Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dié stem’ het veel meer talente

Hy is die man agter die stem wat talle Helderbergers vroeg weeksoggende oor die radio groet en werk toe vergesel – maar onder die omroeperbaadjie skuil vele ander talente.

Baie ken hom as die anker van die Wake-up Shake-up-ontbytprogram op Radio Helderberg maar ná 09:00 meld die 33-jarige Danie van der Merwe by die werk aan as korttermynversekerings­assessor by hul familieonderneming, AutoMagic-paneelkloppers in Somerset-Wes.

In sy vrye tyd hou hy hom besig as seremoniemeester by geleenthede óf gebruik hy die tyd om as liedjieskrywer sy gedagtes in lirieke op papier neer te pen.

Met sy eie sin vir avontuur het hy sowat ’n jaar gelede by Riaan Manser se produksiespan aangesluit vir die verfilming van die dokumentêr, The Odyssey Row, waarin Manser saam met ’n onervare metgesel die Atlantiese oseaan op ’n roeiboot van die Kanariese Eilande na Barbados sal aandurf.

Die wenner is onlangs aangekondig na afloop van ’n landwye kompetisie (“Manser off on a new adventure”, DistriksPos, 25 Oktober 2018).

Dit is nie die eerste keer dat Danie die ontdekkingsreisiger op een van sy ontdekkingsreise vergesel nie. In Desember is hy saam met Manser na Israel vir die verfilming van How to adventure with Riaan Manser en in Januarie weer na Doebai.

“Hy is ’n baie besielende mens. Die tye wat ek saam met hom gewerk het, was nie net inspirerend nie, maar ook leersaam. Hy het altyd raad wat hy graag deel.”

Gebore in Stilfontein, ’n klein myndor­pie in die Noordwesprovinsie, het Danie ná matriek BCom risikobestuur aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gaan studeer.

“Dáár het ek lekker geleenthede gehad en dis eintlik waar alles begin het.”

As lid van die studenteraad het Danie oor die portefeulje vir media en kommu­ni­kasie toegesien. “Puk FM het onder dit geval en dis my eerste verbintenis met ’n radio.”

Ná universiteit het hy in Korea gaan Engels gee en ná sy terugkeer vir twee jaar as ontwikkelingsekonoom in Pretoria gewerk.

Hy het daarna saam met vriende ’n koffiewinkel in Irene Mall in Pretoria oopgemaak.

“Ek het vir roasting-kursusse gegaan en dit vir ’n jaar gedoen.” Maar sy hart het Kaap toe getrek.

Met goeie herinneringe uit sy kinderdae van vakansies in Strand het hy ’n liefde vir die plek ontwikkel. Sy ouers het ook reeds in hierdie stadium Strand toe verhuis.

Hy het nadat hy Kaap toe getrek het by die Cancervive-veldtog betrokke geraak, wat jaarliks ’n kanker-rit doen, en hulle gehelp met die bemarking. Dit is ook deur dié bemarkingsrol dat hy by Radio Helderberg beland het.

Hy het eers op Saterdagoggende begin uitsaai en later na die ontbytprogram oorgeskuif waar hy aanvanklik saam met Tommy Dell en Mark Taylor aangebied het.

In dieselfde tyd het hy sy pa met versekeringsassesserings gehelp en hom later permanent by dié onderneming aangesluit.

Tussendeur behartig hy jaarliks die logistieke bestuur en onderhoude op die rooitapyt vir Mev. Suid-Afrika. Weens sy betrokkenheid dáár, het Karen Jurgens, Manser se regterhand, vir Danie gevra om met Manser se troue al die skakel­werk te hanteer.

“Dit is waar ek die eerste keer vir Riaan ontmoet het en ná dit het hy toe vir my gevra om saam met hom Israel en Doebai toe te gaan as logistieke bestuurder en produksie-assistent.

“Hy het my twee maande gelede geskakel en gevra of ek nie die produksiebestuurder sal wees vir die nuwe program, The Odyssey Row, nie. Ek wou eintlik regtig graag self deelneem, maar ek sou gesukkel het om twee maande af te vat om te roei. Gelukkig is ek nou deel as produksiebestuurder saam met Karen wat die vervaardiger was.”

Saam moes hulle al die uitdagings uiteensit en seker maak alles verloop vlot.

“Een van die ander redes waarom hulle my genader het, was om die onderhoude met die deelnemers te doen – die gedokumenteerde dagboekinskrywings – waar ons met die deelnemers praat om uit te vind hoe hulle voel ná die dag se uitdagings.”

Danie was ook die seremoniemeester by die geleentheid waar die wenner van die avontuurreis aangekondig is.

Die ambisieuse buitelugentoesias het ook ’n klerereeks, TANKWATAC, wat hy saam met ’n vriend begin het en spruit uit sy liefde vir jag. Die reeks bestaan uit goeie gehalte gekamoefleerde jaggeïnspireerde drag- en bykomstighede.

Met ’n besige skedule was daar die afgelope ruk nie tyd om te skryf nie, maar Danie sê dit bly steeds ’n passie wat warm in sy hart brand.

As kind het hy in ’n musikale huis grootgeword en homself geleer kitaar speel.

Hy het op skool Afrikaanse liedjies begin skryf maar later sy passie in Engelse country-musiek gevind.

“Ek was nog altyd lief vir country, ek het net nooit gedink ek sal moderne country sing nie.

Danie het vier jaar gelede sy eerste drie liedjies opgeneem met twee, “Drifter” en “Fly Away”, wat veral goed op radio gedoen het.

“Daar is vir my ’n storie aan country – ek wil nooit ’n liedjie skryf wat herhalend is en net in ’n mens se kop gaan vassit sonder betekenis nie.”

Met net 24 uur in ’n dag is dit moeilik om te dink waar hy tyd kry vir alles, maar hy glo dit gaan als oor tydbestuur.

Daarom sny hy dinge uit wat hy voel tydrowend is.

“Baie keer gaan sit ’n mens net en doen niks en dis daardie tye wat jy eintlik produktief kan wees. As ek kyk na die wye spektrum van goed wat ek doen, maak dit, dit ook lekker. Radio is heeltemal anders as assessorwerk en die klerereeks is ook weer iets heeltemal anders. Ek dink dis hoe ek ’n gesonde verstand hou.

“En natuurlik ook mense wat jou help – familie en vriende.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.