Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Top-suiwelprodusente vereer

Lactalis South Africa se tien maande beleë goudakaas wat eksklusief vir Woolworths vervaardig word, dra vanjaar vir die derde keer die kroon as die beste suiwelproduk op eie bodem.

Dié kaas is op 26 Maart as die Suiwelproduk van die Jaar by die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings aangewys – ’n kompetisie wat vanjaar in sy 188ste bestaansjaar is. Agri-Expo organiseer die kompetisie.

Die wen-gouda is luidens ’n verklaring ’n aromatiese en intens gegeurde kaas. Dit was een van nagenoeg 900 suiwelprodukte vanaf 68 Suid-Afrikaanse vervaardigers wat vanjaar om pryse in die kompetisie meegeding het. Volgens Agri-Expo is die wenners deur altesaam 60 beoordelaars gekies.

Benewens die produk van die jaar, is slegs agt inskrywings vanjaar met die Qualité-merk van gehalte vereer.

Daarbenewens is 106 produkte ook as Suid-Afrikaanse Kampioene (die wenners in elke kampioenklas) aangewys.

“Vir ’n produk om as die produk van die jaar in ’n kompetisie van hierdie omvang gekies te word, is elke kaasmaker se droom,” sê die suiwelkenner en hoofbeoordelaar Alan Fourie. “Dat hierdie eer vanjaar se wenner van die gesogte titel vir die derde keer te beurt val, is uitsonderlik. Die Woolworths 10 Month Mature Gouda is voorwaar ’n produk wat die toets van die tye deurstaan het, maar ook ’n bewys van volgehoue gebruik van uitstekende bestanddele. Tegnies en gastronomies is dit so na aan perfek as wat ’n kaasproduk kan kom,” aldus Fourie in die verklaring.

Marek Warzywoda, hoofbestuurder van Lactalis South Africa (LSA), sê sy span is verheug daaroor dat hul kaas vir ’n derde agtereenvolgende jaar as die algehele wenner aangewys is.

Lactalis South Africa se tien maande beleë goudakaas is die Suiwelproduk van die Jaar. Dit word eksklusief vir Woolworths vervaardig. Foto: VERSKAF

“Dit is boonop ook die vierde keer in vyf jaar dat ons die algehele top-toekenning behaal. Die LSA-span se harde werk, toewyding en ambisie om produkte van topgehalte te vervaardig, het weer vrugte afgewerp. Ons is geweldig trots op ons prestasie by die 2021 SA Suiwelkampioenskappe.”

Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is die meeste belangrike internasionale suiwelbyeenkomste verlede jaar oor die wêreld heen gekanselleer, en vanjaar uitgestel. “Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe is trouens die enigste groot suiwelkampioenskap in die wêreld wat in 2020 en 2021 plaasgevind het. Om dit moontlik te maak, moes ons die beoordelingsproses aanpas tot twee dae en die toekennings as ’n hibriede geleentheid aanbied,” verduidelik hy.

Die groot getal inskrywings en buitengewone produkte wat vanjaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in die land.

* “Vanjaar se uitslae getuig van ’n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen individue, klein en medium ondernemings, sowel as nasionale en internasionale maatskappye.

2021 se kampioene

Produkte van hierdie vervaardigers is SA Kampioene:

  1. Babylonstoren (1)
  2. Dairy Corporation (1)
  3. Dew Fresh (1)
  4. Dutch Goat Farm (1)
  5. Famous Brands Cheese Company (1)
  6. Klippiesveld Kaas (1)
  7. La Montanara (1)
  8. Lactalis South Africa – Parow (1)
  9. Langbaken Karoo Cheese (1)
  10. Mooivallei Suiwel (1)
  11. Puglia Cheese (1)
  12. Rich Product Corporation (1)
  13. Urban Fields (1)
  14. Clover Frankfort (2)
  15. Clover Lichtenburg (2)
  16. Dalewood Fromage (2)
  17. Indezi River Creamery (2)
  18. Lactalis South Africa – Kyalami (2)
  19. Zandam Italian Cheese (2)
  20. Belnori Boutique Cheesery (3)
  21. De Pekelaar Boerenkaas (3)
  22. Foxenburg Estate (3)
  23. Klein River Cheese (3)
  24. Lactalis South Africa – Ladismith (3)
  25. Ladismith Cheese (3)
  26. Limpopo Dairies (3)
  27. Polar Ice Cream Company (3)
  28. Rhodes Food Group (4)
  29. Lactalis South Africa – Bonnievale (8)
  30. Lancewood Holdings (9)Fairfield Dairy (11)
  31. Fairview Wine and Cheese (11)
  32. Fair Cape Dairies (14)
Bestes van die beste
Vanjaar se Qualité-wenners is as volg:

*  Clover – Frankfort: Mooi River Salted Butter en Clover Salted Butter Mini Tubs

*  Lactalis South Africa – Ladismith: Woolworths Mature Gouda (tien maande verouder) en Président Mature Gouda (ses maande verouder)

* De Pekelaar Boerenkaas: De Pekelaar Boerenkaas Old

*  Famous Brands Cheese Company: Steers Processed Cream Cheese Spread – Onion and Chives

*  Fairview Cheese Company: Woolworths Chevin with Garlic and Herb

*  Fair Cape Dairies: Checkers Vanilla Flavoured Custard



Meer oor:  Kaas  |  Suiwel  |  Agri-Expo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.