Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
Is jy ‘Honger’? Piet en Frik kan help!

Kykers van Via (DStv-kanaal 147) se gewilde kompetisieprogram Laat die potte prut sal die gesigte van die sjefs Piet Marais en Frik Oosthuizen baie goed ken.

Frik Oosthuizen en Piet Marais verruil die potjiekospotte vir ’n splinternuwe kosprogram op Via. Foto: Verskaf

Dié twee manne is deesdae weer op die Afrikaanse leefstylkanaal – maar dié keer in ’n baie ander TV-program.

In die kosprogram Honger reis die duo die land plat om met van Suid-Afrika se interessantste en opwindendste bestanddele te kook.

Dié twee sjefs deel meer oor die TV-program en ’n eenvoudige uithalerresep vir jou volgende spogete.

In julle eie woorde: waaroor gaan Honger?

Frik: Honger gaan vir my oor ons twee wat na nisbestanddele soek vir ons spysenieringsbesigheid en gees bou met die vervaardigers en onsself en mekaar uitdaag om die beste moontlike gereg voor te berei met die awe­some bestanddele wat ons gevind het. Niks soos ’n bietjie kompetisie nie!

Piet: Ek en Frik het ’n spysenieringsbesigheid en is konstant besig om nuwe verskaffers en interessante bestanddele te soek. Honger gaan oor dié proses en in elke episode ontwikkel ons twee resepte saam met die produsent en kies die beste een vir ons spyskaart.

Wat het jou laat besluit om ’n loopbaan in die koswêreld na te streef?

Frik: Ek dink om goeie en lekker kos te kan voorberei is ’n lewensvaardigheid wat elke mens moet aanleer. Ek het nog altyd van kosmaak gehou soos ek grootgeword het en was gereeld in die kombuis saam met my ma of voor die vuur met my pa. Ek sal sê toe ek in 2009 teruggekeer het van Australië waar ek ’n jaar op ’n beesplaas in die Outback was, het ek besef hoe belangrik dit is om met net ’n paar bestanddele ’n ete aanmekaar te slaan. Dit het my gemotiveer om ’n diplomakursus te voltooi by die ICA in Stellenbosch.

Piet: Ek het van kleins af begin kook, hoofsaaklik omdat my ouers serious buitelugmense is en ons van kleins af blootgestel het aan veldkos, hengel en sampioenjag. Van daar af was dit ’n natuurlike pad na restaurante toe ná ek by die ICA studeer het.

Julle bestuur saam jul onderneming, Santa Anna’s. Vertel vir ons die storie van hoe julle hierdie besigheid saam begin het.

Piet: Santa Anna’s was veronderstel om net ’n naweekbesigheid te wees by die Getaway-skou in 2013. Ons wou mense blootstel aan taco’s, maar het te veel porsies voorberei, toe besluit ons om dit na kosmarkte te vat. Ons het só gesien daar is nogal ’n aanvraag na tortillas en mielieskyfies en het ná heelwat wyn by Root44 besluit om die besigheid aan die gang te kry.

Watter een van die Honger-episodes wat julle al geskiet het sal jou altyd bybly?

Frik: Ek sal sê die episode by Karoo Smart Organic. Regte harts­mense op die plaas en die sonsondergang, gedeel saam die crew nadat ons amper klaar geskiet was aan die reeks.

Piet: Die episode saam met Gourmet Grubb het vir my uitgestaan. Volhoubaarheid in innoverende oplossings vir voedselprobleme vir die toekoms is iets wat my baie interesseer.

Enige snaakse agter-die-skerms-stories wat julle met ons kan deel?

Frik: Daar is heelwat! By Piquet Buchu het ons assistentsjef die tweede gereg wat nog verfilm moes word, skoongemaak en weggepak voor ons daarby uitgekom het, net toe ons reg was om te vertrek. Ons moes vinnig ’n plan maak om twee geregte weer bymekaar te sit om die dag se episode te voltooi.

Piet: Ons het in Vishoek ’n episode saam met Justin Bonello gedoen oor ’n skool-groenteprojek. Terwyl ons besig was om die afronding te doen van ons geregte het die crew gedink ons is klaar met een bestanddeel, croutons, en daaraan begin peusel. Hulle eet dit toe sommer op en toe dit by die finale shot kom, moes ons nuwe brood gaan kry siende dat hulle al die croutons opgeëet het. Ons het van toe af na hulle verwys as die crew-tons.

Wat is die beste kosmaak-wenk wat iemand al vir jou gegee het?

Frik: Jy gooi hom sout! Hy’s lekker!

Piet: Ja, gooi sout in jou kos!

Wat is die drie bestanddele wat altyd in jou koskas sal wees?

Frik: Sout, olyfolie en knoffel.

Piet: Botter, suurlemoen en sout.

Wat sou jy wou hê moet jou laaste maaltyd wees?

Frik: Steak, tjips, en béarnaise-sous.

Piet: Gebakte skaapkop, wilde sampioene wat onder dennebome groei, bruin forel uit ’n rivier gevang, Beluga-kaviaar en volhoubare foie gras met ’n suurdeegbrood en plaasbotter.

  • Nuwe episodes van Honger wys elke Dinsdag om 17:30 op Via (DStv-kanaal 147) met her­uisendings op Saterdae om 18:00. ’n Nuwe seisoen van Laat die potte prut begin 30 Julie in ’n nuwe tydgleuf, op Dinsdae om 20:30.
Meer oor:  Piet Marais  |  Versnit  |  Kos  |  Resepte  |  Via
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.