Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
Pinotage-wynmakers plant vlaggie verder

Die eg Suid-Afrikaanse druifsoort pinotage is verlede week gevier deur die tien beste wyne in die land aan te kondig.

Die 2019 Absa Top-10 Pinotage-wenners is verlede Woensdag by Boschendal aangekondig en dié wyn se eienskappe en toekoms is tydens die dag besing.

Beyers Truter, voorsitter en stigter van die Pinotage Assosiasie, het die verskillende pino­tagestyle wat vir die kompetisie ingeskryf is, geprys en gesê enigeen kon wen. Volgens hom bly pinotage se gehalte verbeter en hou die mark daarvoor plaaslik en oorsee aan groei.

Die groot wenners van die dag. Op die foto is agter van links John Tshabalala (Absa), Gert van Wyk (Overhex), Tina Playne (Absa), Pieter Badenhorst (Fleur du Cap – Distell), Braam Gericke (Wildekrans), Stander Maass (Anura), Anri Truter (Beyerskloof), Faisal Mkhize (Absa) en Guy Webber (Hill & Dale) Voor is Beyers Truter (Pinotage Assosiasie), Abrie Beeslaar (Kanonkop), Debbie Thompson (Simonsig), Henri Swiegers (Badsberg), Mari Branders (Diemersdal), Matthew Copeland (Vondeling), Tiger Dorrington (Rijks) en Anthony de Jager (Fairview)

“Wat ek bemoedigend vind, is die verskeidenheid van style wat moontlik is met pinotage.

“Hierdie jaar strek die besonderse groep wenners oor ses wynstreke, elkeen met hul eie unieke styl, karakter en uit­dagings.

“Ons jong wynmakers is ’n dapper groep en verskuif die grense van wat hul onderskeie streke kan bied in terme van nie net kwaliteit nie, maar ook diversiteit,” sê Truter.

“Pinotage is sinoniem met Suid-Afrika en veral Stellenbosch, wat met ses wyne in die top-20 gespog het.

“Die toekoms van pinotage in Suid-Afrika is opwindend, maar daar is ’n paar goed wat gedoen moet word om dit so te hou,” sê hy.

Vanjaar se drie museumklaswenners is Guy Webber (Hill & Dale), Anthony de Jager (Fairview) en Tiger Dorrington (Rijk’s).

Volgens Truter wil hulle hê die inkomste van pinotage moet teen 2025 verdubbel word.

“Ons moet meer pinotage in bottel as in grootmaat verkoop. Die wyne is só goed dat alles gebottel kan word. Dus word hoër pryse vir die druiwe en wyn gekry.”

Hy sê die Pinotage Assosiasie, Absa asook die drinkers en ondersteuners van pinotage het gehelp om die vraag na dié druifsoort te verhoog.

“Dis ook nou die tyd om van pinotage ’n premiewyn te maak en om internasionale erkenning daarvoor te kry,” sê hy.

Truter meen dat die internasionale mark pinotage aan Suid-Afrika en sy verskillende wynstreke moet koppel, soos wat hulle met internasionale druifsoorte maak.

Hy het afgesluit met ’n tikkie wysheid en aanmoediging om dié druifsoort te drink: “Pino­tage is die beste medisyne vir al jou pyne.”

Beyers Truter, stigter en voorsitter van die Pinotage Assosiasie, klink ’n glasie op dié druifsoort en die wenners.

Tina Playne, Absa se uitvoerende bestuurder van sektore en segmente, sê Absa se vennootskap met die Pinotage Assosiasie is baie lonend.

“Ons is al 23 jaar deel van die pinotage-reis en is seker dat die wonderlike vennootskap sal voortbestaan, maar ook floreer.

“Geluk aan al die wenners en finaliste en gaan voort met wat julle doen. Besef dat ons nie net die toptien se sukses vier nie, maar ook jul bydrae tot agri­sake, een van die pilare van die Wes-Kaap se ekonomie,” sê sy.

Die 2019 Absa Top-10 Pinotage-wenners is ’n versameling van pinotage wat oor ses wynstreke strek. Foto’s: ANDREW GORMAN

Meer oor die wenwyne

Vanjaar se toptien kom uit ses verskillende wynstreke van die land, met Stellenbosch en die Paarl wat die meeste wenners gehad het met onderskeidelik drie en twee wyne.

