Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Verklaar Klein-Karoo tot rampgebied om droogtehulp moontlik te maak, pleit boere

Die verwoestende gevolge van die droogte in die Klein-Karoo het boere van dié streek genoop om in ’n desperate hulpkreet die burgemeesters van die Oudtshoorn-, George- en Kannaland-munisipaliteit te vra om dié gebied tot droogterampgebied te verklaar.

Damvlakke bly ’n bron van kommer in die Sentraal- en Klein-Karoo in die Wes-Kaap. Foto: Adrian de Kock

Luidens ’n verklaring strek dit van Bo-Kammanassie tot by Calitzdorp.

Die versoekskrifte, wat onder meer ook ondersteun word deur die Oudtshoorn-sakekamer en verskeie landbou-organisasies, is op 2 Julie aan die munisipaliteite se onderskeie burgemeesters gestuur.

Die droogte, wat reeds langer as ses jaar duur, het die landboubedryf in ’n krisis gedompel, meen die boere daar.

Plattelandse dorpe soos Oudtshoorn en Calitzdorp, wat grootliks afhanklik is van die bedryf, kry ook swaar met baie ondernemings wat hul deure permanent moes sluit.

Die watervlak van die Stompdrift- en Kammanassie-dam, die twee besproeiingsdamme wat water aan die boere in die gebied moet lewer, het onlangs nog op 7% (Stompdrift) en 0% (Kammanassie) gestaan.

Volgens Gerhard Meyer, bestuurslid van die Stompdrift-Kammanassie-watergebruikersvereniging (SKWGV), is dit die laagste damvlakke in die vereniging se 100-jarige bestaan.

Tot dusver is winterreënval in die streek ondergemiddeld, met die gevolg dat daar geen opvolg-leibeurt gaan wees vir boere wat reeds gesaai het in afwagting op reën nie.

“Dit is ’n krisis wat nie langer so kan voortduur sonder permanente skade vir die streek, dorpe, inwoners en sakesektor nie,” sê Meyer.

Laubscher Coetzee, Agri Klein-Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, sê die droogte het die landboubedryf in ’n wurggreep. Die droogte word as die ergste in dekades bestempel, deur party selfs as die ergste die afgelope eeu.

Volgens Coetzee is die finansiële impak van hierdie droogte “net eenvoudig katastrofies rampspoedig”, en is talle boere reeds op hul knieë.

“Om tot rampgebied verklaar te word, beteken dat ons gebied vir droogtehulp in aanmerking kom. Ons wil graag ook die boodskap tuisbring dat ons nie droogtehulp wil sien as slegs finansiële bydraes van die regering aan boere nie, maar dat daar ook holisties na droogtehulp gekyk moet word.

“Daarmee word bedoel dat daar ernstig klem gelê moet word op oplossings betreffende watervoorsiening, opgaarkapasiteit en meer doeltreffende waterverspreiding deur middel van pypleidings in die skema.

“Landbou in die Klein-Karoo maak nou staat op plaaslike munisipaliteite om die krisis te erken en daadwerklike stappe te doen om oplossings te vind en verligting te bring.” – Landbou-redaksie

Meer oor:  Klein-Karoo  |  Landbou  |  Rampgebied  |  Droogtehulp  |  Reën  |  Droogte  |  Water  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.