Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Rooskleurige’ vooruitsigte vir meeste streke

Ondanks die uitdagende toestande wat nog in sekere wynboustreke voortduur, lyk dit of wynboere op eie bodem vanjaar na verwagting ’n tikkie meer wyndruiwe as verlede jaar gaan afhaal te danke aan genoeg water en ’n matige rypwordingstydperk op sekere plekke.

Die wynoes vir 2020 gaan egter steeds kleiner wees as die gemiddelde oes die afgelope vyf jaar, luidens die bedryf se tweede oesskatting vir die seisoen.

Foto: ISTOCK

Wynkelders en wingerdkundiges het middel Januarie hul jongste oesskattings ingedien, lui ’n verklaring wat Maandag deur die wynbedryfsliggaam Vinpro uitgereik is. Die 2020-parsseisoen in die land se wynboustreke het vanjaar oor die algemeen ’n week vroeër begin. Die eerste oesskatting vir die seisoen is in Desember verlede jaar uitgereik.

Volgens die Suid-Afrikaanse wynbedryf se inligtingsorganisasie Sawis het wyndruifboere verlede jaar ’n oes van 1,244 miljoen ton gehad. Die gemiddelde oor die afgelope vyf jaar beloop weer 1,360 miljoen ton.

Conrad Schutte, die bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, meen die redes vir die jongste oesskatting sluit ’n verskeidenheid faktore in. Schutte was ’n spreker op die jaarlikse Nedbank Vinpro-inligtingsdag in Kaapstad verlede Donderdag.

“Blom en set was oor die algemeen goed en ’n verbetering op wat ons in die vorige seisoen gesien het. Genoegsame water en hitte het wingerdgroei bevorder en die wingerde se lowers is daartoe in staat om ’n goeie oes ryp te maak. Deurslaan was vroeg, vinnig en egalig,” het Schutte gesê.

Die somergroei-toestande is vanjaar oor die algemeen koel en gematig, en wynboere het dié seisoen ook meer water tot hul beskikking in vergelyking met verlede jaar. Dit beteken dat daar gedurende die rypwordingsfase besproei kan word indien nodig, aldus Schutte.

Hy voer aan dat hoewel dinge op hierdie stadium meer rooskleurig vir die meeste streke daar uitsien, dit nie oral die geval is nie. Die Noord-Kaap het grootskaalse rypskade ondervind, die Olifantsrivierstreek herstel steeds ná die vorige jare se droogte en dele van die Klein-Karoo gaan nog gebuk onder erge droogtetoestande.

In hierdie streke word daar vanjaar ondergemiddelde oeste verwag. “Ons sien in die kelders wat reeds begin pars het, dat hulle goeie tonnemate afgehaal het en dat die druiwe mooi kleur, hoë sure en lae pH’s het.”

Hy raai produsente aan om baie tyd gedurende parstyd in die wingerd te bestee, om trosmonsters te neem en grondwaterinhoud vir doeltreffende watertoediening te meet.

  • Moenie die LandbouBurger op 14 Februarie misloop nie: Daar’s ’n spesiale fokus op wingerd en wynbou en ’n volledige verslag oor die Nedbank Vinpro-inligtingsdag.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.