Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Só bedreig weer graanbedryf

Om op jou tande te kners en grys te word van bekommernis was aan die orde van die dag vir boere gedurende die 2019-graanseisoen in die Wes-Kaap.

Daar was min reën en dit was die tweede warmste jaar tot nog toe op rekord – alles faktore wat tot ’n moeilike seisoen vir wintergraanprodusente bygedra het.

Luidens die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) se jongste verslag was die gemiddelde temperatuur oor die wêreld heen verlede jaar 1,1 °C hoër as die temperature gemeet voor die nywerheidsrevolusie. Die warmste jaar in die geskiedenis was tot dusver 2016 gewees.

Die uitwerking van die onvoorspelbare – veral ten opsigte van die klimaat – het tot onvoorsiene omstandighede in die landboubedryf gelei.

graan
Foto: ISTOCK

Internasionale oorsig

Die onvoorspelbare weersomstandighede wat deesdae heers het ’n uitwerking oor die wêreld heen.

In die eerste grafiek het ek koringproduksie as maatstaf gebruik om te bepaal watter uitwerking die weer op die onderskeie kontinente gehad het.

Ek het 2015 se produksiesyfers as 100%-basis gebruik en die daaropvolgende jare se produksie daarmee vergelyk. In die grafiek kan jy sien dat Europa en Oseanië (Australië, Nieu-Seeland en Papoea-Nieu-Guinee) ’n afname in produksie beleef het, terwyl die ander kontinente groei aangeteken het.

Die wêreldproduksie van koring het in 2015 vanaf 947,26 miljoen ton met 8% tot die huidige 1,026 miljard ton koring toegeneem, alhoewel die verbruik vanaf 2015 (720,41 miljoen ton) met net 5% tot 755,86 miljoen ton gegroei het.

Die eindvoorraad-koring het oor dieselfde tydperk vanaf 226,85 miljoen ton na 270,98 miljoen ton koring gegroei.

Gedurende hierdie tydperk was daar klimaatuitdagings oor die wêreld heen, soos byvoorbeeld die vloede in Suid-Amerika, die droogte in Australië en die hittegolf wat die lande in die Europese Unie getref het.

Deeglike beplanning moet nou al gedoen word en produsente moet hulself voorberei vir nóg sulke uitdagende seisoene.

Op eie bodem

Die 2019-graanseisoen op eie bodem was die swakste seisoen nóg in meer as 15 jaar.

Hoewel die seisoen met goeie reëns afgeskop en die omstandighede belowend gelyk het, het die onvoorspelbare weerpatrone uiteindelik die begin van ’n goeie seisoen gepootjie.

Die uitwerking van die droogte in Suid-Afrika was aansienlik groter op ’n persentasiebasis as in Oseanië en in Europa.

My tweede grafiek gebruik dieselfde inligting as grafiek een maar bevat net die Suid-Afrikaanse produksiesyfers.

Koring het die hardste hou op die kakebeen weg gedurende die 2019-produksieseisoen, met ’n afname van 34% in vergelyking met die 2015-seisoen. Dit is ook só te sê 50% minder as die 2018-seisoen.

Gars het gestruikel, maar kon darem nog kop bo water hou met ’n 27%-produksie­afname in vergelyking met die 2015-seisoen. In vergeleke met die 2018-seisoen, het garsproduksie weer ’n 48%-afname getoon.

Ek moet net ter wille van billikheid meld dat die 2018-seisoen ’n uitskietjaar vir garsproduksie in Suid-Afrika was.

Kanola, weer, het positief beïndruk deur die kleinste produksieverliese te hê tydens die droogste seisoen in jare. Kanola het verlede jaar slegs 1% verswak in vergeleke met die 2015-seisoen, terwyl die produksie met 8% afgeneem het as jy dit met die 2018-seisoen vergelyk.

Om die skade van die droogte op koring, gars en kanola te kwantifiseer, het ek die gemiddelde Desember-kontrakprys gebruik om die waarde daarvan te bepaal.

Die totale verliese wat die graanbedryf op plaaslike vlak gely het – met die gepaardgaande droogte verlede jaar – beloop R2,5 miljard.

Die finansiële omvang van die droogte is aansienlik groter as ’n mens ook die ander sektore se produksieafnames en verliese in ag neem.

Die laaste sê

Die uitwerking wat die onvoorspelbare op ons bedryf het, kan net groter word in die toekoms.

Die WMO se sekretaris-generaal, Petteri Taalas, verwag ekstreme weersomstandighede in 2020, asook in die daaropvolgende seisoene vanweë kweekhuisgasse wat rekordvlakke kan bereik.

Die onvoorspelbare weerpatrone het ’n definitiewe uitwerking op voedselsekerheid.

Deeglike beplanning moet nou al gedoen word en produsente moet hulself voorberei vir nóg sulke uitdagende seisoene sodat hulle nie onkant daardeur betrap word nie.

Op die ou end is dit nie die graanboer wat die meeste tonne stroop wat ’n droogte oorleef nie, maar eerder die produsent wat sy graan die goedkoopste kan produseer.

Klimaatuitdagings kom oor die wêreld heen voor en vloede, droogtes en hittegolwe gaan al hoe meer begin kop uitsteek.

Die WMO voorspel dat temperature tussen 3 °C en 5 °C kan styg, indien daar nie drasties opgetree word om die vrylating van skadelike gasse te verminder nie.

  • Schutte is ’n junior ekonoom vir Graan SA in die Paarl.
Meer oor:  Wes-Kaap  |  Weer  |  Graanbedryf  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.