Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
Bederwe uit die Bo-Kaap

Eg Suid-Afrikaanse kos kan nie genoem word sonder om die Bo-Kaap op die lys te plaas nie en daarom word dié kos hierdie week op Uit die spens gevier. Kykers kan elke week inskakel op VIA (DStv-kanaal 147) en saam kook aan nostalgiese onthoukos uit Die Burger se argief.

André Visser van Cape Town Butler en die mediapersoonlikheid Ivor Pric­e is die twee gaste wat saam resepte uit die Bo-Kaap gaan aanpak en lesers meer gaan leer.

Oudergewoonte gaan twee weergawes van ’n resep gemaak word – die een maak die historiese resep uit die argief en die ander ’n moderne weergawe daarvan.

Dié program word deur Lynelle Kenned aangebied, wat weekliks saam met twee gaste kook.

  • Kyk Uit die spenselke Donderdag om 21:00 op VIA.
  • Lees elke Woensdag Versnitvir ’n onderhoud met een van die gaste wat ’n draai kom maak en die vorige week se resepte.

Leer Ivor ken

Ivor Price

’n Bekende op die kassie maak dié week ’n draai op Uit die spens om agter die potte in te skuif. Ivor Price gaan saam met die ander gas kook en vertel meer van sy liefde vir kos.

1. Wat is jou gunsteling-deel van kosmaak?

Ek kan myself beslis nie as ’n sjef of foodie uitgee nie. Maar die lekkerste deel van kosmaak is beslis die ontvlugting wat dit bied; die kans om vir ’n uur of wat nie na ’n skerm te kyk nie, en gewoon net te verdwaal in ’n kombinasie van geure en smake. Ek geniet dit ook om dinge te ontdek. Om te sien wat gebeur as jy bietjie van dit en bietjie van daai bygooi . . . Kosmaak is ook nogal terapeuties omdat dit gewoon so kreatief is.

2. Waar kom jou liefde vir kos vandaan?

Beslis van my ma, Arthurine, af. Sy staan steeds douvoordag op ’n Sondagoggend op om al voor kerk die middagete klaar te maak. My pa, Wilson, moet al die vorige aand help skil aan die groente. En as gesin eet ons ook weeksaande stiptelik op dieselfde tyd.

3. Jy verskyn in die episode oor die Bo-Kaap. Wat is jou gunsteling- Bo-Kaapse kosse?

Die een ding wat Bo-Kaapse kos van ander onderskei, is die mildelike gebruik van speserye. In die Kaap noem ons dit “mietedjalas”, ’n mengelmoes van speserye en towergoeters wat jy in kos gooi. My gunstelinggereg uit die Bo-Kaap is brijani. Ek bly in Jozi en bestel dit dikwels van ’n Indiese restaurant naby my, maar dit proe nie dieselfde soos die anties by die huis dit maak nie.

4. Wat maak, volgens jou, Bo-Kaapse kos so lekker en gewild?

Die Bo-Kaapse kos is so lekker omdat die mense so lekker kleurvol is.

Elke gereg word hier diep uit jou binneste gemaak. Dit word ’n liefdesdaad. Niks word haastig en vinnig gemaak nie. Selfs iets wat op die oog af eenvoudig lyk, bestaan uit hordes bestanddele wat elkeen ’n baie spesifieke doel dien.

5. As iemand wat nie ’n sjef is nie, watter wenke sal jy vir mense gee vir wanneer hulle mense oornooi vir ete?

Kry vooraf die speellys reg. Ek sukkel om die kos te geniet as daar doef-doef-nonsens in die agtergrond speel. En die belangrikste wenk is om die grootste deel van die kosbesigheid vooraf klaar te maak.

Daar is vir my niks so erg soos ’n gasheer wat heeltyd in die kombuis is en nie deel is van die geselskap nie.

Meer oor:  Ivor Price  |  Versnit  |  Uit Die Spens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.