Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bylswaaier slaan weer toe

“Wanneer kry dit end? Moet iemand eers ernstig beseer word, of doodgaan voordat hy stopgesit word?”

Dít is wat ’n Strand-inwoner haarself afvra nadat haar motor een van talle is wat in ’n vlaag voorvalle met opset beskadig is.

’n Verdagte wat al voorheen op soortgelyke aanklagte tereggestaan het, is weereens in verband met die mees onlangse voorval in hegtenis geneem.

Die inwoner, wat verkies het om anoniem te bly, vertel dat die voorval Dinsdag 6 November in die vroeë oggendure buite hul woning in Uniestraat plaasgevind het. Sy sê sy en haar man het geslaap toe sy omstreeks 04:00 wakker word toe sy ’n motorvoertuig hoor aankom.

“Ek dog toe, jis maar dis vreemd; die bure sal tog nie só vroeg hul huis verlaat nie. Ek en my man kyk toe deur die venster en sien ’n silwer Corsa-bakkie wat aangery kom en die volgende oomblik hoor ons twee harde kapgeluide,” vertel sy.

“Ek skrik toe so groot, en my man spring op en hardloop by die voordeur uit terwyl die bakkie heel rustig wegry. My man het toe in sy bakkie gespring in ’n poging om die bakkie aan te keer. Ek het intussen ons buurtwag en Gordonsbaai Sekuriteit ingelig, en toe ook in my kar – wat beskadig is – gespring.”

Sy vertel voorts dat sy en haar man mekaar in Woltemadestraat “raakgery” het waar hy nog die bakkie gesien het voordat dit net verdwyn het.

“Ek is huis toe; hy het eers 04:45 teruggekeer en was oortuig dat die man van die woonbuurt is.”

Die inwoner verduidelik dat sy aanvanklik gedink het die persoon wou by haar kar inbreek, maar dit was eers met nadere ondersoek dat sy besef het haar hele voorruit is in stukkies gebreek en sy die gevoel gekry het dat hulle weens onbekende redes geteiken word.

Later die oggend het hulle op pad na die Strand-polisiekantoor om die voorval aan te meld, by ’n motor in die buurt verbygery wat ook beskadig is. Hulle het by ’n jong paartjie buite die woning gestop en is meegedeel dat hul voertuig glo een van 19 is wat die oggend beskadig is.

“Ek het gevra of iemand dan nou net rondgegaan en dít gedoen het, en hulle vertel ons toe die storie van die vermeende geestelik versteurde man van die woonbuurt wat verlede jaar karre met ’n byl gekap het. Toe maak dit sin,” sê sy.

DistriksPos het verlede jaar by twee geleenthede oor die beweerde voorvalle berig nadat die Strand-buurtwag ’n waarskuwing aan motoriste gerig het om seker te maak hul voertuie word op veilige plekke geparkeer. Dit was ná ’n vlaag voorvalle waar tussen 20 en 30 voertuie in Strand-Noord met opset met vermoedelik ’n byl beskadig is (“Motors met byl bygedam”, DistriksPos, 12 Oktober). Die verdagte is op heterdaad betrap toe hy na bewering twee voertuie in Brandstraat met opset beskadig het “Motors met opset beskadig”, DistriksPos, 19 Oktober).

Volgens die inwoner was hulle een van vier wat soortgelyke voorvalle by die polisiekantoor aangemeld het.

’n Strand-polisiewoordvoerder het bevestig dat die 48-jarige verdagte ná die mees onlangse voorvalle, waarvan die skade altesaam omtrent R200 000 beloop, op agt klagte van opsetlike saak­beskadiging aangekla is. Volgens die polisiewoordvoerder is die verdagte weer eens vir sielkundige waarneming verwys en by Valkenberg opgeneem.

Die verdagte sal na verwagting Vrydag 7 Desember in die Strand-landdroshof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.