Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Vlieglarwes ’n nismark met báie geleenthede
Só lyk ’n volwasse venstervlieg. Foto: NINA PARRY

’n Hoogs gekwalifiseerde insekboer op eie bodem glo dat as mense net oor die grilfaktor kan kom, hulle die legio voordele van onder meer insekmeel en -poeiers sal besef. Engela Duvenage het met dr. Michael Woods gesels.

Dr. Michael Woods, bes moontlik die hoogste gekwalifiseerde insekboer ter wêreld, het vir sy doktorsgraad in veekundige wetenskappe navorsing gedoen oor hoe om insekte te versorg en voed, sodat op groot skaal met hulle geboer kan word.

Woods het in Desember verlede jaar sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch ontvang. Hy is die eerste persoon om ’n PhD te verwerf in die massaboerdery van insekte en hoe om hulle verder tot bruikbare byprodukte te verwerk.

Hy het op Saldanha aan die Weskus groot­geword, waarna hy in 2010 aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer het. Woods het onderskeidelik eers vir ’n BSc- en MSc-graad in veekundige wetenskappe gestudeer, waarna hy sy PhD-­studie aan die US voltooi het.

Groeiende nismark

Volgens voorspellings sal die gebruik van insekte in die dierevoermark teen 2030 meer as $2 300 miljoen sterk wees, en die verskaffing van insekte aan die voedsel- en voedings­bedryf op $8 000 miljoen staan.

“Dis tans die vinnigs groeiende landboubedryf in die wêreld. Ons besef toe­nemend die waarde van insekte as voedselbron vir plaasdiere en die mens, om peste en indringerplante te beheer én om ons te help om van afvalkos en abattoir-afval ontslae te kan raak sonder dat dit op die ashope hoef te land,” vertel hy.

“Om hierdie dienste te kan verskaf moet mens volhoubaar en op gereelde basis gehalte-insekte aan die mark kan verskaf. Dís waar grootskaalse insekboerdery inkom.”

Elke deeltjie waardevol

Woods bestudeer insekboerdery reeds sedert sy meestersgraadjare aan die US, nadat hy besef het dat dit ’n nismark is wat groot sakegeleenthede bied.

Vir sy MSc-graad het hy spesifiek gekyk na insekvoeding, en watter verskillende diëte inseklarwes gevoer moet word om die beste moontlike eindprodukte te kan lewer. Sy konsultasiewerk hieroor sedertdien het hom reeds na nagenoeg 20 lande geneem.

“Om met insekte te boer is in baie opsigte soortgelyk aan die intensiewe produksie van vee. Net so speel voeding ’n groot rol in die sukses, sowel as die koste van die produksie van insekte. Net soos varke en hoenders het insekte ook spesifieke voedingstowwe of nutriënte nodig om te floreer – wat mens in hul kos moet kan verskaf.

Dit is die insekman! Dr. Michael Woods met ’n bak vol venstervlieglarwes waarmee hy op die Mariendahl-proefplaas buite Stellenbosch boer. Foto’s: Engela Duvenage

Insekte vat min spasie

“Die lekkerte van insekte is dat mens net glad nie soveel spasie nodig het om grootskaals met hulle te boer nie,” vertel Woods.

“Insekte bestaan basies uit drie dele: vet, proteïene en ’n bietjie chitien,” verduidelik hy verder. “Elke deel is waardevol, en kan nuttig gebruik word.”

As deel van sy doktorsgraadstudie het Woods ’n bestaande hidroliseproses aangepas wat ensieme gebruik.

Daardeur kan vet, proteïene en chitien ten beste afsonderlik onttrek word uit die inseklarwes waarmee hy boer. Die proteïen kan byvoorbeeld gebruik word in dierevoer, of in voedsame aanvullings vir mense. Die chitien kan omskep word in bio­afbreek­bare verpakking of filters.

Woods het hierdie deel van sy navorsingswerk voltooi onder leiding van sy hoofstudieleier, dr. Elsje Pieterse (US-departement veekundige wetenskappe), en dr. Neill Goosen (US-departement prosesingenieurswese).

Voorste kenner

Pieterse word beskou as een van die voorste kenners op die gebied van insekboerdery ter wêreld.

Saam het dié drie kenners ook onlangs die maatskappy Susento (“sustainability through ento­mol­ogy”) gestig. Die maatskappy staan nog in sy kinderskoene en word deur die US se innovasiemaatskappy Innovus ondersteun.

Volgens Woods is ’n handvol maatskappye in Suid-Afrika reeds met insekboerdery besig – hoofsaaklik om as voedselbron vir die dieremark te dien of as deel van plaagbeheerprogramme.

Na Woods se kennis is Susento egter die eerste wat ’n “totale waardeketting”-aanslag het en in alle velde van insekboerdery betrokke sal wees – tot by die verskaffing van byprodukte.

