Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Só brei hy vrugtemandjie uit

Louw de Wet is die sesde geslag van die familie De Wet wat op die plaas Retreat in die Robertson-omgewing boer. As die jongste toevoeging tot sy boerdery se vrugtemandjie het hy in 2016 met draakvrugte (dragon fruit) – of vuurvrugte, soos hy dit noem – begin eksperimenteer. Tisha Steyn het met hom gesels oor sy vooruitsigte vir dié interessante subtropiese vrug wat stadigaan op eie bodem vlamvat.

sitrus
Louw de Wet, van die plaas Retreat by Robertson, het in Januarie 2016 met draakvrugte begin boer.

‘Die plaas Retreat het in 1854 in my familie se besit gekom. My pa het sy hele lewe hier gebly en ek het ook hier grootgeword,” vertel De Wet. Hy was in die Twee Valleien Privaatskool en het in 2007 aan die Hoër Tegniese Skool Drostdy op Worcester gematrikuleer.

Hy het in 2010, ná drie jaar aan die Universiteit Stellenbosch waar hy BAgric (Admin) gestudeer en sy graad verwerf het, plaas toe gekom. Hy en sy vrou, Alinda, is nou sowat vyf jaar getroud en hulle het twee kinders: Iscah, drie en ’n half jaar oud, en Jac (20 maande).

Blik op boerdery

Retreat Agriculture bestaan uit vier produksie-eenhede wat deur die jare aangekoop is. Daar is sowat 150 ha se permanente aanplantings wat onder meer uit appelkose en perskes bestaan, en hoofsaaklik vir inmaak bestem is.

Daarbenewens word wyndruiwe verbou wat aan twee produsentekelders in die omgewing gelewer word. Die boerdery beskik ook oor ’n sitrusvertakking wat De Wet na aan die hart lê, en wat uitgebrei word.

Kwepers en pere word ook verbou met die doel om hoëwaardevrugte te produseer wat die boerdery se permanente werkers met die hand kan oes.

“Ek het reeds in 2010 besef dat veranderings of aanpassings aan die bestaande vrugtevertakkings nodig is om ons vrugtemandjie uit te brei. As prysnemer is ’n produsent uitgelewer aan druk van alle kante af, want jy het geen ander keuse as om die prys wat aangebied word, te aanvaar nie.

“Dis skeefgetrek, want sonder die primêre produsent is daar nie ’n produk nie – tog trek jy aan die kortste ent. Dit kan menige produsent wat op ’n kleiner skaal of met die verkeerde mandjie boer, se ondergang beteken,” verduidelik hy.

“Dit was vir ons duidelik dat ons na nuwe, meer winsgewende vertakkings sal moet kyk om te oorleef. My pa was in 1995 een van die eerste boere wat sitrus in die omgewing geplant het, maar ons het eers vanaf 2011 die sitrusmandjie verder begin ontwikkel en sover moontlik met eie kapitaal uitgebrei.”

Voordat De Wet op draakvrugte besluit het, het hy ook ander moontlikhede soos amandels en bloubessies ondersoek.

Weens die feit dat amandels baie water nodig het en bloubessies se insetkoste baie hoog is, was dit beperkend.

Klein treë geneem

In Januarie 2016 het De Wet sy eerste draakvrug-steggies aangekoop en begin uitplant. Vandag is daar sowat 4 ha wat uit verskillende variëteite bestaan. Hy bemark sy vrugte onder die handelsnaam FireFruit™.

De Wet vertel hy het in 2015 op sosiale media ’n foto van draakvrugte gesien wat by hom vasgesteek het. Hy was in verwondering oor die vrug en het daaroor begin oplees.

“Toe ’n profetiese vrou na aan ons familie vir my bevestiging gee dat dit wat in my kop bly maal wel van die Here af is, het dit my oortuig om met dragon fruit voort te gaan. Ek het die eerste treë in geloof geneem en in Januarie 2016 my eerste 50 klein steggies gekry.”

Die eerste steggies, wat in plantsakke onder ’n stuk net by sy huis op die plaas Kasra geplant is, is in 2017 in voedseldromme oorgeplant. In 2018 het hy ’n moederblok naby sy huis langs die dromme aangelê.

In 2019 is ’n blok van ongeveer 2,5 ha aan die voet van Galgeberg op die hoofplaas, Retreat, gevestig. Die jongste uitbreiding is in 2020 reg rondom ’n sitrusblok onder nette geplant.

