Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf reg vir uitdagings

Dit was ’n paar jaar van harde bene kou in die wynbedryf, en 2020 gaan nie veel makliker wees nie, maar die bedryf bly vol vertroue en is reg om die uitdagings die hoof te bied, het die gehoor by die 15de Nedbank Vinpro-inligtingsdag aan die einde van Januarie in Kaapstad gehoor. LandbouBurger was daar.

Foto: iStock

Die sprekers wat vanjaar op die Nedbank Vinpro-inligtingsdag op 23 Januarie opgetree het, was eerlik oor die ernstige realiteite waardeur die bedryf in die gesig gestaar word, terwyl hulle ook raad gegee het oor die pad vorentoe.

Die Suid-Afrikaanse wyn­bedryf verwag dat vanjaar weer ’n moeilike jaar gaan wees. Die bedryf is egter hoopvol dat op die momentum voortgebou gaan word wat in 2019 opgetel is om die groot uitdagings die hoof te bied, was die oorhoofse boodskap op dié jaarlikse instelling.

“Daar was ’n hernieude energie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf in 2019 ná ’n lang afwaartse siklus,” het Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, gesê.

Twee kleiner oeste agtereenvolgens vanweë die voortslepende droogte het tot opwaartse wynprysaanpassings gelei. Dít het na die plaashek deurgesyfer en daartoe gelei dat produsente herbelê. Smuts het ’n beroep op wyndruifprodusente en kelders gedoen om hierdie momentum te behou, maar het gewaarsku daarteen om pryse sonder waardetoevoeging op te stoot.

“Daar sal steeds uitdagings in 2020 wees, soos moeilike marktoestande, beleidsonsekerheid, onteieningsdreigemente en onguns­tige klimaatstoestande. Ons kan dit egter oorkom deur ons stra­tegiese leerproses voortdurend aan te pas en saam te werk.”

Só staan sake

Die wynbedryf is die tweede grootste landbou-uitvoerder in Suid-Afrika en is een van die min bedrywe wat tans belegging regverdig, aldus Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof. Dít kan toegeskryf word aan gehalteprodukte en die herposisionering wat tans plaasvind, het hy gesê.

Die droogte het ’n wesenlike uitwerking gehad op wynproduksie – wat in 2018 en 2019 jaarliks met 90 miljoen liter gedaal het. Laer beskikbaarheid het hoër wynpryse tot gevolg gehad, wat op sy beurt tot meer volhoubare netto boerdery­inkomste gelei het.

In 2015 was slegs 15% van produsente winsgewend teenoor 28% in 2019. Sekere streke sal egter nog ’n geruime tyd neem om van die droogte te herstel, het hy verder gesê.

Daar word ook verwag dat produsente verlede jaar se oplewing van nuwe aanplantings sal voortsit, met ’n geraamde 4 000 ha wat vanjaar geplant sal word. Hierdie nuwe aanplantings sluit chenin blanc, sauvignon blanc, colombar, chardonnay en pinotage in.

Basson het die wynbedryf in sy voorlegging uitgedaag om sy modelle en strategieë te verfyn. “Ons moet wyn minder elasties maak, waarde groei, Suid-Afrikaanse wyn internasionaal die voorkeurproduk maak, beter internasionale marktoegang beding, die voorsieningsketting vir skaalvoordele konsolideer, doeltreffendheid opskerp en die roete na die mark verbeter.”

Hy het die bedryf ook uitgedaag om vanjaar 13% meer wyn (ongeveer 100 miljoen liter) as verlede jaar te verkoop – dít sonder om wyn in te voer en met behoud van waarde.

“Dit is ’n geweldige uitdaging, maar ek glo ons kan dit met spesifieke ingrypings wêreldwyd en plaaslik regkry, terwyl ons die huidige hupstoot in wyntoerisme tot ons voordeel kan gebruik,” het hy gesê.

“ ’n Noemenswaardige verwikkeling is die feit dat Suid-Afrika ’n handelsooreenkoms met Brittanje, een van ons grootste uitvoerlande, gesluit het waardeur ons 70 miljoen liter wyn tariefvry na Brittanje kan uitvoer ná Brexit. Dít terwyl ons tariefvrye ooreenkoms na die Europese Unie steeds op 110 miljoen liter behoue bly.”

‘Ramarealiteit’ tref

Isaac Matshego, Nedbank-ekonoom, het in sy aanbieding oor die netelige taak gepraat om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstel – ’n proses gekenmerk deur die skuif van “Ramaforie” na “Ramarealiteit”.

Suid-Afrika was die afgelope 72 maande vasgevang in ’n groeikoers van minder as 2% – die langste afwaartse kurwe sedert 1994, het Matshego gesê.

Ekonomiese oplewing gaan waarskynlik nie van verbruikers af kom nie. Verbruikers se inkomste en besteding word deur hoë skuld belemmer, terwyl die uitgebreide werkloosheidskoers (wat mense insluit wat nie werk soek nie) tans op bykans 38% staan.

