Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Volg dié raad voor jy krag wil opwek

Met die heersende uitdagings in die tradisionele opwekking en verskaffing van elektrisiteit in Suid-Afrika asook die stygende elektrisiteitspryse, is daar wel lig aan die einde van die tonnel vir boere wat sonkragaanlegte op hul plase wil laat oprig.

Verskeie kenners sê sonkragaanlegte kan van groot waarde vir boere wees, maar goeie voorafbeplanning is van kritieke belang. Foto: PEXELS

Verskeie kenners wat vroeër die maand aan Agri SA en Farmer’s Weekly se webinaar oor hernubare energie in die landboubedryf deelgeneem het, het beklemtoon dat sonkragaanlegte ’n goeie belegging vir boere is.

Deeglike vooraf beplanning is egter van kritieke belang voordat hierdie aanlegte op plase opgerig kan word.

Die tema van die webinaar was: “Kan groen energie in die landbou die spelwisselaar wees?”

Só staan sake

Netwerk24 het berig dat pres. Cyril Ramaphosa onlangs aangekondig het enigiemand wat kragstasies van soveel as 100 MW wil bou, hoef voortaan nie meer amptelik vir ’n kragopwekkingslisensie by die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) aansoek te doen nie.

Jy gaan drie tot ses maande wag om goedkeuring by Eskom te kry. Daarna sal dit weer drie tot ses maande duur om ’n begroting op te stel.

Maar die energiereguleerder het beklemtoon dat enigiemand wat krag wil opwek, steeds by Nersa moet registreer om seker te maak hulle voldoen wel aan al die vereistes.

Nersa wag nou op die publisering van die gewysigde skedule 2 van die Wet op Elektrisiteitsregulering in die Staatskoerant om te kan sê hoe hy vorentoe versoeke vir kragopwekking sal hanteer.

Die departement van minerale bronne en energie moet die wysigings publiseer.

Bedryfskenners sê

Chris Schutte, direkteur van die sonkragmaatskappy Sonfin, het op die webinaar gesê mense moenie té gou opgewonde raak oor die aankondiging wat Ramaphosa gemaak het oor die lisensielose kragopwekking van tot 100 MW vir private kragopwekkers nie.

Volgens Schutte laat Eskom boere net toe om 1 MW aan sy netwerk te koppel, en dat dié aankondiging net vir kommer­siële aanlegte geld.

Hy het bygevoeg dat dit ’n baie lang proses is om goedkeuring by Eskom sowel as Nersa te kry om ’n sonkragstelsel aan die kragnetwerk te koppel.

“Jy gaan drie tot ses maande wag om goedkeuring by Eskom te kry. Daarna sal dit weer drie tot ses maande duur om ’n begroting op te stel. Daarbenewens gaan dit ook drie tot ses maande neem om goedkeuring by Nersa te kry,” het hy gesê.

Hy waarsku ook dat boere onder geen omstandighede moet voortgaan om aanlegte te bou indien al die nodige goedkeuring en dokumente nog nie in plek is nie. Dit kan boere duur te staan kom, het hy gesê.

Die suikerbedryf op eie bodem het ook planne om hernubare energie uit suikerriet op te wek. (Foto ter illustrasie.) Foto: PIXABAY

Beplanning belangrik

Die nasionale hoof van Nedbank Landbou, John Hudson, het saam met Schutte gestem en gesê die beplanningsproses van ’n sonkragaanleg is baie belangrik.

“Dit is ’n groot finansiële besluit en boere moet hul huiswerk deeglik doen. Hulle moet ook kyk na hul terugbetaal-kapasiteit en tyd. As dit nie reg gedoen word nie, kan die koste jou inhaal,” het hy verduidelik.

“Nedbank het innoverende en pasgemaakte finansieringsoplossings om boere te ondersteun met volhoubare boerdery-ingrypings, waar ons benadering is om die unieke omstandighede van toepassing in ag te neem en daarvolgens ’n gepaste oplossing te skep,” het Hudson bygevoeg.

Dr. Tokka van den Heever, ’n tafeldruiweboer van Kakamas, het gesê sy plaas was een van die eerstes in die omgewing wat ’n sonkragaanleg gebou het. Hy het reeds twee sonkragaanlegte en is tans besig om ’n derde aanleg op te rig.

Volgens Van den Heever het hy met sy eerste sonkragaanleg omtrent 18 maande gewag om aan die netwerk gekoppel te word. Ook hy het beklemtoon hoe belangrik die beplanningsproses vir só ’n aanleg is.

“Sorg dat jy al jou papierwerk reg het – eers dan kan jy begin bou. Maak seker hoe die bou van krediete en die finansies van die sisteem werk. Die ander belangrike ding is om te verseker dat wanneer jou aanleg aan die netwerk gekoppel is, jy kenners kry wat jou kan help beplan rakende energieverbruik,” het hy gesê.

Van den Heever het bygevoeg dat boere moet besef dat daar steeds ’n vaste koste aan Eskom verskuldig sal wees en dat die besparing slegs op die energieverbruik is.

Hy het verduidelik dat wanneer die sonkragaanlegte klaar betaal is, sy energieverbruik op die plaas gratis sal wees.

Suikerbedryf oorweeg biobrandstof, biogas

Richard Nicholson, ekonomiese navorsingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse Rietkwekersvereniging, het gesê die suikerbedryf se energieplanne sluit in die vervaardiging van biobrandstof en biogas vir die opwekking van energie uit suikerriet.

Volgens Nicholson is die Europese Unie (EU) se regulasie dat vliegtuigbrandstof teen 2030 minstens 50% biobrandstof moet bevat. Dit bied ’n groot geleentheid vir die suikerbedryf, aangesien hulle die biobrandstof van suikerriet sal kan vervaardig.

Sorg dat jy al jou papierwerk reg het – eers dan kan jy begin bou.

Hy het gesê daar sal ’n vraag wees om die helfte van Suid-Afrika se suikerriet wat jaarliks geproduseer word, vir die vervaardiging van biobrandstof vir die lugvaartbedryf te benut.

Nicholson het bygevoeg dat die suikerbedryf ook biogas uit suikerriet kan opwek – vir die energieverbruik van suikermeulens sowel as plase.

Die Rietkwekersvereniging se innoveringsgroep het onlangs ’n verteringstoestel ontwikkel wat afval-suikerriet verwerk en in biogas vir elektrisiteitsopwekking kan omskakel.

Nicholson het verduidelik dat die afval van die suikerriet wat ná oestyd op die landerye lê, in die toestel ingevoer word en dan elektrisiteit vir die boer op die plaas kan lewer.

Meer oor:  Kragopwekking  |  Krag  |  Groenkrag  |  Landbou  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.