Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Versnit
Vergeet van warm dae – hiér is winter koning

Die Eikestad is beslis die Boland se juweel in die winter, maar dis die Stellenbosch Berg-wyk se uitsigte wat sommer asems wegslaan, skryf Suzaan Potgieter.

’n Bietjie son op koue dae lok besoekers by die dosyne na Kleine Zalze vir ’n wynproe. Foto’s: VERSKAF

Daar is soveel voordele verbonde aan besoeke aan Stellenbosch in die koue maande dat jy nie anders sal as om die verwarmer en komberse te wil agterlaat nie.

Nie net is dié Bolandse dorp mooi tydens die winter nie, maar daar is ook minder toeriste en die kaggels brand in byna elke proelokaal. ’n Ander voordeel is al die spesiale winteraanbiedinge wat van die beste restaurante aanbied.

Met lente wat minder as twee maande weg is, is dit nou tyd vir ’n besoek aan dié wynvallei. Waarvoor wag jy?

Prentjiemooi in Jonkershoek

Die rit deur die Jonkershoekvallei is een van vele bederwe wat wag wanneer jy Stark-Condé gaan besoek.

Hier kan jy aansluit vir ’n wynproe en iets eet terwyl jy uitkyk na die dam en berg en die natuurskoon inneem.

Of jy ’n heerlike witwyn, verfrissende rosé of rooiwyn om die koue te bekamp soek – hier is iets van alles.

Probeer die Round Mountain Sauvignon Blanc 2018 (R185) met sy vars, vrugtige palet en goeie suur, die syrah (R195), en die Three Pines Cabernet Sauvignon 2016 (R360).

Sluit ook aan die by die restaurant Postcard Cafe vir ontbyt of ligte middagetes.

Ontbyt sluit in ’n gebakte croissant met ham en kaas (R84), ’n frittata (R86) en ander lekkernye soos piesangbrood, skons en omelet.

Ligte middagetes is onder meer quiche, seekos, pasta, bredie en vele meer.

Al die wyne is ook beskikbaar in die restaurant teen proelokaalpryse per bottel en per glas of kraffie.

Die proelokaal is Maandae tot Sondae oop en die restaurant Woensdae tot Sondae.Jou kontak: 021 861 7703 (proelokaal) en 021 861 7703 (restaurant)

Die wyn-en-sjokolade-ervaring by Waterford is iets wat jy móét probeer.

Altyd ’n lekker tyd

Of jy gaan vir wynproe of eet – teleurstelling is nie ’n opsie by Kleine Zalze nie.

Hier kan jy ure buite sit, wyn drink, die uitsig geniet en ’n ontspanne atmosfeer inneem.

Met ’n wye seleksie van bekroonde wyne is alles lekker, maar daar is ’n paar wat uitstaan. Die gunsteling op die wynlys sluit in die brut of brut rosé MCC (R128), en wingerd-seleksie-reeks se Chenin Blanc Barrel Fermented 2018 (R108), Sauvignon Blanc 2018 (R108) en Cabernet Sauvignon Barrel Matured 2017 (R148). Almal toon goeie vrug, goeie gebruik van hout en is elegant op die palet.

Die vier wyne van die familie- reserwe-reeks is nie vir proe beskikbaar nie, maar jy sal nie spyt wees as jy ’n paar bottels aanskaf nie. Probeer ook wyne in die kelder-seleksiereeks – dit kos tussen R59 en R77 per bottel en bestaan uit heerlike, ligter en maklik drinkbare wyne.

Wynproeë kos R15 vir drie wyne en R25 vir vyf wyne.

Tot 30 September kan jy ook by die Terroir-restaurant aanklop vir ’n lekker aanbod wat jy nie moet misloop nie.

Dit kos R295 vir ’n tweegang- en R395 vir ’n driegangmaaltyd wat elke met twee glase wyn bedien word. Die restaurant se gewilde garnaal-risotto en vele ander heerlike disse is op die spyskaart.

