Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SA sitrus wêreldwyd gewilder

Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf beleef ongekende groei en ons sitrusvrugte is oor die wêreld heen in groot aanvraag. Daarbenewens lewer ons boere ook net rekordoes op rekordoes. Justin Chadwick vertel meer.

Foto’s: pixabay

Europeërs eet in die algemeen gedurende die wintermaande sitrusvrugte.

Net in die Europese Unie (EU) alleen, vind altesaam 70% van die jaarlikse sitrusverkope in die winter plaas – ’n tyd wanneer oestyd vir sitrus in die Noordelike Halfrond in volle gang is.

Dít is omdat Europese verbruikers sitrus met die winter assosieer. Hulle ag dit ook belangrik as ’n kuur vir verkoues en griep vanweë die vitamien C wat hierdie vrugte bevat, sowel as die hupstoot wat dit jou immuunstelsel gee.

Dít was egter slegs die geval totdat die Covid-19-pandemie verlede jaar alles kom verander het. Europese verbruikers wou toe heel jaar lank toegang tot die vrugte hê, ten einde meer vitamien C in te kry en hul immuunstelsels ’n hupstoot te gee.

Dit was ook die geval in Amerika, sowel as Kanada.

Hierdie verhoogde vraag het weer op sy beurt veroorsaak dat die sitrusbedrywe in die Suidelike Halfrond aansienlike volumes sitrus na Europa uitgevoer het verlede jaar.

Op eie bodem het dit ook gelei tot ons rekorduitvoer van altesaam 146 miljoen kartonne sitrus. eSwatini en Zimbabwe het altesaam sowat 4 miljoen kartonne sitrus uitgevoer, en saam het dit die sitrusuitvoer vanuit Suider-Afrika op 150 miljoen kartonne sitrus vir die jaar te staan gebring. In die kristalbalWat die komende produksiejaar betref, wil baie mense weet of hierdie tendens sal voortduur.

Hoewel sitrusverkope in die Noordelike Halfrond goed was, het dit egter nie soveel toegeneem soos in die Suidelike Halfrond nie – moontlik omdat die Europese verbruikers reeds soveel sitrus in die winter koop en eet. Die sitrusuitvoerders in Suider-Afrika hoop dat die verhoogde vraag na sitrus in die buiteland sal voortduur.

Die sitrusuitvoeroes vanuit Suider-Afrika word vanjaar op altesaam 163 miljoen kartonne sitrus geraam – 158,7 miljoen vanuit Suid-Afrika alleen en sowat 4,4 miljoen kartonne vanuit eSwatini en Zimbabwe.Sitrus maak ’n verskil Die positiewe groei wat ons sitrusbedryf beleef, skep broodnodige werkgeleenthede en landelike ontwikkeling oor die land heen – maar veral in plekke soos Limpopo en die Oos-Kaap.

Die werkgeleenthede wat sitrusplase en pakstore skep word op meer as 120 000 geraam. Daarbenewens word daar nog baie meer mense in die ander sektore van die bedryf in diens geneem, soos vervoer, hawens, koelstore, inspeksiedienste, verpakking, insetverskaffing en die instandhouding van voertuie, implemente en ander masjinerie.

Baie dorpe en nedersettings in die landelike gebiede van Suid-Afrika maak op die sitrusbedryf staat om ’n bestaan te voer.

Geld rol in In 2019 alleen het die sitrusbedryf op eie bodem altesaam R20 miljard in buitelandse valuta verdien. (Die syfers vir 2020 word nog gefinaliseer.)

Vooruitskattings dui daarop dat die groei in die sitrusbedryf waarskynlik nog vir die volgende tien jaar gaan voortduur.

Nuwe boordaanplantings vir veral suurlemoene en sagte sitrus bereik nou volwassenheid, en hierdie boorde sal aanhou groei in terme van opbrengste op mediumtermyn.

Hierdie inligting word met alle waardekettinghouers in die sitrusbedryf gedeel. Goeie beplanning is nodig om dié toekomstige volumes sitrus te verskeep en bemark. Oë op EuropaDie Europese Unie bly ’n gunstelingbestemming vir Suid-Afrikaanse sitrusprodukte. Altesaam 45% van ons totale sitrusuitvoer word deur die Europese Unie ingevoer.

In streekterme, kom die Midde-Ooste tweede met sowat 20%. Die grootste groeigebied vir ons sitrus is egter Asië, waar die volumes nou besig is om nader aan dié van die Midde-Ooste te kom.

Volgehoue groei in ons sitrusbedryf hang van die volgende af: Tesame met die verhoogde aanbod van Suid-Afrikaanse sitrus, moet ons toegang kry tot nuwe markte en die toegangsvoorwaardes vir die bestaande markte optimaliseer.

Dit is op hierdie gebied waar die regering en die sitrusbedryf nouer moet saamwerk.

Suid-Afrikaanse sitrusboere belê baie geld in navorsing, wat die regering toerus om beter toegangsvoorwaardes vir hierdie markte te gaan onderhandel. Laaste sê Die goeie nuus vir die 2021-produksiejaar is die feit dat die finale administratiewe proses vir toegang tot die Filippyne voltooi is, en die eerste vraghouers Suid-Afrikaanse sitrus gaan vanjaar nog na Manila verskeep word.

Dit is uiters belangrik dat ons groter toegang tot Amerika kry – dít veral na ’n onaanvaarbare vertraging in die hele proses. Die aangepaste China-protokol vir suurlemoene sal weer broodnodige markgeleenthede skep.

Dan is daar ook prosesse aan die gang om toegang tot Viëtnam te bewerkstellig, en die toegangsvoorwaardes vir Indië aan te pas – sowel as ’n verandering in die Japannese protokol waarvoor ons só lank gewag het.

’n Goed toegeruste navorsingspan vir die bedryf met die nodige hulpbronne, sowel as ’n vinnige en selfgeldende regering is nodig om hierdie marktoegangveranderinge te weeg te bring.

Net so belangrik vir marktoegang is ons logistieke ketting se vermoë om die vrugte vanaf die produksiegebiede na die hawens te vervoer, en ons hawens se vermoë om die inkomende vrugtevolumes te hanteer, dit gelaai te kry en die nodige verskepingsgeleenthede daar te stel om die vrugte by die markte te kry.

Daar vind tans baie beplanning plaas, en almal is goed bewus van die werk wat vir ons voorlê.

Daar is ernstige werk wat gedoen moet word om groot volumes sitrus per trein vanuit die noorde van Durban te vervoer, ten einde die verkeersdruk gedurende seisoentyd te verlig en die vragmotorverkeer op ons padinfrastruktuur te verminder.

Daarbenewens moet daar ook in hawetoerusting en beter doeltreffendheid belê word om hierdie groter sitrusvolumes te hanteer.

Gelukkig is Transnet en die sitrusbedryf reeds in gesprek met mekaar, besig om planne te maak om die 2021-sitrusoes te hanteer.

  • Chadwick is die uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika.
Meer oor:  Sitrus  |  Sitrusbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.