Kanonkop het ook geskiedenis gemaak deur ’n 14de jaar onder die toptien te wees. Kanonkop se wenwyn is vanjaar die oudste van die toptien en ook die enigste wenner van die 2015-oesjaar.

Beyerskloof het sy negende trofee opgeraap en Simonsig se wyn was die derde wenner uit Stellenbosch.

Jonger wyne is ook vereer, met Diemersdal en Badsberg wat albei met ’n 2018-oesjaar wyn gewen het.

Die 2016-oesjaar was die groot wenner met vier wenners van dié jaar met wyne van Vondeling (sy eerste wen in die kompetisie), Anura, Fleur du Cap en Wildekrans.

Overhex se Survivor-wyn was saam met Beyerskloof en Simonsig deel van die 2017-oesjaar.

2019 Absa Top-10 Pinotage-wenners
  • Anura Reserve 2016

    WO: Simonsberg-Paarl

    Wynmaker: Stander Maass

  • Badsberg Pinotage 2018

    WO: Breedekloof

    Wynmaker: Henri Swiegers

  • Beyerskloof Winemaker’s Reserve Pino­tage 2017

    WO: Stellenbosch

    Wynmaker: Anri Truter

  • Diemersdal Pino­tage Re­serve 2018

    WO: Durbanville

    Wynmaker: Thys Louw

  • Fleur du Cap Series Privée Pinotage 2016

    WO: Kusstreek

    Wynmaker: Pieter Badenhorst

  • Kanonkop Pinotage 2015

    WO: Simonsberg-Stellenbosch

    Wynmaker: Abrie Beeslaar

  • Survivor Pinotage 2017

    WO: Swartland

    Wynmaker: Ben Snyman

  • Simonsig Redhill Pinotage 2017

    WO: Stellenbosch

    Wynmaker: Debbie Thompson

  • Vondeling Bowwood Pinotage 2016

    WO: Voor-Paardeberg

    Wynmaker: Matthew Cope­land

  • Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016

    WO: Botrivier

    Wynmaker: Braam Ge­ricke
Die naaswenners
  • Lutzville Francois le Vaillant Pinotage 2016

    WO: Lutzville-vallei

    Wynmaker: Christoff de Wet

  • Diemersdal MM Louw Pinotage 2017

    WO: Durbanville

    Wynmaker: Thys Louw

  • Kanonkop Pinotage 2017

    WO: Simonsberg-Stellenbosch

    Wynmaker: Abrie Beeslaar

  • KWV The Mentors Pinotage (Coastal) 2017

    WO: Kusstreek

    Wynmaker: Izéle van Blerk

  • Môreson The Widow Maker Pinotage 2016

    WO: Stellenbosch

    Wynmaker: Clayton Reabow

  • Simonsig Redhill Pinotage 2016

    WO: Stellenbosch

    Wynmaker: Debbie Thompson

  • Viljoensdrift River Grandeur Single Vineyard Pinotage 2017

    WO: Robertson

    Wynmaker: Fred Viljoen

  • Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2015

    WO: Botrivier

    Wynmaker: Braam Gericke

  • Windmeul The Legend Collection Pinotage 2017

    WO: Kusstreek

    Wynmaker: Abraham van Heerden

  • Windmeul Pinotage Reserve 2016

    WO: Paarl

    Wynmaker: Abraham van Heerden

Museumklaswenners

Vir ’n derde jaar is produsente gevra om pinotagewyne in te skryf wat ouer as tien jaar is. Dié wyne wys die wonderlike verouderingspotensiaal van pinotage.

Fairview Primo Pino­tage 2007

WO: Kusstreek

Wynmaker: Anthony de Jager

Hill & Dale Pinotage 2007

WO: Stellenbosch

Wynmaker: Guy Webber

Rijk’s Private Cellar Pinotage 2009

WO: Tulbagh

Wynmaker: Pierre Wahl

Die kompetisie in syfers
  • Die kompetisie is vanjaar die 23ste keer aangebied.
  • Altesaam 161 wyne is ingeskryf.
  • Ses beoordelaars was deel van die paneel: Winnie Bowman, Greg Sherwood, Razvan Macici, Nomonde Kubheka, Frans Smit en Solly Monyamane.
  • Elke jaar word tien wenners en tien naaswenners aangekondig.
  • Drie museumklaswyne word jaarliks gekies.

Meer oor:  Kos En Wyn  |  Pinotage  |  Versnit  |  Wyntoekennings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.