Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sauvignon blanc se 10 bestes binnekort bekend

Altesaam 183 wyne ding vanjaar mee in die 2019 FNB Sauvignon Blanc Top-10-kompetisie, en volgens die beoordelaars was dit veral die gehalte van die houtverouderde witwyne wat hierdie keer uitgestaan het.

Foto: iStock

Die kompetisie word vanjaar vir die agtste agtereenvolgende jaar gehou as ’n vennootskap tussen FNB en Sauvignon Blanc Suid-Afrika. Die top-20-finaliste word later vandeesmaand aangekondig, waarna die tien beste wyne op 9 Oktober op ’n galadinee in Kaapstad aangewys word.

Die inskrywings is aan die begin van die maand oor drie dae op die wynlandgoed Kleine Zalze in Stellenbosch beoordeel.

107 wynprodusente het vanjaar wyne vir die kompetisie ingeskryf. Verlede jaar was daar 177 inskrywings.

“Daar was vanjaar weer ongekende ondersteuning vir die kompetisie. Die oesjare het van 2016 tot 2019 gedek en het weer geïllustreer hoe goed sauvignon blanc kan verouder,” het dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en die sameroeper van die beoordelaarspaneel, na afloop van die beoordeling in ’n verklaring gesê. “Van die totale inskrywings was 29 houtverouderd. Die paneel was baie beïndruk met die toename in die getal inskrywings vir houtverouderde wyne, veral omdat hout gebruik is om tekstuur en kompleksiteit te verleen – sonder om die vars en tipiese variëteitgeure te oorheers.”

Volgens Bowman het die droogte ’n groot invloed gehad – veral op die verouderingsmoontlikhede van sekere wyne wat in die moeilike oesjare gemaak is.

“Die 2019-oesjaar was egter uitsonderlik vir die variëteit en veral houtverouderde wyne het hier uitgeblink.”

Benewens Bowman was die wynmaker Charles Hopkins (De Grendel), dr. Carien Coetzee (Basic Wine), Fiona McDonald (beoordelaar en skrywer) en Wilhelm Pienaar (Hermanuspietersfontein) op die paneel. Ben Snyman, Chandre Petersen, Morgan Steyn en Rudger van Wyk was die aspirant-beoordelaars.

Hopkins het ook die gehalte van die houtverouderde wyne, sowel as die wyninskrywings van die 2017-oesjaar se uitmuntendheid uitgelig.

Volgens RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc Suid-Afrika, is sauvignon blanc ’n sleutel-variëteit vir Suid-Afrika. “Dit is slegs moontlik om sy uitmuntendheid plaaslik en internasionaal te bevorder deur langtermynverhoudings en ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat FNB ons bied.”

Vanjaar se top-10-kompetisie word opgevolg deur ’n tegniese seminaar op 20 November in Franschhoek. Besoek www.sauvignonblanc.com vir meer.

Het jy geweet?

Sauvignon blanc is die derde grootste witdruif-aanplanting in die Kaapse Wynlande en een van die grootste in die Nuwe Wêreld-wynlande.

Meer oor:  Sauvignon Blanc  |  Wynplaas  |  Wyn  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.