Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Die oomblik was net te groot

Kyk, ná talle flaters en rooiwang-oomblikke op kantoor het ek nou al vrede gemaak dat ek maar meestal die een is wat onkant betrap word – die sogenoemde “office blond”; altyd die laaste een wat ’n grappie snap of my voet in my mond sit, maar hierdie week het ek vir seker my eie persoonlike laagtepunt bereik.

Ek het my nog altyd beskou as iemand wat so bietjie van (relatief) baie weet en gewoonlik redelik gemaklik in ’n gesprek kan instap en my stuiwer in die armbeurs gooi, hetsy dit oor sport, politiek, nuus, die vermaaklikheidswêreld of aktuele sake is.

As gereelde luisteraar van die ontbytprogram op die gewilde radiostasie Kfm het ek mettertyd baie vermaak geput uit die sogenaamde “pop quiz” wat soggens een gelukkige luisteraar se algemene kennis toets en die kans bied om R10 000 ryker weg te stap.

Agter die stuurwiel het ek al dikwels heerlik saamgespeel en sommer hardop die antwoord geskree, dikwels ook uit frustrasie vir ’n betrokke luisteraar se “onkunde” wanneer hulle voor die hand liggende vrae verkeerd kry, baie soos toe ek klein was en Vrydagaande kiertsregop en baie ernstig in die gemak van ons TV-kamer saam Noot vir Noot gespeel het.

Ek het die afgelope paar maande die aanlynweergawe van die “pop quiz” begin speel om my kennis te toets.

Ek het met elke probeerslag gemiddeld tussen agt en tien (uit tien) behaal, en het besluit om my kennis op die uiterste proef te stel en in te skryf om regstreeks op die lug aan die vasvra deel te neem. R10 000 is mos nou nie te versmaai nie, maar ek het vir myself gesê ek sal self oukei wees daarmee om minstens sewe uit tien te kry. Ek het seker gemaak ek is op hoogte met die naweek se sportgebeure en -uitslae, brekende wêreldnuus en die jongste skindernuus in die vermaaklikheidswêreld.

Maar die oomblik was net te groot. Toe ek uiteindelik op die lug is, is enige “gesonde verstand” wat ek tot op daardie oomblik oorgehad het, by die deur uit. Ek moet seker dankbaar wees dat ek my naam reg kon uitspreek, hoewel dit miskien in my guns sou tel om eerder ’n skuilnaam te gebruik.

Ék was nou die een op wie motoriste in die ry geskree het, die “onkundige” een. Maar niks kan jou voorberei vir daardie 60 sekondes nie. Swemmers word sokkerspelers, jy ken skielik nie die naam van ’n vermaaklikheidster oor wie jy net die vorige week ’n gesprek met kollegas gehad het ná die nuus van haar oordosis nie, en hoewel jy weet wie die Tour de France gewen het, weet jy nie wat die “naam van die (bekende) fietswedren is waarin Chris Froome derde geëindig het nie”. Ek kon darem so drie antwoorde uitgeryg kry om met ’n nederige 300 randjies en baie vernedering weg te stap. Maar ek “vat dit op die ken”, en het uit my baie openbare ondervinding geleer as jy nie vir jouself kan lag nie, waaroor kan jy lag? Ek troos myself daaraan dat die luisteraar wat die volgende oggend aan die vasvra deelgeneem het, net twee reg geantwoord het. Ek dink ek moet maar my wengeldjies vat en hom nooi om ’n stukkie “humble pie” saam met my te gaan geniet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.