryf deur die Nasionale Diere­gesondheidsforum, en dit is krities dat die bekendstelling van die stelsel op ’n dringende basis in die bek-en-klouseer-buffersones geïmplementeer en dan verder bekend gestel sal word.

Die RPO is ook opgewonde oor die vordering met die daarstel van ’n opspoorbaarheidstelsel, en die nasionale organisasie het R100 000 bewillig om die stelsel op die been te bring.

Die hele aksie word gedryf deur die Nasionale Diere­gesondheidsforum, en dit is krities dat die bekendstelling van die stelsel op ’n dringende basis in die bek-en-klouseer-buffersones geïmplementeer en dan verder bekend gestel sal word.

Ek bedank die Nasionale Bemarkingsraad graag vir die feit dat die voortsetting van die voorgestelde statutêre heffing vir die rooivleisbedryf vir ’n verdere tydperk van twee jaar tot 4 November 2020 goedgekeur is. Wat die toekoms van dié heffing betref, het die RPO se strategieplanne dit duidelik uitgewys dat die statutêre heffing uitgebrei sal moet word.

Daar is ’n baie groter behoefte aan geld vir produksie­ontwikkeling, verbruikers­opvoeding, navorsing en ontwikkeling asook skakeling as waarvoor tans voorsiening gemaak word.

Pad vorentoe

Daar is reeds goeie vordering gemaak met die strategieplan wat vir die volgende vyf jaar vir ons rigting sal aandui.

Dit berus op vier pilare, naamlik die beleids- en wet­gewende omgewing, ’n volhoubare produksieomgewing en ontwikkelende sektoruitbreiding, die mark­omgewing/verbruikers, én die organisatoriese kapasiteit/finansies en menslike hulpbronne.

Dat ons onsself in die wet­gewende omgewing moet laat geld is vanselfsprekend, want die rooivleisbedryf moet in ’n omgewing van wette en regulasies funksioneer.

Na my mening het die bedryf daarin geslaag om goeie verhoudinge te smee met al die staatsdepartemente wat ’n rol in die bedryf speel.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum moet uitgesonder word vir die goeie werk wat hy doen. Onderstepoort Biologiese Produkte vaar tans baie beter met die beskikbaarheid van entstowwe, hoewel daar nog probleme is.

In die geval van die Rooivleisbedryfsforum was daar drastiese struktuurveranderings en sal ’n toekomstige statutêre heffing deur rol­spelers aangevra moet word.

Meer klem behoort op ontwikkelingsprojekte geplaas te word en die strategieplan het ook vir ons gewys dat die statutêre heffing groter voorsiening vir navorsing en ontwikkeling sal moet maak.

Die RPO werk ook nou saam met ander landbouorganisasies soos Agri SA, TLU SA en die African Farmers’ Association of South Africa, en het ook pas by Agbiz geaffilieer. Die RPO het ook ’n goeie verhouding met die Nasionale Bemarkingsraad en neem aan regeringsinisiatiewe soos Operasie Phakisa deel. Dit is egter ’n realiteit dat die regering nie die nodige kapasiteit het nie en hier kan die statutêre heffing ook ’n verskil maak.

Dieselfde geld die ontwikkeling van uitvoerprotokolle – ’n móét – veral weens die feit dat ná die bek-en-klouseer-uit­breking, dié protokolle op ’n bilaterale basis onderhandel moet word.

Wat die tweede pilaar van die strategieplan betref, is nuwe tegnologie die sleutel tot vooruitgang. Dit is belangrik dat kommersiële én opkomende produsente en landbouwerkers voordeel trek uit voorligtingsdienste en die oordrag van inligting.

Meer klem behoort op ontwikkelingsprojekte geplaas te word en die strategieplan het ook vir ons gewys dat die statutêre heffing groter voorsiening vir navorsing en ontwikkeling sal moet maak.

Daarbenewens bly dit een van ons belangrikste take om die plaaslike verbruiker op te voed. Dit spreek vanself dat dit vir die verbruiker lekker moet wees om Suid-Afrikaanse rooivleis te eet.

Die 42 suksesvolle handelsmerke bewys dat die verbruiker verskeie opsies het om die produk op sy tafel te sit.

Wat die vierde pilaar vir die pad vorentoe betref, bepaal die strategieplan dat die RPO sy ledebasis aansienlik moet uitbou.

Meer oor:  Laingsburg  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.