Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Trek saam aan dieselfde wa’

Johannes Loubser van die P.E. Loubser-boerdery buite Durbanville dra vanjaar vir die derde keer die kroon as die Landbounavorsingsraad se Nasionale Meestersuiwelboer van die Jaar. Samantha van den Berg het by hom in sy melkstal buite Durbanville gaan kuier.

Johannes Loubser
Johannes Loubser van die P.E. Loubser-boerdery en Fair Cape. Foto: Liza Bohlmann/Landbouweekblad

Niemand kan vir ’n melkboer van korter nagte en vroeg opstaan vertel nie.

’n Intensiewe melkboerdery waar koeie drie keer per dag gemelk word, verg heeltydse aandag – hetsy dit nou naweke, vakansietye of Kersfees is.

Daarbenewens is die suiwelbedryf in Suid-Afrika ’n taai bedryf met uitdagings en klein winsmarges, wat beteken dat ’n melkboer nie kan bekostig om foute te maak nie. Die kwynende getal melkboere op eie bodem spreek boekdele van die talle kwessies waarvoor die bedryf deurentyd te staan kom.

Dit is egter al dié uitdagings wat vir Johannes Loubser van die P.E. Loubser-boerdery op die plaas Welgegund buite Durbanville dryf om sy melkstal tot groter hoogtes te voer.

Die melk wat op hierdie plaas geproduseer word, word aan die familiefiliaal Fair Cape in Kaapstad gelewer, waarvan Loubser die direkteur van die melkboerderybedrywighede is. Dié welbekende boerderyonderneming en verwerkingsfabriek word deur Loubser en sy broers Viljee, Melt, Eduard en Louis bedryf, wat dit saam-saam oor die jare in een van die groot spelers in die suiwelbedryf in Suid-Afrika omskep het.

Van ’n nederige begin met net sowat 64 koeie op die Welgegundplaas in 1955, beskik die boerdery vandag oor meer as 5 600 koeie waarvan daar ’n melkkudde van 2 500 koeie (jersey-, ayrshire- en frieskoeie) is wat drie keer per dag gemelk word.

Loubser hou die leisels van hierdie melkery al vir nagenoeg 31 jaar styf vas en het dit op drie pilare staangemaak, naamlik: produksie, vrugbaarheid en koeigesondheid.

Só word daar gesorg dat Fair Cape se suiwelprodukte oor die land heen aan die hoë gehalte daarvan geken word.

“As jy ’n melkstal bedryf is daar 1 001 goed waaraan jy daagliks moet aandag gee. Die geheim lê daarin om by soveel as moontlik van daardie punte deur die dag uit te kom ten einde te verseker dat alles glad verloop. As jy dit kan regkry om jou melkery se vrugbaarheid en algehele koeigesondheid op ’n baie hoë vlak te kry en dit daar te hou, kom die res redelik maklik. Maar jy kan dit net regkry deur strategiese besluite te neem en daagliks aandag te gee aan ál die aspekte van jou boerdery,” vertel Loubser.

Uitdagings is sy ‘kos’ 

In die middel staan Johannes Loubser, die Meestersuiwelboer van die Jaar vir 2020, saam met (links) Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo, en (regs) dr. Jakkie du Toit, navorsingsbestuurder van die Landbounavorsingsraad se melkaantekening- en verbeteringskema. Foto: Agri-Expo

Loubser het in November 1989 op die plaas aangesluit en nog nie vir ’n dag teruggekyk nie. 

Hy vertel dat om ’n melkboer te word nog altyd op die kaarte was en dat dit oor die jare vir hom ’n groot passie geword het. 

Vra jy hom egter uit oor hoe ’n landbouloopbaan wat aan lang ure op jou voete en hare op jou tande gekenmerk word ’n passie kan word, antwoord hy sonder om te aarsel dat dit juis daardie uitdagende omstandighede is wat hom soggens uit die bed kry.

“Wat ’n melkbeesboerdery tot ’n mate anders as ander boerderye maak, is dat ’n melkery elke dag verander. Wat jy gisteraand en vanoggend sien, verskil soos dag en nag.

“As jy soggens opstaan is daar talle uitdagings wat jou in die gesig staar – en daar is élke dag uitdagings. Jy kan niks laat oorstaan nie,” sê hy.

“Maar dit is wat my dryf; ek is mal daaroor om myself ten volle op my melkery toe te spits. Ek hou daarvan om vroegoggend hier te kom, deur die hokke te ry én na die voer te kyk.

