Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Oes dalk tikkie groter vanjaar

Parstyd in Suid-Afrika is in volle gang, maar was vanjaar in heelwat produksiestreke stadiger uit die blokke vanweë die koeler seisoen. Die koeler weer hou sy uitdagings in, maar dra ook tot uitsonderlike kleur en geur in die 2021-wyndruifoes by, meen die wynbedryfsliggaam Vinpro. Die streekswingerdboukundiges van Vinpro vertel meer:

Parstyd op die Stellenbosse wynlandgoed Simonsig. Foto: ANNERI WASSERMAN/BASQUE IMAGERY

Luidens die jongste oesskatting wat deur die wynbedryf se inligtingsliggaam Sawis en Vinpro in Februarie gedoen is, gaan die 2021-wyndruifoes in hierdie stadium na verwagting ietwat groter wees as in 2020, maar steeds kleiner as die 15-jaar-gemiddelde van 1,37 miljoen ton.

“Die meeste wyndruifverbouingstreke pars vanjaar sowat twee weke later as normaal ná konsekwente koeler weer regdeur die seisoen.

“Van die begin van die groei- en rypwordingsperiode het ons ook geen van die normale hittepieke beleef nie, wat help om sonbrandskade te beperk en geure mooi te behou,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling.

“Met die pars wat soveel later inkom, het meeste van die kelders op hierdie stadium ’n kleiner gedeelte van hul normale druif-inname ontvang. Die volgende oesskatting wat in middel-Maart verwerk en vrygestel word, behoort die tendense rakende die oesgrootte duideliker uit te wys.”

Hiermee meer van Vinpro se wingerdboukundiges oor hoe parstyd in hul onderskeie streke verloop:

Stellenbosch en Kaapse Suidkus, Etienne Terblanche:

“Stellenbosse produsente pars tien tot 14 dae later as gewoonlik as gevolg van die koeler weerstoestande. Sauvignon blanc word ingeneem saam met ’n laaste bietjie pinotage en die geur- en kleurkonsentrasies lyk op hierdie stadium fantasties. In die Kaapse Suidkusstreek, wat reeds ’n koelklimaatgebied is, het die koeler seisoen daartoe gelei dat die wingerde heelwat stadiger uit die blokke was as ander streke.

“Hierdie streek strek egter tot so ver as die Agulhas-driehoek, waar die weerstoestande effens warmer was en produsente reeds kon begin pars. Ná goeie winterreënval lyk die gehalte uitstekend, met goeie sure en die rooi druiwe het veral mooi kleur. Nader aan die Hemel-en-Aardevallei is dit nog te vroeg om iets oor die 2021-oes te sê, maar van die vonkelwynprodusente in Elgin wat reeds gepars het is opgewonde oor die gehalte.”

Olifantsrivier, Gert Engelbrecht:

“Parstyd in die Olifantsrivier is redelik deurmekaar op hierdie stadium. Die relatief koel lente en somer het daartoe bygedra dat die oes gemiddeld sowat twee weke later as normaal ingeneem word.

“Alle kultivars is egter nie regdeur die bank laat nie, wat tot opeenhopings by kelders lei en ons normale parspatroon omvergooi. Die kuns is nou om druiwe teen die regte suiker in die kelder te kry. Aan die positiewe kant het die feit dat die streek nog nie erge hitte beleef het nie, goeie geur- en kleurontwikkeling meegebring.”

Paarl en Swartland, Hanno van Schalkwyk:

“Dit was seker die koelste somer in vyf jaar in die Paarl en Swartland, wat parstyd met tot twee weke aangeskuif het. Chenin blanc en pinotage is in die laaste week van Februarie gepars, met merlot en shiraz wat vanaf begin Maart gereed was. Die druiwe lyk belowend, met mooi geur en kleur.

“Ondanks droë grond wat steeds ’n uitdaging in die wingerd bied – hierdie hoofsaaklik droëlandstreek het geen reënval in Desember of Januarie ontvang nie – help die koeler weer dat die druiwe mooi inkom.”

Robertson en Klein-Karoo, Hennie Visser:

“Produsente in hierdie gebiede pars vanjaar gemiddeld twee tot drie weke later as normaal.

“In die eerste twee weke van Februarie het baie warm weer tot stadiger suiker-akkumulasie gelei, maar ná die matige weer vanaf middel-Februarie het ons weer mooi suikertellings gesien.

“Sauvignon blanc en chardonnay is in die laaste week van Februarie ingeneem, terwyl chenin blanc in die eerste week van Maart in alle erns begin word. Die wingerde is ook gesond met bykans geen vrot nie. Ons kan wel agterkom dat die seisoen begin draai, met koeler oggende en selfs dou wat plek-plek voorkom.”

Worcester en Breedekloof, Pierre Snyman:

“Parstyd is sowat drie weke laat in die Worcester- en Breedekloofstreke, maar reeds goed op dreef. Suikermonitering is vanjaar ’n groot uitdaging, en dit het reeds teen middel-Februarie begin dou – wat ’n verdere demper op rypwording geplaas het. Hiermee saam plaas ’n groot oes ook druk op kelderruimte.”

Noord-Kaap, Conrad Schutte:

“Swaar reënbuie het gedurende Januarie in sekere dele van die Noord-Kaap voorgekom, tesame met bedompige en warm weer wat die voorkoms van swamsiektes soos botrytisvrot en donsskimmel aangevuur het. Dit kan op sy beurt ’n negatiewe uitwerking op trosvolume hê.”

Wat pars jy wanneer

Hier is ’n algemene riglyn, wat kan wissel van streek tot streek, en na gelang van die weersomstandighede, verduidelik Vinpro:

  • Februarie: Chardonnay, pino­-tage, chenin blanc asook sauvignon blanc
  • Begin Maart: Merlot en cinsaut noir
  • Middel-Maart: Colombar en shiraz
  • Einde Maart: Cabernet sauvignon en ruby cabernet
Vinpro sê: Wenke vir parstyd
  • Neem gereeld druiwemonsters om rypwording te monitor.
  • Skakel met jou wynmaker en kelder voor enige blok gepars word.
  • Pars op die koelste tyd van die dag, maar moenie druiwe oornag in die parsbak of -kissie laat nie.
  • Besproei volgens die wingerdbehoefte vir optimale kleur, geur en druifontledings.
  • Indien lowers bo die trossone te dig is, breek blare oordeelkundig vir goeie beligting en deurlugting.
  • Beheer onkruid waar dit in kompetisie kan wees vir water en voeding.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf  |  Wynboer  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.