Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Unieke Weskuswyn nou deel van DGB

’N Boetiekwynkelder geleë in ’n ou visfabriek aan die Kaapse Weskus is die jongste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse drankmaatskappy DGB se portefeulje.

Fryer’s Cove maak ’n reeks koelklimaatwyne – insluitend sauvignon blanc en pinot noir – afkomstig vanaf wingerde wat slegs 500 m vanaf die see geplant is. Hierdie kenmerkende ses hektaar Bamboesbaai-wingerde maak van Fryer’s Cove een van die mees unieke boetiekwynkelders in die land, lui ’n verklaring wat deur DGB uitgereik is.

“Die sonderlinge terroir van die wingerde het nie net vir Fryer’s Cove gehelp om plaaslike en internasionale erkenning in te palm nie, maar ook die plek self te omskep in ’n unieke toeristebestemming met ’n restaurant en proelokaal te midde van die gekabbel van die Atlantiese Oseaan,” lui die verklaring verder. Nuwe eienaars Tim Hutchinson, uitvoerende voorsitter van DGB, sê die verkryging van Fryer’s Cove is gedoen deur Artisanal Brands, ’n DGB-filiaalmaatskappy wat op die nis- en vlytwynsektor toegespits is.

Doringbaai met sonsondergang en die wynkelder Fryer’s Cove in die agtergrond. Dit is in ’n ou visfabriek geleë. Foto: verskaf

Die aankoop van die Fryer’s Cove-wynkelder volg kort ná ’n onlangse aankondiging dat Hutchinson en die batebestuursmaatskappy Capitalworks die beherende aandeelhouding in DGB van hul langtermynbeleggers, Brait, aangekoop het.

Volgens Hutchinson dra Fryer’s Cove ’n unieke handelsmerk tot die DGB-portefeulje by – een wat individualiteit beklemtoon met ’n eie storie wat gehaltewyne oplewer. Aan die begin Fryer’s Cove is gegrond op ’n idee wat Jan Ponk, ’n boer vanuit die Olifantsrivier, in 1985 gehad het om wyn te maak van ’n wingerd wat teenaan die koue Atlantiese Oseaan groei.

“Veral sauvignon blanc, wat ons gehoor het in die baie koue toestande gedy,” verduidelik Ponk oor die begin.

“Ons het die perseel gehad op die rand van die water sowat 30 km wes van Vredendal. Die droom kon egter eers in 1999 verwesenlik word toe ’n pyplyn gebou is tussen Vredendal en die seefrontgrond wat ons vir die wingerdaanplantings afgebaken het,” sê hy.

Met die maak van Fryer’s Cove se eerste wyn in 2001 – ’n sauvignon blanc – sê Ponk hy en sy wynmaakvennoot, Wynand Hamman, het besef hulle het iets uniek beet.

“Soos die kritici se erkenning vir die wyne en hul eiesoortige gevoel van plek ingestroom het, het ons geweet Fryer’s Cove is getrou aan ons slagspreuk, naamlik: ‘Forged of the earth, tempered by the sea’ .” En later?Volgens hom was dit die begin van ’n ongelooflike reis. “Dit het die stigting van ’n kelder in ’n ou visfabriek in Doringbaai ingesluit en om ’n restaurant saam met die plaaslike gemeenskap te bestuur,” sê hy.

“Besoekers van oor die wêreld kom hierheen om ware Weskus-gasvryheid te ervaar, en wyne wat hierdie sonderlinge terroir weerspieël. Hier by Fryer’s Cove word ’n besoeker ’n lewenslange wynkliënt.” Volgende hoofstukPonk sê die Fryer’s Cove-reis was een van die bevredigendste van sy lewe aangesien hy en Hamman ’n nuwe wynstreek uit die niet geskep het.

“Ek dink nie enigiemand in die wynbedryf kan vir meer as dit vra nie,” sê Ponk.

“Ek moet ook omsien na my eie familieboerderybelange en Fryer’s Cove is nie iets wat jy slegs as stokperdjie kan bedryf nie. In DGB het ons die perfekte entiteit gevind om die visie wat ons gehad het, voort te sit.

“Hulle is wynmense wat elke deel van die wynwêreld uitleef,” sê hy. “Ons is dus gelukkig dat ons ’n groep gevind het wat die inspanning en harde werk verstaan wat ons oor die jare ingesit het om hierdie besigheid te vestig en ’n toekoms kan bou gebaseer op gehalte, uniekheid en sterk verhoudings.” Nuwe indoena Andrew Harris, bemarkingsbestuurder van Old Road Wine Co. in Franschhoek wat DGB drie jaar gelede deur Artisanal Brands bekom het, sal nou ook vir Fryer’s Cove verantwoordelik wees.

Harris glo die Weskus is ’n nuwe verkenningsplek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, soortgelyk aan hoe die Swartlandstreek ’n paar jaar gelede was, gelei deur ’n groep opwindende jong wynmakers.

“Wyndrinkers soek deesdae wyne met interessante en opwindende stories waarmee hulle hulself kan vereenselwig, en Fryer’s Cove is presies dit,” verduidelik Harris.

“En as jy boonop ’n element van avontuur daarby kan voeg, soveel beter. Fryer’s Cove se wingerde is 500 m van die Atlantiese Oseaan en die ysige seewater word gebruik om die tenke tydens gisting af te koel – wat van die mees eiesoortige wyne oplewer wat jy ooit sal teëkom.”

Meer oor:  Weskus  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.