“Ek hou daarvan om in die kantoor te kom en met my mense te gesels en te kyk wat die melkproduksie deur die nag gedoen het. In ’n melkstal is jou dag nooit dieselfde as gister nie en dit is vir my baie lekker,” verduidelik Loubser.

Kundigheid en mense

Daar word 2 500 koeie drie keer per dag op Welgegund-plaas gemelk. Koeigesondheid is ’n fokuspunt vir die wenboer Loubser. Foto: Verskaf

Loubser erken egter dat ’n gesoute melkboer met drie meestersuiwelboer-titels op sy kerfstok nie alleen vir die boerdery se sukses verantwoordelik kan wees nie. 

“Een van die hooffokuspunte van ons boerdery is die gebruik van kundigheid. Ons het ’n kundige persoon wat ons met elke aspek van die boerdery bystaan – ouens wat baie meer kundig as ek is – en my deur staan wawyd oop daarvoor,” sê hy.

“Ek is ’n melkboer met 31 jaar se ervaring en jy kan dalk nou vra wat is daar wat ek nie weet nie? Maar die wêreld van voeding, teling en veeartseny, net om ’n paar voorbeelde te noem, verander só vinnig, dit is onmoontlik om alleen op hoogte van alles te bly.

“Ek kan dit nie alles self doen nie en is afhanklik van kundiges in die bedryf. Ek kan nie bekostig om foute te maak nie omdat die winsmarges in ons bedryf só klein is. Dus laat ons ons deur kundigheid lei,” sê hy.

Die ervare en opgeleide werkerskorps op die plaas is ook vir Loubser van onskatbare waarde, en daarsonder sou die boerdery nie suksesvol en volhoubaar bedryf kon word nie, voer hy aan.

“ ’n Onderneming soos dit kan onder geen omstandighede funksioneer sonder mense nie. My bestuurspan bestaan uit opgeleide mense wat hul werk kén. Hulle kan hul werk baie beter doen as wat ek kan.

“Daarbenewens is my arbeidspan op die plaas ook wêreldklas – ongelooflike mense wat fenomenale werk op ’n daaglikse basis doen en waarsonder ek nie kan boer nie.

“Ons is bevoorreg om só opgeleide span op die plaas te hê. Sonder hulle sal ons werk totaal en al onmoontlik wees.” 

Eendrag maak mag

melk
Die melk wat op die P.E. Loubser-boerdery se plaas Welgegund buite Durbanville geproduseer word, word aan die familiefiliaal Fair Cape in Kaapstad gelewer. Al vyf Loubser-broers is direkteure van hierdie welbekende maatskappy. Foto: Verskaf

Hegte familiebande vorm ’n grondslag vir die boerdery en die Fair Cape-maatskappy as ’n geheel, en dit is ook iets waaraan Loubser sy sukses oor die jare toeskryf, sê hy. 

Hy meen die feit dat hulle as vyf broers in hul onderskeie afdelings saamwerk om die onderneming deurentyd uit te bou en innovasie te dryf, dit die maatskappy uiteindelik ’n kompeterende voordeel gee.

“Ons is almal aan die juk verbind en trek saam aan dieselfde wa – in dieselfde rigting. En ons doen dit al vir 30 jaar. Hulle sê nie verniet dat twee koppe beter as een is nie, en dit is vir ons ’n groot voordeel in ons maatskappy, want ons kan mekaar vir hulp vra. Ons sien mekaar gereeld en praat amper elke dag met mekaar,” verduidelik hy oor sy verhouding met sy vier broers.

“Jy kan maar na die ander groot megaboere in Suid-Afrika gaan kyk: Daar waar ’n pa en twee seuns byvoorbeeld saamwerk, word ’n megaboerdery staangemaak. Jy werk as ’n eenheid en trek saam in een rigting. Ek skryf beslis my sukses aan ons totale maatskappy en my vier broers toe,” sê hy.

Loubser verduidelik dat die geheim om suksesvol as ’n familie in ’n onderneming of boerdery saam te werk, daarin lê dat elkeen vir iets verantwoordelik moet wees waarin hulle goed is.

“Ek en my broers is regtig goeie vriende. Ons baklei nie en is nie agteraf met mekaar nie. Ons is vyf pelle wat saamwerk om ons landbou-onderneming suksesvol te maak.”

