Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Waarom wyn áltyd belangrik sal wees

Een van die vele clichés wat die afgelope jaar se Covid-19-ontwrigting geskep het, is dat dinge nooit weer dieselfde gaan wees nie.

En in sekere aspekte is dit wel só. Geen toeris wat binne die volgende 20 jaar na China reis gaan sy of haar lippe waag aan ’n straatkafee se bakkie onherkenbare lekkerny nie.

In stede van “gesondheid” uiter, gaan die vaagste teken van ’n nies deur iemand in jou nabye omtrek tot ’n skarrel opsoek na skuiling, dekking en ’n gesigsmasker lei.

En in hierdie nuwe wêreld neem die mensdom se vraag na beter internetspoed en bekostigbare data om sodoende die verhouding met Netflix en Showmax tot ’n staat van losbandigheid te bevorder, met rasse skrede toe.

Foto: Pexels

Volhoubaarheid vir wyn

Die stief manier waarmee die Suid-Afrikaanse wynbedryf deur die nasionale regering behandel is het verseker dat die bedryf ook op soek is na ’n nuwe pad tot volhoubaarheid, asook om wynboerdery meer winsgewend te maak en toe te sien dat die plaaslike ekonomie daardeur bevorder word.

Nie dat die regering enigsins kennis neem van die verband tussen wyn en landsake nie. Dis een ding wat skynbaar nie deur die Covid-19-pandemie gaan verander nie.

Maar met die histerie oor die uitwerking van die verbod op wynverkope, die heen-en-weer beskuldigings van waarom die wynbedryf nie ’n gunstiger beeld by die owerhede het nie én die hande-in-die hare-vraagstukke oor surplusse, hofsake en verteenwoordigende liggame, smaak dit my dat een vraag nie gevra is nie: Waarom is wyn belangrik? Soos in vir my en vir die drinkers daarvan.

Diegene wat die prop trek, die wyn skink en dan weer uitsien na die volgende bottel. Hy of sy wat daagliks, weekliks of maandeliks geld oorhandig in ruil vir ’n bottel of ses wat spruit uit die sweet van die wynboere se aangesig.

Wyn het stories

Wel, dit is vir hulle en vir ons, en vir my belangrik. Punt.

Want as mens werklik wil, kan jy elke dag van jou lewe ’n ander bottel wyn drink sonder om dieselfde een twee keer te skink.

Geen ander dranksoort word deur so baie verskillende mense in sulke diverse land- en wêreldstreke gemaak as wyn nie.

Vir die onrustige soeker na individualiste geure en reuke is wyn weergaloos in sy aanbod van ’n eiesoortige identiteit. Om die woorde van die beroemde Brit Samuel Johnson te verdraai, “Hy (of sy) wat moeg is vir wyn, is moeg vir die lewe.”

Dan het elke wyn ’n eie storie. Benewens die unieke geografiese profiel van die wingerde se oorsprong, spog wyne met persoonlikhede en stories van hul eie.

Of die wyn nou afkomstig is uit ’n Franse wingerd in Boergondië waarin ’n monnik 800 jaar gelede die beeld van Christus gewaar het, of in Franschhoek gemaak is deur ’n breinchirurg wat op 55-jarige ouderdom die oopsaag van skedels vir die gisting van druiwe verruil het, daar ís stories in wyn.

Want alhoewel dit – soos die afgesaagde gesegde lui – in die wingerd gemaak word, is wyn die eindproduk van mense se lewens, drome en liefde. Net soos almal stories en drome en bewondering van ander mense benodig, net só moet ons wyn hê.

Een met natuur

Wyn is belangrik, want wyn is ’n poort tot die natuur. Daardie glas chardonnay dra die eggo’s van Robertson se kalkgronde wat oor miljoene jare deur die beendere van seediere gevorm is.

Die cabernet sauvignon van Stellenbosch is ’n produk van die fyngemaalde bergsteen wat van die Simonsberge verweer het, daar waar die wingerde in die koel winde staan – gegeur deur fynbos en see. Om wyn te waardeer is om die mense se band met die natuur te erken, te proe en te voel.

Dit verhef die siel van die mens – dít is waarom wyn belangrik is. Dié het ek 40 jaar gelede besef as tydelike kelderwerker by Simonsvlei tydens ’n warm en woelige parsseisoen.

Om middernag tuisgekom, ’n glasie koue chenin blanc – Steen, destyds, van die Perdeberg-kelder. Ek tref op so ’n aand vir my pa aan, en deel my gevoel dat daar niks is wat jou beter laat voel as ’n glasie wyn nie.

“Ja,” sê hy, “dis waaroor dit mos gaan.”

Mense byeen

Emile Joubert. Foto: Jaco Marais.

Om hierby aan te sluit, glo ek ook wyn is belangrik want dit bring mense saam. Op verskillende maniere.

Daar is die groep wynboffins wat met trane in hul oë en ensiklopediese aanhalings liries raak as hulle om ’n bottel Calon-Ségur 1966 uit Bordeaux vergader. En dan is daar die alledaagse tipes, vriende wat die genot van saamwees en vreugde van die lewe erken met ’n bottel of drie wyn wat bloot die middel, die byeenbringer, van die samesyn is.

Wyn is belangrik, want dit skep ’n groter waardering vir die sintuie waarmee mens gebore is.

Die lieflike, sielsverheffende reuk van ’n shiraz vol nat aarde, sigaar-blaar en Bo-Kaapse spesery. ’n Onrustige en vars sauvignon blanc wat jou mond en hele wese verfris met geure van appelliefie, spanspek en seewier.

Die waardeerder van wyn, en ek is seker hiervan, ruik en proe als met meer geseënde vreugde as ander mense.

Dit is belangrik, dié ding genaamd wyn, want dit maak van die wêreld ’n beter plek. En dis die moeite werd om dit nie te vergeet nie, want dit sal altyd só wees.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.