“Die plante is nog baie jonk en die eerste aanplantings begin nou eers in produksie kom en sal seker eers oor so drie tot vier jaar in volle produksie wees.”

Draakvrugte word gedra aan die Hylocereus-kaktus, wat inheems aan die suide van Mexiko en Sentraal-Amerika is.

Gebied, klimaat geskik

Draakvrugte word gedra aan die Hylocereus-kaktus, wat inheems aan die suide van Mexiko en Sentraal-Amerika is. Die vrug het ’n leeragtige, skubagtige skil en afhangend van die variëteit, pienk of wit vleis met kenmerkende klein swart saadjies in.

“Dit is baie warm en droog hier by Robertson en daarom is dit seker dié plek in die land waar die grootste verskeidenheid produkte verbou en geproduseer kan word,” sê De Wet. “Draakvrugte is ’n subtropiese kaktus wat vir ekstreme klimaatstoestande gevoelig is – erge ryp, soos swartryp, kan dit heeltemal vernietig. Dit pas aan by droë omstandighede, maar temperature bo 38 °C is té warm en nader aan 0 °C is weer té koud.”

Dit word witwarm op Robertson, wat weer lei tot sonbrandskade op lote wat aan die son blootgestel is. “Ek het gevind die ideaal is om die vrugte onder nette te plant wat ’n subtropiese klimaat weg van die felheid van direkte son skep. Die plante onder nette het uit die staanspoor beter gevaar as dié in die oopte.”

Die droogte van die afgelope vyf jaar het hom laat besef dat dié aanpasbare plant met baie min water klaarkom. “Gesonde plante kan heelwat water en voedingstowwe stoor en wanneer die plante begin blom en vrugte dra, word die reserwes gebruik. In vergelyking met wyndruiwe is vroeë aanduidings dat hierdie vrugte met heelwat minder water kan klaarkom.”

Grondbeginsels

Die beste tyd vir aanplantings is in die lente wanneer die grondtemperatuur bo 15 °C styg en die moontlikheid vir ryp verby is. Die plant benodig grond met goeie dreinering en het ’n groot behoefte aan organiese materiaal, wat ingewerk en/of bo-op die grond gestrooi kan word.

“Die vlak bywortelstelsel kan tot sowat 60 cm diep strek: hoe losser die grond en hoe beter die dreinering, hoe beter vaar die plant.” 

Volgens De Wet het hy tot dusver hoofsaaklik weens gebrek aan tyd die voeding van die plante afgeskeep. 

“Bemesting is belangrik en mens kan na-oes en in die lente met wortelaktiwiteit hoofsaaklik stikstof toedien. Gedurende die groeiseisoen word op onder meer kalium, kalsium en fosfate, asook mikro-elemente gefokus. Blaarvoeding en grondtoedienings deur middel van besproeiing word gebruik,” sê hy.

“Omdat die bedryf hier nog jonk is, is geen pes- en plaagbeheerprodukte daarvoor geregistreer nie. Die algemeenste plaag is plantluis, wat redelik maklik met omgewingsvriendelike produkte beheer kan word.”

Verpakking

Die plant dra al in die eerste en tweede jaar ná aanplanting vrugte, maar dit maak eers in die derde en vierde jaar kommersieel sin om dit te oes, verpak en te verkoop.

“Die plant kom normaalweg eers in die vyfde jaar in vol produksie, maar hier by my kan dit dalk eers in die sesde of sewende jaar gebeur aangesien my plantmateriaal in grootte en sterkte gewissel het. Die plant het ’n kommersiële leeftyd van 15 tot 20 jaar, maar ek hoop dit sal hier selfs langer wees.”

Die vrugte word in siklusse van Januarie tot einde Mei ryp. Die ryp vrugte word met ’n sterk, skerp skêr in die loot afgesny. “Die dikkerige, leeragtige skil kan hantering weerstaan, maar hoe versigtiger jy daarmee werk, hoe langer gaan die vrug mooi lyk en ’n langer rakleeftyd hê.”

Tans word die vrugte in ’n 4,5 kg-kartonhouer verpak wat, afhangend van die grootte, 12 tot 20 vrugte kan hou, asook in bakkies van onderskeidelik 500 g of 750 g elk – wat een tot twee of selfs drie vrugte kan hou.