Blik op die buiteland

Elkeen van hierdie koeibeeldjies verteenwoordig ’n koei op Welgegund wat al in haar leeftyd 100 000 liter melk geproduseer het. Volgens Loubser is die langslewendheid van hul koeie ’n groot prioriteit en is dit ’n merkwaardige prestasie as ’n koei daardie mylpaal bereik. Foto: Samantha van den Berg

Loubser en sy seun, Pieter, was verlede jaar in die ooste van Amerika waar hulle vanaf Cleveland tot onder in Florida gery en ’n nadere kykie na melkerye daar kon gehad het.

Volgens hom is Suid-Afrika se suiwelbedryf, uitdagings en al, wêreldklas en beslis op die voorpunt wat die melkbedrywe in die res van die wêreld betref.

“Ons het in Amerika byvoorbeeld gesien hoe lekker dit is om met ’n oorvloed van water te kan boer. Dit is maar net een van die uitdagings wat ons op eie bodem het – ons boer in ’n waterbeperkte omgewing.

“Nóg ’n voordeel wat die boere daar het, is dat hulle enorme hoeveelhede mieliekuilvoer kan produseer. Dit is vir ons boere in die Wes-Kaap ’n groot beperking omdat ons feitlik geen mieliekuilvoer hier kan produseer nie. Ons watervoorraad is té beperk,” verduidelik hy.

“Dan is die boere daar baie meer winsgewend as ons. Jy kan dit sien as jy na die infrastruktuur kyk. Dit is iets waarmee ons in Suid-Afrika agter is.

“Wat intensiewe melkbeesboerdery betref, skiet ons tekort wat infrastruktuur betref in vergeleke met die gemiddelde Amerikaanse boer. Ons bedryf se winsmarges is meer onder druk as dié in Amerika en dit is uiteindelik die rede daarvoor.”

Daar is egter ’n hele paar ander aspekte wat die melkboer in Suid-Afrika tog op die voorpunt plaas. “As dit egter by algehele kuddebestuur, liters per koei geproduseer en algehele koeigesondheid en vrugbaarheid kom, dan staan die Suid-Afrikaanse boer nie een tree terug nie,” verduidelik Loubser.

“Inteendeel, ek dink ons is die wêreld voor. Ons kry dit onder moeilike omstandighede reg om kalfgrootmaak te vervolmaak. Daarbenewens hou die tipe koeie wat ons vandag hier melk en die teling wat ons in die bedryf doen, kers vas by ons buitelandse boere. Ons is beperk wat water, infrastruktuur en die produksie van kuilvoer byvoorbeeld betref, maar ons hoef nie een tree terug te staan nie.”

Kommer oor bedryf

Ondanks Loubser se passie en liefde vir die melkbedryf op eie bodem, is daar egter ’n kwessie wat hom snags wakker hou: die voortbestaan van die bedryf met die kwynende getal suiwelboere in Suid-Afrika wat oor is.

“Daar was 20 jaar gelede sowat 20 000 melkboere in die land. Vandag is ons net so tikkie meer as ’n 1 000. Ja, daardie 1 000 boere produseer nog net-net genoeg melk om in die land se verbruik te voldoen, maar tot hoeveel wil ons hê daardie getal moet daal. In die Wes-Kaap alleen het twee boere net in die afgelope maand ophou melk,” verduidelik hy.

“Ek dink ons is op gevaarlike terrein wat die getal suiwelboere in ons land betref. Diegene wat oorbly is die ouens wie se messe regtig skerpgemaak is. Hulle is vlymskerp en het hulle vinger op die pols wat daardie 1 001 goed per dag in die melkery betref. Diegene wat die bedryf vandag verlaat . . . dit is ongelukkig hoogs onwaarskynlik dat hulle sal terugkeer. Daardie boer verkoop al sy toerusting en dit is bloot net té duur om terug te keer,” sê Loubser.

Dit is soos ’n tronk met oop deure – jy kan nie wegloop nie al wil jy soms.

“Ons verloor topmelkboere en hoeveel gaan ons nog verloor voordat ons besef dat die melkbedryf net soos die tekstielbedryf in Suid-Afrika die gevaar loop om dood te gaan. En dan is ons heeltemal van buitelandse invoer afhanklik om in die binnelandse melkvraag te voorsien.” Loubser keer terug na die kwessie van lae winsmarges en meen dit is maar een van die redes waarom boere hul melkstalle sluit. “Ons sukkel om goeie wins­te te maak. Die produsentepryse het tussen 2014 en 2019 gestagneer – dit het sywaarts beweeg en dit het ons seergemaak. In vyf jaar se tyd het die pryse minimaal gestyg, maar die koste het wel en ons het té ver agter geraak,” sê hy.

