Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Brei-brei help sy ander

Ná haar man se dood moes sy haarself besig hou.

Ilien Brighton (60) se man is twee jaar gelede skielik dood en sy moes besluit of sy in sak en as gaan sit en of sy haar gaan besig hou en iets vir ander beteken.

“Ek was nog altyd lief vir brei en het besluit om verskillende artikels te brei soos speelgoed, kombersies en bedsokkies en dit vir die minderbevoorregte mense te skenk,” vertel Ilien.

Ilien woon nou al amper 40 jaar in Somerset-Wes en het ’n passie vir haar gemeenskap. “Dit is nie lekker om te sien hoe die gemeenskap agteruitgaan nie. Armoede is aan die orde van die dag en dis gewoonlik die kinders wat daaronder ly,” sê sy.

Dit was kort voor Kersfees dat Ilien besef het sy kan iets vir ander, en veral kinders, beteken. “Ek het begin rondvra vir verskillende breipatrone en het die oulikste speelgoedpatrone gekry. Ek het dadelik aan die werk gespring, wol gekoop en begin brei.”

Ilien wys trots na haar skeppings en tussen die Kersvaders, Pinochio-mannetjies, olifante en Britse soldate kan jy sien waarom die kinders Ilien se speelgoed geniet. “As ek klaar is met ’n speelding, wil my kleinkinders ook só een hê. Ek moet dan verduidelik dat die geskenke eintlik vir minderbevoorregte kinders uitgedeel gaan word.”

Sy het 40 verskillende speelgoed gebrei en dit vir die kinders van Chris Nissen-park uitgedeel. “Die uitdrukking op hul gesigte het my net weer laat besef dat die dae se brei en laat aande die moeite werd is. Ek kon nie glo dat hulle so bly oor die geskenke was nie.”

Afgesien van die speelgoed het sy ook bedsokkies vir die bejaardes van Angels en die pasiënte van die hospies gebrei en was betrokke by die Mandeladag-projek waar ’n klomp mense blokkies brei en dit dan in ’n kombers omskep. “Ek het nie net blokkies gebrei nie, maar ook die komberse aanmekaar geheg. Om te brei, is lekker, dis terapeuties en dit maak jou dae baie korter.”

Ilien vertel dat sy van kleins af al begin brei het. “Toe ek 14 jaar oud was, het ek aan ’n breiklub behoort wat jou geleer het hoe om te brei, maar nie om van ’n patroon af te brei nie. Ek het myself geleer om van patrone af te brei.”

Sy vertel dat sy vir lank die breinaalde weggebêre het toe sy haar vier kinders – drie dogters en ’n seun – grootgemaak het. Sy en haar man was 48 jaar getroud en sy sê sy mis hom nog elke dag.

“My kinders was bekommerd oor my. Hulle het aanbeveel dat ek weer begin brei en een van my dogters het voorgestel dat ek moet begin stap en aan pretlope deelneem. Dit het baie gehelp en ek is baie dankbaar vir my kinders se ondersteuning.”

Die medaljes teen die mure getuig van die aantal pretlope wat Ilien al voltooi het. “Ek loop oral waar ek wil wees. Soggens gaan ek gimnasium toe. Ek gaan haal die kleinkinders by die skool, vergesel hulle na hul buitemuurse aktiwiteite en gaan stap nog deur die dag saam met een van my dogters om fiks te bly. Die verste wat ek al gestap het, was 20 km.”

Ilien vertel sy wou nie net brei om haarself besig te hou nie, maar dat sy iets vir ander wil beteken.

“Ons is op die aarde geplaas om ’n verskil te maak, om om te gee vir mekaar en mekaar se belange op die hart te dra. Dis tóé dat ek die idee gekry het om vir ander mense artikels te brei. Ek wil mense graag aanmoedig om ook by sulke projekte betrokke te raak. Dit is so bevredigend om te sien hoe jy ander se las vir hulle ligter kan maak.

“Ek koop al die wol uit my eie sak. Ek wil graag meer doen, maar die geld is maar skaars.”V Mense wat graag wol, patrone, oorskietlappies, naalde of enigiets wil skenk, of net idees wil uitruil, kan Ilien se dogter, Natasha, by 079 647 7702 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.