Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sundowner: Boer vooruit met dié nuwe droogdruifkultivar
Suid-Afrikaanse droogdruifkultivar
’n Opwindende nuwe eg Suid-Afrikaanse droogdruifkultivar, die Sundowner, is onlangs in Upington in die Noord-Kaap bekend gestel. Foto’s: VERSKAF

’n Nuwe droogdruifkul­tivar wat spesifiek geteel is om jaar ná jaar ’n hoë egalige drag smullekker gehalterosyntjies te lewer, is onlangs in Upington in die Noord-Kaap deur Culdevco (Edms.) Bpk., die Lanboubou­navorsingsraad (LNR) en Raisins SA bekend gestel.

Die nuwe kultivar, wat as Sundowner bekend staan, is oor die afgelope 13 jaar deeglik geëvalueer in ál die vernaamste streke waar droogdruiwe ge­produseer word. Planttelersregte is reeds verlede jaar aan die LNR as eienaar toegeken, en Sundowner is ook reeds op die amptelike variëteitslys geplaas.

Sundowner word deur die sagtevrugtebedryf se bemarkingsmaatskappy, Culdevco, gekommersialiseer en bemark. Culdevco het ’n eksklusiewe lisensie om alle LNR-geteelde sagtevrugtekultivars te kommersialiseer en bemark.

Die Sundowner is geteel met unieke kenmerke wat dit ideaal vir Suid-Afrika se droogbedryf maak.

Uniek Suid-Afrikaans

Die Sundowner-kultivar is die eerste Suid-Afrikaans geteelde droogdruif wat deur Phyllis Burger van LNR Infruitec-Nietvoorbij geteel en verder deur die instituut se navorsers geëvalueer is en nou deur Culdevco bemark word. Dit is die eerste in ’n reeks belowende nuwe droogdruiwe wat uit die LNR-stal kom.

Volgens dr. Leon von Mollendorff, hoofbestuurder van Culdevco, is Sundowner geteel met unieke kenmerke wat dit ideaal vir Suid-Afrika se droogbedryf maak.

Dit is ’n medium- tot sterk groeiende kultivar wat baie vrugbaar is.

Die Sundowner word gewoonlik sowat ’n week voor die Sultana H5-kloon ryp en lewer deurentyd ’n konstante produksie van meer as 30 ton per hektaar, sowel as rosyne met ’n keurgraad hoër as 80%.

Volgens Von Mollendorff aard die kultivar goed in geil grond met die Paulsen 1103 as onderstam, sowel as in minder geiler grond met die Ramsey-onderstam.

Die Sundowner is pitloos met sagte pitreste soortgelyk aan dié van ander droogdruifkultivars, soos byvoorbeeld dié van Sultana – iets wat volgens Von Mollendorff onopmerklik in ’n songedroogde rosyntjie is.

Wat jy ook moet weet

Sundowner-bottye: Op buitegrond vanaf 29 Augustus tot 17 September en op binnegrond vanaf 14 tot 20 September.

Sundowner-oestyd: Vanaf 28 Januarie tot 22 Februarie (op die buitegrond) en vanaf 21 Januarie tot 22 Februarie (op die binnegrond) wanneer die druiwe ’n suikerinhoud van ongeveer 22 °B (grade Balling) het.

Van die kultivar se unieke kenmerke sluit onder meer ’n vroeër oestyd, ’n soet neutrale smaak en ronde mediumgrootte korrels in. Boere kan die volgende voordele geniet as hulle Sundowner verbou:

  • ’n Vroeër oestyd (sowat ’n week voor Sultana H5).
  • Die waarborg van goeiegehalterosyntjies.
  • ’n Gunstige opbrengspotensiaal van meer as 30 ton per ha.
  • Betroubare en egalige drag jaar ná jaar.
  • Die Sundowner is vrugbaar genoeg om met kortdraers gesnoei te word.
  • Die rosyntjie is bykans pitloos – soms met sagte, onopmerklike pitreste.
  • Ná 13 jaar se evaluering het nog geen korrelbars voorgekom ná reën nie.
  • Die kultivar is ideaal vir die verbouing van songedroogde rosyntjies. Dit is egter minder geskik vir geswaelde rosyntjies.

Volgens Von Mollendorff kan produsente Sundowner-stokke direk vanaf die Sapo-Trust (Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie) bestel. Stuur e-pos na orders@saplant.co.za of skakel 021 887 6823. Daar is voldoende Sundowner-plant­materiaal beskikbaar.

Jou kontak: Vir nader besonderhede oor die nuwe Sundowner-kultivar, bel Leon von Mollendorff by die Culdevco-kantoor by 021 888 8471 of stuur e-pos na leon@culdevco.co.za. Besoek ook die webwerf www.culdevco.co.za vir meer inligting oor ander unieke sagtevrugtekultivars.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.