Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
Van Vlakte na voorste wyn-entrepreneur

Sy is twee keer toegang tot die Elsenburg-landboukollege geweier, maar vanjaar is die wynmaker Carmen Stevens as die Kleinsake Entrepreneur van die Jaar aangewys.

Die Kaapse wynmaker Carmen Stevens is onlangs aangewys as die Kleinsake Entrepreneur van die Jaar.

Stevens het onlangs dié prys by die 31ste Entrepreneur van Jaar-kompetisie, wat deur Sanlam en Business/Partners geborg word, se jaarlikse toekenningsgeleentheid ontvang.

Stevens, ook die stigter van die kleinskaalse wynmakery Carmen Stevens Wines op Stellenbosch, is nie net erken vir haar uitnemendheid nie, maar ook vir toewyding aan haar gemeenskap.

“Ek het volle vertroue in die produk wat ons produseer en die onderneming wat ek gebou het, maar elke prys dien as bewys vir al die harde werk wat ons insit, dag in en uit.

“Om vir my passie erken te word, is nog ’n oorwinning vir my,” sê Stevens, wat van die Kaapse Vlakte kom.

“Dit is ’n groot eer en voorreg om die erkenning te ontvang, omdat die wynbedryf deur mans oorheers word.”

Stevens moes talle struikelblokke oorkom om die wynbedryf te betree. Sy is weens haar velkleur twee keer toelating tot Elsenburg geweier – in 1990 en 1991. Sy het haar egter nie laat onderkry nie en is uiteindelik in 1993 aanvaar.

In 1995 het sy as Suid-Afrika se eerste swart wynmaker graad gevang.

Daarna het sy haar tande by talle plaaslike wynprodusente geslyp en in 2011 haar eie onderneming gestig. Sy was ook vir een oes by ’n wynplaas in Kalifornië.

Carmen Stevens Wines, haar onderneming, is die eerste wynkelder in swart besit in Suid-Afrika.

95% van haar wyne word onder die Catoria-handelsnaam (’n versnit van haar dogters se name – Caitlin en Victoria) na Brittanje en Amerika uitgevoer en word ook via die aanlyn wynhandelaar Naked Wines bemark.

Hoewel Carmen Stevens Wines klein begin het, verwerk die kelder vandag 150 ton en het in 2018 ’n omset van R8,1 miljoen gehad.

Ek wil ook graag hê dat my kliënte kan ervaar wat ons doen en ons wyn saam met ons kan proe.

Stevens, wat meer as 23 jaar in die wynbedryf is, skryf die sukses van die onderneming toe aan konstante innovasie.

“Ons is baie gefokus op innovasie! Ons produseer selfs ’n veganis-vriendelike wyn en het twee nuwe aanbiedings geskep; ’n petite sirah en carménère, wat onderskeidelik Australiese en Chileense druifsoorte gebruik.”

Stevens sê sy het groot planne vir die toekoms. Sy wil aanhou doen wat sy liefhet, terwyl sy teruggee aan haar gemeenskap en behoeftiges ondersteun.

“My doel is om binne die volgende vyf jaar ’n tuiste vir my wyn te hê en om my eie wingerde te besit. Op hierdie manier kan ek meer vroue ’n tweede kans op ’n beter toekoms gee.

“Ek wil ook graag hê dat my kliënte kan ervaar wat ons doen en ons wyn saam met ons kan proe,” sê Stevens.

Dié wynmaker is ook passievol oor die belangrikheid van goeie onderrig en gesonde voeding vir kinders.

Sy het ook die Carmen Stevens-stigting begin om ’n verskil te maak. Sy ondersteun onder meer die Peninsula School Feeding Association met ’n sopkombuis.

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Wyn  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.