SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Antieke motors herleef deur Jan
06 September 2018

Dit het begin as aandenkings vir sy kleinkinders, maar toe die gogga eers byt, kon niks Jan Paanakker, wat op die ouderdom van 87 jaar nog met sy talente woeker om miniatuur- antieke motors uit hout te maak, keer nie.

In die Paanakker-egpaar se woning in Somerset-Wes vertel Jan die idee het gekom ná ’n vroeëre besoek aan die Rupert-motormuseum.

“Dit was in 2011 toe die kleinkinders uit Australië saam met hul ma kom kuier het. Ek wou vir [hulle] iets maak – nie as speelding nie, maar as aandenking – wat hulle kan hou. Ek het foto’s geneem van al die motors en vir hulle gesê hulle moet elkeen kies waarvan hulle hou en dan sal ek dit vir hulle maak.”

Met die foto’s as verwysing het hy tot in die fynste detail die presiese replika van die antieke motors in miniatuur-modelle opgebou.

“Toe ek klaar was daarmee, het ek besluit om aan te gaan en ander ook te maak – sommer net vir die aardigheid daarvan.”

Elke motor kom ook met sy eie agtergrond, hetsy ’n vulstasie of plaasskuur, en elke motor het sy eie boks vir veilige bewaring.

Jan se passie vir houtwerk kom van kindsbeen en die talle houtmeubels in die Paanakker-woning getuig van sy besonderse talent en vakmanskap.

Jan, wat in Holland gebore is, herroep herinneringe uit sy kinderdae toe hy en sy pa in die wintermaande saam houtsnywerk gedoen het. Waar hy in die leefvertrek sit, hang ’n antieke houtklok bo sy kop wat hulle nog saam gemaak het en wat vandag as kosbare aandenking van ’n spesiale oomblik tussen pa en seun dien.

Paanakker het in 1953 na Suid-Afrika verhuis, en woon sedert 1963 saam met sy vrou, Minsie, in Somerset-Wes waar hy oor die jare as superintendent van werke by die destydse Somerset-Wes-munisipaliteit betrokke was by die aanlê van rioolaanlegte, bou van damme, restourasie van geboue, die oprig van straat- en dorpnaamborde en dies meer.

“Ek kan my altyd net verkyk aan sy handewerk, hoe hy al die fyn detail inwerk,” vertel ’n trotse Minsie oor haar eggenoot se kunswerke. “Hy skep,” som sy dit op. Daarop antwoord Jan: “Ek het net een woord daarvoor – geduld. As dit nie na my sin is nie, skuif ek dit eenkant toe en begin oor.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.