Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
3-jarige veg om lewe

’n Peuter veg om sy lewe in die Rooikruis-kinderhospitaal nadat hy deur die private voertuig van ’n plaaslike polisiebeampte getref is.

Die motor behoort glo aan ’n polisievrou van die Strand-polisie wat ten tyde die voorval agter die stuurwiel was.

’n Driejarige seuntjie van Casablanca is ernstig in die botsing, wat verlede Donderdag (6 Februarie) gebeur het, beseer.

Volgens ’n woordvoerder van die Strand-polisie het die botsing omstreeks 16:30 naby die hoek van Sercor-rylaan en Broadway Boulevard gebeur. Die polisiewoordvoerder het gesê die peuter, wat glo deur sy ma in die sorg gelaat is van ’n inwoner wie se huis naby die botstoneel is, het oor die pad gehardloop toe hy getref is.

“Die bestuurder beweer die kind het skielik voor die voertuig verskyn en hoewel sy onmiddellik die remme aangeslaan het, was die botsing onvermydelik,” het die woordvoerder gesê.

Volgens die ER24-woordvoerder Werner Vermaak het paramedici kort ná 16:30 op die voorval gereageer. Vermaak sê met hul aankoms is die seuntjie in die pad aangetref.

“Hy het erge kopbeserings en ander frakture opgedoen. Paramedici het die seuntjie op die toneel gestabiliseer en die helikopter van die Rooikruis se Air Mercy Service (AMS) ontbied om die jong pasiëntjie na die Rooikruis-kinderhospitaal vir verdere mediese behandeling te neem,” het Vermaak gesê.

“Die presiese omstandighede wat tot die botsing gelei het, is steeds onbekend. Die bestuurder van die voertuig is nie beseer nie. Die kind se ma het later op die toneel aangekom.”

Die seuntjie se 39-jarige ma het vertel dat sy met die voorval besig was om ’n nuwe blyplek te soek omdat hulle gereeld by hul huidige woonplek deur inbrekers geteiken word.

Die ouer vermoed dat haar seuntjie met ’n groep ander buite gespeel het toe hy die pad wou oorsteek en deur die motorvoertuig getref is.

“Ek het die nuus omstreeks 17:00 ontvang en my onmiddellik na die toneel gehaas. Om my seuntjie so leweloos te sien lê . . . Sjoe, die hartseer prentjie was nie maklik om te aanskou nie,” het sy gesê.

Die ouer het haar gevoelens oor die voorval bekend gemaak en gesê: “Ek is só kwaad oor wat gebeur het, maar ek probeer sterk wees vir my kind. Dit is nou die belangrikste om vir hom daar te wees.”

Die besorgde moeder het verder gesê haar seuntjie sterk onder verdowing in die hospitaal aan.

“Hy is ’n klein vegtertjie, nes sy ma. Ek glo en vertrou hy sal ten volle herstel en binnekort weer tuis wees.”

Die Strand-polisie ondersoek ’n klag van roekelose en nalatige bestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.