Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynreus rys uit samesmelting

’n Nuwe wynreus met ’n parskapasiteit van 44 000 ton wyndruiwe het in die Robertsonvallei tot stand gekom nadat twee gevestigde wynkelders daar besluit het om saam te smelt.

Die kelders Roodezandt en McGregor sal voortaan as Roodezandt (Edms.) Bpk. bekend staan nadat die lede onlangs ten gunste van die samesmelting gestem het.

Luidens ’n verklaring sal die nuwe maatskappy eers in die tweede helfte van die jaar geregistreer word, maar die 2020-oes word reeds onder die gesamentlike werkinge van die twee kelders gepars. ’n Nuwe direksie word ook gekies.

Op Robertson se nuwe wynreus!Die dagbestuur van Roodezandt se tussentydse direksie is, van links, Francois Naudé, Abé Rossouw, uitvoerende hoof en keldermeester, Ben Kriel, voorsitter, en Charl du Toit, ondervoorsitter.Foto: VERSKAF

Toe tot nou

Roodezandt pars gemiddeld 33 000 ton wyndruiwe wat vanaf 29 ledeprodusente afkomstig is. Dié kelder is in 1953 gestig.

Daarbenewens lewer altesaam 19 ledeprodusente weer jaarliks sowat 11 000 ton wyndruiwe aan die McGregor-kelder – ’n wynkelder met ’n geskiedenis wat van 1948 dateer.

Die twee kelders se persele sal egter steeds afsonderlike logistieke entiteite bly, wat in die behoeftes van die nuwe wynmaatskappy sal voorsien, lui die verklaring verder.

Ben Kriel, die voorsitter van die tussentydse Roodezandt-direksie, meen die amalgamasie vind op ’n tydstip plaas wanneer al twee hierdie kelders ’n hoogtepunt in die bedryf beleef.

“Sowel Roodezandt as McGregor is finansieel stabiel en op ’n goeie plek. Onder die motivering vir die samesmelting tel die behoefte om kompeterend in ’n streek soos Robertson te bly – wat op dié stadium diversifiseer deur hoëinkomste-gewasse aan te plant – asook om hoë insetkoste te stabiliseer. Om volhoubaar met wyndruiwe te boer, moet ons as die nuwe Roodezandt dus die geleenthede aangryp wat ’n groter en meer gediversifiseerde wynentiteit bring.”

Volgens hom is die stigting van dié nuwe wynmaatskappy tot die voordeel van al die aandeelhouers, die kelders se werknemers én die breër Robertsonstreek.

Pad vorentoe

Volgens Francois Naudé, direksievoorsitter van die voormalige McGregor-kelder, is sy lede, bestuur en personeel opgewonde en entoesiasties oor die vooruitsig om deel van ’n “vername, verfrissende en verligte belanghebber” in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te wees.

Hulle sien ook daarna uit om as deel van die nuwe wynmaatskappy na nuwe hoogtes in die wynwêreld te groei.

“Roodezandt en McGregor se infrastruktuur is gerig op die verskaf van gehalte-grootmaatwyn aan die plaaslike en internasionale markte, en ’n mikro-kelder – soos die McGregor-perseel – sal binne hierdie groter opset gewis help met produkontwikkeling,” aldus Naudé.

Hy meen die byeenbring van twee verskillende geografiese wynstreke sal tot die voorsiening van besondere hoë wyngehalte bydra. “Die wingerdgebiede wat die nuutgeskepte Roodezandt nou kan benut, bevat ’n opwindende terroir-diversiteit. Hierdie landskap wissel van diep skaduryke klowe met fyn gruisgronde tot wingerdgebiede geleë teen die Breërivier met sy vrugbare en goed gedreineerde hoë gronde.

“Die fokus van die nuwe maatskappy bly op markgerigte produksie. Al die produsente wat vir ons druiwe lewer, word bygestaan en gelei deur ’n wingerdboukundige wat toesien dat elke wingerdstok optimaal bestuur word met die oog daarop om wyn te maak vir ’n bepaalde mark en teen ’n bepaalde pryspunt,” sê Abé Rossouw, uitvoerende hoof en keldermeester.

“Ons is bevoorreg om toegang te hê tot ’n diverse volume-aanbieding van druifsoorte: van chenin blanc en colombard tot chardonnay, sauvignon blanc, shiraz, cabernet sauvignon en merlot.”

Meer oor:  Mcgregor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.