Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Registreer vir Siyabonga-dag

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf beleef tans ongekende uitdagings, maar laagtepunte bied dikwels ook geleenthede vir groei.

Dít is die tema van Agri-Expo se eerste Siyabonga-dag vir 2021, wat volg op die sukses van hul eerste drie Siyabonga-dae wat verlede jaar aangebied is. Die Wellington-dag word volgende Woensdag by die Thokozani-konferensiesentrum op die landgoed Diemersfontein gehou, maar word regstreeks uitgesaai sodat landbouers en aspirantboere van oraloor kan deelneem.

Kelsey Shungking

Wat kan jy verwag?

Siyabonga skep ’n innoverende platform vir die landbougemeenskap om saam te kan gesels oor uitdagings én geleenthede in die bedryf, sê Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo, in ’n verklaring.

“Die Siyabonga-dae gee basiese landbou-inligting deur in ’n unieke formaat waar landbouers ’n platform met kenners in die bedryf deel, die geleentheid kry om vrae te vra en sodoende hul kennis verbreed om uiteindelik meer produktief te wees.”

Volgens Milford is die woord “Siyabonga”, wat dankie beteken, ook ’n akroniem vir “Sharing Information to im­prove Yields in Agriculture for a Better-Off Next Generation of Agriculturalists”.

“Ons programinhoud fokus op sleutelfaktore wat die landboubedryf kan versterk, waaronder die betrokkenheid van vroue, geleenthede vir jong mense, bemagtiging, asook alternatiewe maniere van dink en doen.”

Wendy Petersen

Die program

Vier kundiges sal tydens die Wellington Siyabonga-dag raad en insig oor bemagtiging in die bedryf, asook oor geleenthede vir vroue en jong mense deel:

  • Die veelbekroonde Denise Stubbs, besturende direkteur van Thokozani Wines, sal gesels oor transformasie in die bedryf. Thokozani Staff Holdings, ’n bemagtigingsonderneming wat deur 65 werknemers van Diemersfontein besit word, het onlangs die meerderheidsaandeelhouer van die Diemersfontein-handelsmerk geword.
  • Wendy Petersen, operasionele bestuurder van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se transformasie-eenheid (Sawitu), sal ’n toekomsvisie vir ’n inklusiewe bedryf deel. Petersen het meer as 27 jaar ervaring in die wynbedryf. By Sawitu fokus sy daarop dat ondernemings en boerderye in swart besit die nodige mentorskap, finansiering, bemarking en tegniese ondersteuning ontvang om te verseker dat hul ondernemings volhoubaar is.
  • Inspirasie kom van die 24-jarige Kelsey Shungking, wat die afgelope drie jaar ’n protégé is van die Kaapse Wynmakersgilde. Shungking, wat tans ’n internskap by Mullineux & Leeu Family Wines doen, sal gesels oor haar ervaring van geleenthede vir vrouewynmakers.
  • Brenton Maarman, dosent in wingerd- en wynkunde by die Elsenburg-landboukollege, sal fokus op opleiding- en loopbaangeleenthede vir jong mense. Maarman was in 2011 ’n ontvanger van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-beurs as BSc-student in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch – waar hy ook ’n meestersgraad verwerf het.

Dít moet jy weet

Die Siyabonga-dae word met die ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van landbou aangebied.

“As die Wes-Kaapse departement van landbou wil ons graag die nodige ondersteuning aan ons boere bied om produktiwiteit te verbeter en voedselsekerheid te verseker,” sê dr. Mogale Sebopetsa, die departementshoof. “Die landbousektor is die sonskynsektor wat die sleutel is tot die ekonomiese herstel van nie net die Wes-Kaap nie, maar ook vir Suid-Afrika.

“Die Siyabonga-dae skep dus ’n ideale platform om meer mense met hierdie boodskap te bereik.”

Slegs ’n beperkte getal persone kan die geleentheid op die dag weens Covid-19-regulasies bywoon, maar belangstellendes kan van 10:00 tot 13:00 gratis aanlyn inskakel deur op www.siyabongadays.co.za te gaan registreer.

Die program word in Engels aangebied, maar vrae kan ook in Afrikaans gestel word. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.­co.za.

Meer oor:  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.