Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
100 jaar en net vyf wynmakers later

Ná ’n eeu se wynmaak is Alto steeds ’n gunsteling as dit kom by rooiwyn – veral cabernet sauvignon. Tog het hulle onlangs bewys dat hulle baie meer veelsydig en steeds innoverend is.

Die titelakte van dié Stellenbosse plaas dateer terug na 1693, maar die wyngeskiedenis begin by Manie Malan wat vir sy pa, Hennie, gehelp het om die wingerde te stig. Hy het gesien dat die plaas se gronde en hellings ideaal is vir die verbouing van volronde rooiwyndruiwe.

Bertho van der Westhuizen het in 2015 die leisels as wynmakers by sy pa oorgeneem. Hy is die tweede wynmaker in Alto se geskiedenis waar die seun by sy pa oorneem.

In 1919 toe Manie Malan (1919-1959) as die eerste wynmaker begin het, het sy rooiversnit die prototipe vir die Alto Rouge geword. Alhoewel die komponente van die versnit verander het, word dié wyn vandag steeds gemaak.

Elke wynmaker het oor die jare sy eie stempel op die wynreeks afgedruk.

Piet du Toit (1959-1983) het die eerste Alto Cabernet Sauvignon in 1965 bekend gestel terwyl Du Toit se seun, die oud-Springbok Gerhard (Hempies) du Toit, (1983-2000) in sy tyd as wynmaker die eerste Alto Shiraz bekend gestel het.

In die nuwe millennium was Schalk van der Westhuizen (2000-2015) die wynmaker wat die vlagskipwyn M.P.H.S. gemaak het. Elkeen van die vier wynmakers se voorletters is gebruik vir die naam van dié klein volume spesiale wyn wat van die beste druiwe gemaak word.

Daarna het Van der Westhuizen se seun Bertho van der Westhuizen (vanaf 2015) oorgeneem. Hy het in 2015 die Bordeaux-versnit bekend gestel asook vanjaar die splinternuwe Cabernet Sauvignon Rosé – die eerste wyn in die plaas se geskiedenis wat nié rooi is nie.

Dié vyf wynmakers het gehelp om Alto te vorm tot wat dit vandag is: ’n suksesvolle Stellenbosse handelsmerk wat nooit teleurstel nie.

“Dit is onmoontlik om nie bewus te weer van die geskiedenis van Alto nie. As jy dink van alles wat in die afgelope 100 jaar gebeur het – Alto het alles gesien,” sê Bertho van der Westhuizen.

Volgens hom is al die plaaslike en internasionale pryse wat die wyne oor die jare gekry het ook nie die enige maatstaf van hul sukses nie.

Hulle fokus nog al die jare op die terroir en om dit op die beste manier moontlik in die wyne te verteenwoordig.

As jy ’n tikkie van die plaas se geskiedenis wil geniet, moet jy beslis by hulle aanklop vir ’n wynproe.

Nie net het hulle heerlike rooiwyne nie, maar hulle bied ook ’n wyn-en-biltongervaring (R140) waar vyf van hul wyne saam met biltong wat die geure uitbring, voorgesit word. ’n Wynproe kos R50 of R90 afhangend van hoeveel wyne jy proe.

Koop gerus ’n bottel van die Alto Cabernet Sauvignon (R230) – hierdie wyn is gemaak om saam met ’n lekker bord kos te geniet.

Alto is geleë op die Annandale-pad en deel van die Helderberg-wyk. Die proelokaal is van Maandae tot Sondae oop.

* Jou kontak: 021 881 3884

Meer oor:  Stellenbosch  |  Kos En Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.