Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
Nie eens die droogte kon pinotage-gehalte kelder nie

Die beoordelaars van die Absa Top-10 Pinotage-kompetisie deel hul indrukke ná afloop van die beoordeling. Die wenners word 14 Augustus tydens ’n geleentheid by Boschendal aangekondig.

Winnie Bowman, sameroeper van die paneel en Kaapse wynmeester:

“Dit is wonderlik om reekse van dieselfde oesjaar te proe en insig in die verskillende style, terroir en uitdrukkings te kry. Dit was ook baie interessant om die impak van die droogte op die wyne te sien en hoe wynmakers die situasie hanteer het.

“Oor die algemeen was daar baie verskeidenheid, balans, vars geure en nie te veel van die koffie-style nie – dit lyk of wynmakers wegbeweeg daarvan.”

Greg Sherwood, ’n wynmeester gebaseer in Londen:

“Pinotage is ’n komplekse kategorie van diverse style, maar dit bly ’n genre wat nie opsy geskuif wil word nie. As jy die balans, elegansie, varsheid en die gebruik van hout saam met onder meer matige rypheid reg kry, het jy die boublokke vir ’n goeie wyn.

“Van die oesjare was soos verwag en ander nie. Dit was ’n deeglike, genotvolle eerste Absa Top-10 beoordelingservaring.”

Frans Smit, keldermeester van Spier:

“Die term ‘pinotage is vergewensgesind’ is pas bewys om nié korrek te wees nie. Die oesjaar- weerspieëling was baie duidelik en ek het dit baie geniet om deur die jare/oesjare te werk. Ek hou daarvan dat ek baie gebalanseerde wyne gesien het met smake wat lank op die palet bly.

“Die wyne wat hoë punte gekry het, is van goeie gehalte ek dink die top-20 wyne sal pragtige wyne wees.”

Razvan Macici, bekroonde wynmaker:

“Oor die algemeen is die wyne pragtig gemaak met aandag aan balans. Daar was goeie gebruik van hout en ’n kenmerkende afwesigheid van die ‘koffie-style’ – dié mode begin verdwyn.

“Van die ouer oesjare wys donker kleur, donker vrug en mooi gehalte. Van die jonger wyne is net so goed gemaak en gaan goed ontwikkel in die toekoms. Dit is ’n wonderlike geleentheid om die beste pinotage in SA te proe.”

Nomonde Kubheka, wynmaker en verbonde aan die Pinotage Youth Development Academy:

“Van die oesjare het sterk vrug getoon met hout wat prominent, maar gebalanseerd is. Ander oesjare se wyne het weer te veel hout gehad, maar meeste van die wyne was goed gebalanseerd. Een oesjaar het baie uitgestaan en ek het daarvan gehou.

“Oor die algemeen was die wyne skoon, goed bestuur, in balans en ek dink die foutiewe wyne was baie min.”

Solly Monyamane, protégé:

“Daar is ’n groot verskil in die oesjare van die afgelope paar jaar en natuurlik het die klimaat ’n groot rol daarin gespeel. Die karakter van die druifsoort vertoon gelukkig kenmerkend oor al die jare.

“Die kategorie vir pinotage is baie anders as jare gelede. Pinotage is op ’n baie opwindende reis met die gehalte wat nie swakker raak nie – die wyn is anders in elke oesjaar, maar dit is opwindend dat die gehalte nog net so goed is.”

Meer oor:  Beoordelaars  |  Kos En Wyn  |  Wyntoekennings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.