“Ja, die melkpryse het dalk in die afgelope jaar weer gunstige stygings getoon, maar toe kom die volgende curveball: Die mielieprys. Voerpryse het ongelukkig sedert begin Oktober dramaties gestyg, en dit is steeds aan die gang – hoe lank dit gaan duur, weet ons egter nie. Dit was ons dus gekry het te danke aan daardie prysstygings is weer deur die hoër voerpryse uitgevee,” voer Loubser aan.

“Die melkboer in Suid-Afrika het dus vir ’n slag ’n paar goeie kolfbeurte nodig. Ons het so twee, drie jaar van goeie winste nodig, sodat ons dit in ons ondernemings kan terugploeg. Ons wil dit (die winste) nie in ons sakke gaan druk nie, maar eerder gebruik om weer in ons onderskeie boerderye te herbelê.”

Loubser meen dat benewens winsmarges, die taai aard van die bedryf ook veroorsaak dat al hoe meer suiwelboere hul melkstalle sluit.

“Dit is ’n werk wat 24 uur per dag, sewe dae per week duur. Dit is ’n harde speletjie om in te wees. Dit is soos ’n tronk met oop deure – jy kan nie wegloop nie al wil jy soms. As jy dus sulke ure per dag werk, wil jy goeie geld maak. Anders sê jy net vir jouself ek kan nie meer só aangaan nie.

“Onthou net, dit is ’n heeltydse operasie. Ons melk 15 tot 16 uur per dag – daarbenewens moet die hokke skoongemaak word en die diere moet kos kry. Die koeie kalf heeldag en dan moet daar boonop algehele toesig ook wees,” verduidelik hy.

“Ons hardloop dus op ’n mespunt wat die getal suiwelboere betref wat oor is. En die gebruik van suiwel bly aanhou groei en dit gaan nie ophou nie. Die sekondêre bedryf bly aanhou innoveer: die roomys proe al hoe beter en die kase se smake verbeter en die verbruiker kan nie haar hande daarvan afhou nie. Ons gaan móét toesien dat ons daardie hoeveelheid melk kan aanhou produseer.”

Suiwelmeesters 2020: Die ander finaliste

Die Landbounavorsingsraad se streekfinaliste vir die Nasionale Kleinskaal Meestersuiwelboer van die Jaar vir 2020 was:

  • Loyiso Consultants Projects, Kokstad, KwaZulu-Natal
  • MJ Zim, Kestell, Vrystaat

Die Landbounavorsingsraad se streekfinaliste vir die Nasionale Meestersuiwelboer van die Jaar vir 2020 was:

  • JK Basson Familie Trust, Darling, Wes-Kaap
  • Rhodes Food Group, Simondium, Wes-Kaap
  • P.E. Loubser-boerdery, Durbanville, Wes-Kaap
  • Sieberhagen & Seuns, Cradock, Oos-Kaap 
  • Robertson Broers, Karatara, Wes-Kaap
  • Foundation Jersey Farm, Weenen, KwaZulu-Natal
  • JF Theron, Barrydale, Wes-Kaap
  • J & H Sieberhagen, Cradock, Oos-Kaap
  • JJ Nel Familie Trust, Ladismith, Wes-Kaap
  • HJ Rall, Barrydale, Wes-Kaap
  • RB Redelinghuys Jr., Heidelberg, Gauteng
  • Keyser-boerdery, Heidelberg, Wes-Kaap
  • Fredskraal Holsteins, Port Elizabeth, Oos-Kaap
  • E Zeeman, Swellendam, Wes-Kaap
  • Tweekop-boerdery, Heidelberg, Wes-Kaap
  • Drie Susters, Durbanville, Wes-Kaap
  • Fort Hare Dairy Trust, Alice, Oos-Kaap
Geborg: Suiwelbedryf

Van die ondernemings wat jy in die suiwelbedryf kan ondersteun, is:

  • Nova-voere is ‘n verskaffer van gesonde veevoedingoplossings aan die landboubedryf in Suid-Afrika.
  • Semex, ‘n verskaffer van elite melk- en vleisgenomika.
  • Die Tygerberg-dierehospitaal vorm ‘n vennootskap met troeteldiereienaars en boere om te verseker dat hul troeteldiere en vee die beste en mees produktiewe lewens lei.
  • Fair Cape Dairies word al vir meer as 70 jaar deur die Loubser-familie bedryf en is vandag een van Suid-Afrika se mees toonaangewende suiwelhandelsmerke.
  • Trim Rite, vir al jou hoefversorging-behoeftes in jou melkery.

Meer oor:  Landbou  |  Melkboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.