Kleine Zalze se proelokaal is Maandae tot Sondae oop en Terroir is Dinsdagmiddae tot Sondagmiddae oop.Jou kontak: 021 880 0717 (proelokaal) en 021 880 8167 (Terroir)

Draai na Blaauwklippenpad

Met slegs ’n klein hoeveelheid wyn wat jaarliks beskikbaar is, sal jy by Klein DasBosch self moet gaan aanklop om dié wyne te proe.

Slegs vyf hektaar wingerd is op die plaas geplant en word gebruik om gehalte-, vrugtige wyne te maak.

Die wynreeks sluit verskeie wyne soos onder meer sauvignon blanc, chardonnay, shiraz, ’n Bordeaux-versnit en ’n Rhone-versnit in. Probeer gerus die Klein DasBosch Cabernet Sauvignon 2016 (R170) en die Merlot 2016 (R170) – twee heerlike winterwyne.

Afhangend van hoeveel wyn jy wil proe, kos dit tussen R10 en R60 vir proeë.

Die restaurant bedien onder meer ontbyt (croissants, eiers Benedict, omelet, en meer), ligte middagetes en ’n volledige middagetespyskaart wat uit voorgereg, hoofgereg en nagereg bestaan. Van die middagetedisse sluit in vis, steak, pizzas en burgers.

Die proelokaal en restaurant is van Woensdae tot Sondae oop. Jou kontak: 021 880 0777

Dis ’n ware plaas-affêre by Kleinood – kompleet met lekker kuiers en wyn.

Genot van die plaas

Met die eendjies wat baljaar in die water voor die proelokaal, is die plaaslewe by Kleinood ’n welkome ervaring.

Hier neem die rustigheid oor en voel dit of jy in ’n gans ander wêreld is as jy ’n bietjie op die plaas rondloop. Daar is mooi tuine, ’n dam met ganse, donkies en hoenders wat oral op die plaas gesien kan word – ’n bederf vir die kleinspan.

Om nóg ontspanning by te voeg is hul reeks wyne ook topklas en sal jy na ’n wynproe ’n bottel wíl koop om net daar op die plaas te geniet.

Die Tamboerskloof Viognier 2018 (R170) met sy blom-aromas met perske en appelkoos geure is beslis ’n gunsteling op die lys. Probeer ook die Katharien 2018 (R125) wat ’n syrah rosé is en die Syrah 2015 (R220) waar die kelder wys wat hulle alles met syrah aanvang.

Dit kos R85 om die wyne en olyfolie te proe en sluit ’n toer van die tuin en deur die kelder in.

Die proelokaal is Vrydae en die eerste Saterdag van elke maand oop vir besoekers. Maandag tot Donderdag is slegs per afspraak.Jou kontak: 021 880 2527

Fauna, flora en wyn

Dis nie net die wyn wat van Waterford so ’n gewilde bestemming maak nie, want die besoek aan die plaas is net so spesiaal.

Hier streef hulle daarna om al die sintuie van besoekers te prikkel met die ervarings wat hulle bied.

Hier gaan jy ’n redelike tydjie benodig om die hele reeks wyne te proe, maar dit is beslis die moeite werd.

As jy beperkte tyd het, moet jy Rose-Mary 2018 (R116) rosé, Chardonnay 2016 (R272), Cabernet Sauvignon 2016 (R356) en die Kevin Arnold Shiraz (R320) proe. Die wyne is almal lekker, vrug gedrewe en daar is goeie balans op die palet.

Om ’n seleksie van wyne te proe kos R90.

Die wyn-en-sjokolade-ervaring (R95) is ook ’n moet. Die uiteensetting is goed deurdink en bring die mooi smake van die drie wyne na vore.

Daar is ook wynstaptogte en wynsafari’s op die plaas.

Waterford is van Maandae tot Saterdae oop.Jou kontak: 021 880 5300

Meer oor:  Boland  |  Kos En Wyn  |  Wynproe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Die Burger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.