Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Raak baie wys op streke se inligtingsdae

Wyndruifprodusente en wingerdboukundiges van oor die Wes-Kaap heen word genooi om vanaf volgende week een van Winetech en die wynbedryfsliggaam Vinpro se streeksinligtingsdae by te woon om meer oor die jongste wingerdtendense te leer.

Foto: iStock

Dié inligtingsdae word vanaf eerskomende Dinsdag tot 3 Ok­tober in die onderskeie wyndruifverbouingstreke in die provinsie gehou, en belangrike en bruik­bare raad sal gedeel word.

Boere in Robertson, Worcester en die Paarl sal by Vinpro-kundiges meer kan hoor oor die lesse wat Suid-Afrika van Australië kan leer wat betref nuwe wingerdtegnologie, ontwikkelinge en implemente, asook oor tradisionele grondbestuursbeginsels, lui ’n verklaring.

Volgens Vinpro sal elke inligtingsdag temas relevant tot die spesifieke streek dek. Hierdie temas sluit onder meer in doeltreffende waterverbruik en die instandhouding van besproeiingstelsels in die Paarl en Swart­land, die verklaring van sei­soentendense in die Robertson-streek, sowel as die samestelling en kostebestuur van ’n goeie chemiese spuitprogram en praktyke wat die grondgesondheid in die Worcester- en Breedekloof-gebied kan verbeter.

Die sprekers by die inligtingsdag vir Stellenbosch sal weer wêreldwye tendense in organiese en biodinamiese wynmarkte ondersoek, goeie mierbestuur­praktyke hersien, grondanalises ten opsigte van fosfaat interpreteer én ’n oorsig gee wat die gebruik van deklaag en nematodes as indikators vir grondgesondheid betref.

Met die aanvang van lente sal kenners in die Olifantsrivier­gebied ’n strategie vir lente­besproeiing met boere dáár bespreek ten einde optimale wortelgroei te verseker. Daar­benewens sal onderwerpe soos die hervestiging van wingerd in die konteks van netelblaarvirus op die vergadering onder die loep kom, sowel as die ogie­gesondheid van die wingerd ten opsigte van knopmyt, oogvrugbaarheid en die invloed van primêre oognekrose op produksie.

Die streeksinligtingsdae word op die volgende datums gehou:

  • 17 September: Nelson-wynlandgoed, die Paarl;
  • 19 September: Hazendal-wynplaas, Stellenbosch;
  • 25 September: Agri-Expo-saal, Robertson;
  • 26 September: Rooms with a View, Vredendal; en
  • 3 Oktober: Dasbosch-kelder, Rawsonville.

Benewens die reeks aanbiedings, ontvang elke persoon wat die inligtingsdae bywoon ’n gratis eksemplaar van die boek Soil Preparation for Sustainable Wine and Table Grap­e Vine­yards. Dié boek is deur die bekende grondkenners drs. Johan van Zyl en Eduard Hoffman saamgestel, en deur Winetech, die landboumaatskappy Villa en die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf uitgereik. (Lees meer oor hierdie boek op bl. 8.)

Wat moet jy weet?

Die koste vir die onderskeie inligtingsdae wissel tussen R150 en R270 per persoon. Om die volledige program te besigtig en te registreer, besoek www.sales.vinpro.co.za. Vir nader besonderhede, bel Gaynor Fortuin by 021 276 0432 of stuur e-pos na gaynor@vinpro.co.za.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.