Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sitrus transformeer al fluks
Foto: PEXELS

Swart boere in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf het in die 2019-’20-produksieseisoen soet sukses beleef, met ’n produksietoename van 40% binne net 12 maande.

Volgens die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het ’n hele aantal plase en swart produsente hul uitset met meer as 40 000 kartonne sitrus verhoog.

Een sitrusboer het sy produksie met 99 000 kartonne in een jaar verhoog, lui ’n verklaring wat die vereniging saam met sy kwekerontwikkelingsmaatskappy (CGA GDC) uitgereik het.

Transformasie en inklusiwiteit is een van die fundamentele doelstellings van die formele sitrusbedryf.

Volgens die vereniging dui die rekorduitvoeroeste ook daarop dat swart sitrusboere plaaslik sedert 2019 55% meer sitrus aan die plaaslike markte gelewer het.

“Swart sitrusboere het verlede jaar meer as 400 000 kartonne vrugte aan Suid-Afrikaanse kruidenierswinkels en supermarkte gelewer. Daarbenewens voer 75% van alle swart sitrusboere op eie bodem hul vrugte na die wêreldmarkte uit,” sê die vereniging.

Volgens Lukhanyo Nkombisa, hoofbestuurder van die CGA GDC, kan hierdie sukses toegeskryf word aan die werk wat daar oor die laaste tien jaar in die bedryf gedoen is.

“Die sitrusbedryf het meer as tien jaar daaraan bestee om strukture te skep soos die Ontwikkelingskamer vir Sitruskwekers, om die CGA GDC by te staan, te lei en advies te gee oor die behoeftes van swart sitrusboere sodat ons die steun kan bied wat hierdie boere nodig het om te floreer.

“Die ontwikkelingskamer word deur swart produsente bestuur wat verseker dat die sitrusbedryf daartoe verbind is om inisiatiewe te steun wat tot ’n inklusiewe sitrusbedryf sal lei, met ’n goeie transformasie-agenda.”

Bystand gelewer

Die CGA GDC help om swart sitrusprodusente te vestig en bemagtig deur bystand te lewer met die volgende:

  • Produksie-infrastruktuur soos besproeiing, meganisasie, geboue en strukture, sowel as algemene plaastoerusting;
  • Tegniese ondersteuning, sowel as ondersteuning met sakebestuur sodat die boere die kommersialisering van hul vrugte in Suid-Afrikaanse winkels kan realiseer; en
  • Hulp om aan al die nodige regulatoriese vereistes te voldoen om geakkrediteerde uitvoerders te word.

Volgens Nkombisa word hierdie transformasie-inisiatiewe gedeeltelik moontlik gemaak deur die nuwe statutêre heffing vir sitrusuitvoer wat einde verlede jaar deur Thoko Didiza, minister van landbou, goedgekeur is.

40% Die persentasie toename in swart sitrusboere op eie bodem se sitrusproduksie in die afgelope jaar.

Die heffing sal oor die volgende vier jaar deur 1 250 sitrusboere gefinansier word en 20% van die nuwe heffing sal aan die ontwikkeling van swart boere toegeken gaan word.

Hierdie geld gaan in die sitruskwekersvereniging se vierjaarplan vir transformasie belê word.

Die plan word vanjaar in werking gestel en sal op die volgende fokus:

  • Programme vir sake- en verskaffer-ontwikkeling;
  • Vaardigheidsontwikkelingsprogramme vir swart boere;
  • Sosiaal-maatskaplike ontwikkelingsprogramme in landelike gemeenskappe;
  • Ondersteuning om volhoubare groei in ondernemings in swart besit te verseker; en
  • Om meer swart produsente in die bedryf se leierskapsposisies te plaas.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.