Lae sakevertroue beteken dat die privaat sektor ook nie die nodige belegging vir ekonomiese groei sal onderneem nie. “Ons moet groeimaatreëls versnel met die regte beleid om nuwe beleggings in Suid-Afrika aan te moedig. Dit is veral noodsaaklik om Eskom te stabiliseer,” het hy gesê.

Matshego het tog sy vertroue in die huidige regering uit­gespreek en hoop dat ’n stabiele regering die ekonomie sal versterk en groei sal stimuleer.

Meesterplan vir landbou

Een positiewe is dat die regering tans aan ’n meesterplan-inisiatief werk, waar hy saam met die sake- en arbeidsektor sal werk om ’n bevorderlike omgewing vir belegging en inklusiewe ekonomiese groei in die landbou- en landbouverwerkingsektor te vestig, het dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, gesê.

Volgens hom neem die onderskeie landboubedrywe tans aan die proses deel en sal die oorkoepelende meesterplan na raming teen einde September gefinaliseer wees.

Hy het ook benadruk dat handelsooreenkomste onontbeerlik vir groei vorentoe is. Sowat die helfte van Suid-Afrika se landbou-uitvoer (in waarde) is vir Afrika bestem, gevolg deur Europa en Asië.

Ooreenkomste soos die AfCFTA (African Continental Free Trade Area) en ’n voorkeur-handelsooreenkoms met Brittanje ná Brexit sal bevorderlik wees vir handel na hierdie twee groot uitvoermarkte. Daar sal egter nog heelwat aandag gegee moet word aan voorkeur-handelsooreenkomste met Asië, ’n mark wat groot geleentheid inhou.

“Dit gaan ’n moeilike jaar wees, maar ek glo dinge sal beter daar uitsien in 2021. Ons kry tans die boublokke in plek hiervoor – ondersteun deur die re­gering se bereidwilligheid om saam te werk.”

Maak wyn lekker

Brandon de Kock, van die verbruikersinsig-agentskap Why­five, het op sy beurt sy insigte oor wynbemarking in Suid-Afrika gedeel.

Hy het gesê daar is ’n groot onderbenutte mark van Suid-Afrikaners wat nie net na iets nuuts en opwindends soek om te drink nie, maar ook die besteebare inkomste daarvoor het.

Wynprodusente moet seker maak dat dié verbruikersgroep hul wyn in hul glase het.

Volgens De Kock verdien bykans 12,5 miljoen Suid-Afrikaners meer as R10 000 per maand. Diegene wat meer as R40 000 per maand verdien, het die afgelope drie jaar met meer as ’n half­miljoen toegeneem.

“Dit is ’n baie opwindende groep om te teiken,” het hy gesê.

De Kock meen verbruikers is toenemend minder gepla oor ouderdom. Wynbemarking behoort eerder op ’n benaderingswyse as ’n ouderdomsgroep geskoei te wees.

“Dink aan boodskappe rakende ontwerp en verpakking wat by enige ouderdom sal pas.”

Volgens hom breek nuwe verbruikers ook weg van nalatenskap en tradisie – hulle soek iets buitengewoons. Vertel dus ’n eenvoudige, outentieke verhaal oor jou handelsmerk wat verbruikers sal onthou, is De Kock se raad.

“Moenie die belangrikheid van kos- en wynervarings onderskat om nuwelinge in die kategorie te lok nie. Sodra jy hulle kry om enige wyn te drink, kry jy hulle om meer te eksperimenteer.”

Lesse uit Australië

Die Australiese wynbedryf beleef tans ’n oplewing, het Andreas Clark, bestuurshoof van die bedryfsliggaam Wine Australia, op die inligtingsdag gesê. Wynuitvoer na Amerika het verlede jaar begin toeneem ná ’n lang afwaartse kurwe van meer as ’n dekade.

Die bedryf geniet ook ongekende sukses in Asië, veral in China, waar Australië Frankryk verlede jaar onttroon het as die grootste wynverskaffer wat waarde betref.

Danksy die China-Australië-vryhandelsooreenkoms betaal Australië sedert Januarie ver­lede jaar geen invoertariewe na China nie, het Clark gesê.

Au­straliese uitvoerders werk ook proaktief aan verhoudings met aankopers in markte soos Amerika en China. “Ons werk hard daaraan om die invloedryke persone in dié markte te beïnvloed, sodat Au­straliese wyn in die geheel beter herken word.”

Nóg ’n waardevolle les is hoe Wine Australia sy bemarkingsboodskap omgeswaai het van ’n generiese boodskap na een wat streke bevorder.

Die Australiese regering het $50 miljoen bewillig vir ’n veldtog om die internasionale vraag na hul wyn onder die leuse “Australian Win­e Made Our Way” te verhoog.

Meer oor:  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.