Woods se eksperimentele eenheid lewer tans tot 30 kg venstervlieglarwes per dag. Hy beplan egter ’n proefeenheid wat ’n ton larwes per dag kan lewer.

Mopaniewurms

Dié maatskappy gaan ook diëte ontwikkel vir insekte wat in massas geteel moet word as deel van geïntegreerde plaagbeheerprogramme of as voer, vir die lewering van vesel (byvoorbeeld sywurms) of as voedselbronne (soos mopaniewurms). Daar sal ook met insekte vir die troeteldierbedryf geboer word.

Woods bedryf reeds ’n eksperimentele eenheid op die fakulteit agriwetenskappe se Mariendahl-proefplaas buite Stellenbosch. Die eenheid lewer tot 30 kg venstervlieglarwes per dag.

Daarbenewens beplan Woods ook ’n proefeenheid op Mariendahl wat ’n ton larwes per dag kan lewer, tesame met ’n ver­werkingsaanleg.

Hy sê hy het die larwes van venstervlieë gekies omdat hulle nie ’n pes is nie, geen siektes versprei en ook nie in huise voorkom nie. “Hulle is so skadeloos soos erdwurms.”

Woods beplan ook om kleinskaals met meelwurms en krieke te boer, wat hy as voedsel aan die troeteldiermark kan lewer.

Min water, brandstof nodig

Volgens Pieterse is ’n insekboerdery glad nie water- of brandstofintensief nie.

“Jy kan grootskaals op ’n baie klein stukkie grond daarmee boer. So kan jy tot 7 500 keer meer proteïene per hektaar produseer in vergelyking met ’n hektaar soja. Hulle is ook minder waterintensief om mee te boer as soja. Om die waarheid te sê, daar is ’n netto wins van water as jy met venstervlieë boer, want die waterdamp wat hulle vrystel, kan deur kondensasie opgevang word.”

Sy sê dis voordelig vir die omgewing om insekte te gebruik om byvoorbeeld vrugtepulp en skille wat by kos- en sapfabrieke ophoop, af te breek.

Kos wat op afvalhope ontbind, stel metaangas vry, wat sleg is vir die omgewing. Dieselfde gebeur nie wanneer insekte oorskietkos afbreek en verteer nie. Kos wat maande in die grond moet bly om te ontbind, kan binne dae deur insekte opgebruik word.

Insekte gaar goeie omega 3-vetsure op as hulle op afval uit visfabrieke teer, en gaar yster op uit abattoirafval. Wanneer insekte in dierevoeding omskep word, verhoog hulle weer die vetsuur- of ystersamestelling van die diere se vleis. Pieterse se eie studies het gewys dat hoenders wat venstervlieglarwes vreet, meer en groter eiers met sterker doppe lewer. Vleis wat geproduseer is van diere wat insekte gevreet het, is ook sappiger.

Insekte as voedselbron

“Die mensdom se groeiende vraag na bronne van proteïen is meer as waaraan boere uit bestaande dier- en plantbronne kan voorsien,” sê Woods.

“Insekte het die vermoë om hierdie gaping te vul, en daarom is insekboerdery toenemend belangrik,” reken hy. Woods sê hy weet baie mense sal hul neus vir insekte as kos optrek.

“Dis veral mense met ’n Westerse ingesteldheid wat so dink. Onthou, daar’s baie lande waar mense lank reeds insekte eet. Interessant genoeg word voorspel dat die bevolkingsgroei die hoogste gaan wees in lande waar mense juis reeds insekte eet.”

Woods sê produkte wat vir die Westerse mark geproduseer word, soos byvoorbeeld ’n kriekgebaseerde energiestafie uit Au­stralië, bestaan gewoonlik nie uit heel insekte nie. Dit word eerder as proteïenmeel en in maaltye gebruik waarvan dit slegs een van talle bestanddele is.

Larwe-roomys

Een van Pieterse se huidige PhD-studente, Leah Bessa, maak reeds onder die handelsmerk Gourmet Grubb suiwelvrye roomys van venstervlieglarwes.

Woods sê die smaak van ’n insek word bepaal deur wat dit vreet en hoe dit geproduseer word. Só is die proteïenpoeier wat van venstervlieglarwes gemaak word maar vaal in kleur en smaak, en kan geurmiddels daarby gevoeg word.

Hy sê die aminosuurprofiel van insekproteïen vergelyk goed met die daaglikse behoefte daarin van diere soos varke en hoenders, en selfs mense. Dis mak­liker verteerbaar en word mak­liker deur die liggaam opgeneem teen ’n laer metaboliese koste as ander proteïene – veral plant­gebaseerde proteïene.

Sprin­kane, sywurms en krieke bevat vyf keer meer antioksidante (wat die afbreek van die liggaam se selle keer) as lemoensap of olyfolie.

“Die ingeligte verbruiker wat al hierdie dinge weet, sal heel moontlik oor die grilfaktor daarvan kom, en op die voordele van insekmeel en -poeiers fokus,” reken Woods.

Meer oor:  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.