Bemarking

“Ons het ’n paar afsetpunte, maar omdat ons nog nie groot volumes produseer nie, bemark ons net in die omliggende omgewing en op ’n paar plekke in die Wes-Kaap,” vertel De Wet.

“Voor Covid-19 het ek beplan om te fokus op die eksklusiefste hotelle en restaurante in aanvanklik die Wes-Kaap en daarna die res van Suid-Afrika, maar die virus het dié strategie bietjie verander,” sê hy.

“Ek ontwikkel die mark namate die vrugte geproduseer word. Die doel is om dit uiteindelik landswyd aan uitgesoekte afsetpunte te lewer, asook direk aan en tot by die eindverbruiker. Ek wil my vrug as ’n lekker, gesonde vrug bekend stel wat sal bydra tot mense se gesondheid en algemene welsyn. ’n Vrug wat mense aanlok en aantrek.”

De Wet wil graag waarde toevoeg deur onder meer ’n gesondheidsdrankie, gevriesde blokkies vir byvoorbeeld mengeldrankies en vriesgedroogde peuselhappies, asook ’n poeier te ontwikkel.

Namate volumes uitbrei, beplan hy ook om sy vrugte uit te voer. “Dis vir my die lekkerste om die vars vrug uit die yskas met ’n lepel te eet. Daar is ’n paar mense, soos Mira Wiener en Sammy Lowe, wat vir ons resepte ontwikkel. Die gebruike is oneindig: Met kreatiwiteit kan dit een van die gesogste bestanddele in die voedselbedryf raak.”

Uitdagings

Een van die grootste uitdagings in die draakvrugtebedryf is die keuse van variëteite. “Jy moet maar self proewe doen en met variëteite eksperimenteer om vas te stel watter smaak, groei en produksie die beste is en dan daardie variëteite vermeerder en aanplant ten einde kommersieel sin te maak. Wêreldwyd bestaan daar meer as 200 verskillende variëteite, waarvan die FireFruit™ meer as 70 het.”

Daar is ook nog nie ’n oorhoofse liggaam wat navorsing of proewe doen oor byvoorbeeld kruisbestuiwing, en produksie-inligting verskaf nie. “Ons werk saam met die groep Hortec om onder meer kleurkaarte as riglyne vir oes beskikbaar te stel, maar ’n gebrek aan inligting en strukture is ’n uitdaging vir produsente. Daar is ook ’n informele groep betrokkenes in die bedryf wat inligting deel en waardevolle inligting oplewer.”

De Wet bemark en verkoop sy draakvrugte onder die handelsnaam FireFruit™.

Leefstylvrug

Die bedryf is nog in sy kinderskoene en daarom is die moontlikhede legio, meen De Wet. “Ek dink die toekoms van die bedryf is baie opwindend en ek sien uit daarna om dit wat ek begin het uit te bou. Die grootste lekkerte is om die produk by mense te kry en te sien hoe verbaas hulle op die besonderse kleur reageer, en hoe hulle die gesonde, mooi vrug geniet. Ek glo dit sal bydra tot ’n gesonde leefstyl vir liggaam, verstand en siel.”

Daarbenewens glo De Wet ook dat die gewildheid van die vrug mettertyd sal toeneem. “Op die oomblik is seker minder as 5% van Suid-Afrikaners bewus van die vrug en nog minder het dit al geproe. Omdat dit ’n duur vrug is, sal dit altyd ’n nisproduk bly wat nie almal kan bekostig nie.”

Daar is nog nie konkrete data of statistiek beskikbaar wat ’n aanduiding kan gee wat die vrug se kommersiële waarde in Suid-Afrika gaan wees nie, maar namate nuwe landbouvertakkings oorweeg word, kan die plant se potensiaal toeneem.

Daar is reeds belangstelling in plantmateriaal wat hy aan ’n uitgesoekte groep mense beskikbaar sal stel om te sien hoe dit in verskillende gebiede aard.

Op die oomblik ontwikkel De Wet ’n webtuiste waar die vrugte op bestelling teen die volgende seisoen verkoop kan word. “Ek het besef die roete van die plaashek tot by die verbruiker moet so kort as moontlik wees ten einde die middelman uit te sny en eerder aan ’n langtermyn-verhouding met die kliënt te werk. My ideale kliënte is diegene wat ’n gehaltevrug regtig waardeer en wil weet deur wie, waar en hoe dit verbou word.”

Meer oor:  Sitrus  |  Sitrusbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.