Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynkompetisies nie altyd ideaal, maar dit bly nuttig
wyn

Met die eerste groot wynkompetisie van die jaar agter die rug, word die gewone aantal jubelende medalje-wenners in die wynlande aangetref.

Dít, tesame met die wynprodusente wat hul wonde oor onder-verwagte prestasies lek.

wyn
Skets: Hanlie Malan

Soos alle wynkompetisies, het die Old Mutual Trophy-wynskou wenwyne gelewer tesame met baie inskrywings wat nie eens ’n bronsmedalje kon in nie. Dis immers die aard van enige kompetisie: om wenners van verloorders te onderskei.

En hoewel daar met wynkompetisies altyd verskeie debatte oor die uitslae sal wees, hou hulle voordele in vir die produsent sowel as die verbruiker.

Dít kry wynboer, -drinker

Vir die produsent bied wynkompetisies ’n nuttige maatstaf om die gehalte van hul produkte te meet teenoor dies van ander wynkelders en -makers. (Opponente is darem te ’n harde woord, hoewel die mededinging onder produsente en verskillende wynstreke besonder fel kan raak.)

Die ander stukkies lokaas wat die kompetisies bied, is daardie silwer- of goue medaljes. Want daardie blink plakker help ’n wyn om uit te staan – dis nie net deelnemers aan kompetisies wat van wenners hou nie, maar wynkopers ook.

Plak jou bottel met ’n ronde blink pronkstuk, en jou verkope styg deur die dak. Dit is deur en deur bewys. Lorraine Immelman, hoof van die Michelangelo-kompetisie – Afrika se grootste wyntoekennings-geleentheid – het nou die dag vir my gesê dat produsente wat verlede jaar vir haar kompetisie ingeskryf het, 40% meer plakkers vir hul bottels bestel as wat die geval in 2017 was.

“Hulle hoor wat die mark sê, en ons gesprekke met kleinhandelaars het dit beaam: die publiek verkies wyne wat by kompetisies bekroon is en gevolglik ’n blink plakker kan uitstal,” het Immelman gesê.

‘Voorkoms ís als’

Hierdie mening is nou die dag weer eens beaam tydens ’n aanbieding by die produsentedag deur die Merlot-forum, ’n liggaam wat Suid-Afrika se Merlot-makers verteenwoordig.

Claudia Gevers van RCA Consulting, ’n agentskap gemoeid met marknavorsing, het verslag gelewer oor ’n studie oor die wynkoop en -drink gewoontes van die sogenaamde Generasie Y – synde mense van wyndrinkende ouderdom jonger as 38 jaar.

Voorkoms is alles vir hierdie klomp, soos ons ouer, meer beleë siele weet.

Die bottels en etikette moet dus stylvol lyk, met die kompetisie se spogplakker wat die kooplus heftiger aanwakker as een daarsonder.

Wat die belang van daardie ekstra blink bemarkingswoema nog meer relevant maak, is die duiselingwekkende aantal verskillende wyne wat op die rakke van supermarkte en wynwinkels aangetref word.

Met om en by 8 000 Suid-Afrikaanse wynhandelsmerke in die omtrek, is kompetisie-uitslae ’n welkome rigtingwyser vir mnr. en mev. Publiek.

Die niksvermoedende wynkoper het omtrent ’n GPS nodig om van die shiraz-rak by die chardonnay-seksie uit te kom, met honderde bottels wat vra om gekoop te word.

Die teenwoordigheid van ’n medalje op die bottel lok die koper nie net op visuele wyse nie, maar onderstreep darem ook die feit dat die wyn goedgekeur is deur ’n paneel “kenners” wat tydens die beoordeling die kaf van die koring geskei het.

Met om en by 8 000 Suid-Afrikaanse wynhandelsmerke in die omtrek, is kompetisie-uitslae ’n welkome rigtingwyser vir mnr. en mev. Publiek.

En die beoordeling?

Betreffende die beoordeling van wynkompetisies is daar voordele en nadele.

Die grootste voordeel is dat alle kompetisies “blind” beoordeel word. Met ander woorde, die proeërs kry net ’n ry gevulde glase sonder dat hulle weet watter wyn daarin lê. Hulle weet net die kultivar en in sommige gevalle die oesjaar. Anders as die Platter-wyngids, laat hierdie anonieme bekyk en beproef van die wyne nie enige bevooroordeeldheid toe nie – iets wat ek glo Platter’s se groot swakplek is.

Die nadeel van die beoordeling tydens ’n wynkompetisie is dat die beoordelaar se taak “werk” is in stede van die “genot” en “ervaring” waarvoor wyn gemaak word en waarvoor ons so lief is.

Om 95 glase halfvol cabernet sauvignon in een dag te proe en ’n punt aan elkeen toe te ken, mag vir oningewydes na hemel op aarde klink.

Maar glo my, nadat jy die 20ste wyn geruik, deur jou mond gespoel en krities ontleed het, raak die hele affêre omtrent so genotvol soos ingroei-toonnael-verwydering met ’n koue staaltang.

Die omstandighede van die beoordelaar se wyn-ervaring verskil dus heeltemal van die end-verbruiker s’n.

As ek self een ding in wynkompetisies kon verander, sou dit wees om die gebruik om wyne in kategorieë te beoordeel, uit te skakel.

Laaste sê

As ek self een ding in wynkompetisies kon verander, sou dit wees om die gebruik om wyne in kategorieë te beoordeel, uit te skakel.

Wanneer die beoordelaar weet hy of sy gaan sauvignon blanc, merlot, cabernet sauvignon of chardonnay proe, word daar reeds ’n aantal vooroordele ingeprent.

Emile Joubert

Neem, as voorbeeld, ’n kategorie soos pinot noir:

Die wyn in die beoordelaar se glas mag uitstekend wees, maar omdat dit ’n Suid-Afrikaanse pinot noir is, kan dit tog nie in dieselfde kategorie van uitnemendheid geplaas word as die groot pinots van Boergondië nie.

Gevolglik bly die punte skraal.

Maar niks sal perfek hier ook wees nie.

En totdat die wynkultuur ’n heeltemal ander wending neem, bly die kompetisiestelsel nuttig vir die bedryf én die publiek.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Wyn  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.