Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dis neusie verby vir twee broers

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle met professionele filmvervaardigingstoerusting, wat in Februarie uit die eienaar se motor in Strand gebuit is, in hul besit betrap is.

Die inhegtenisneming volg nadat die toerusting met ’n geraamde waarde van ongeveer ’n halfmiljoen rand op Facebook geadverteer is en die eienaar die polisie hieroor ingelig het nadat hy die advertensie raakgesien het.

Twee broers van die Erijahville-gemeenskap, 32 en 22, is verlede Dinsdag (22 Oktober) vir besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem en aangekla. Elektroniese en klanktoerusting, wat ooreenstem met die beskrywing van dié wat maande gelede gesteel is, is op beslag gelê.

Volgens die eienaar, Moller Wait van Durbanville, is hy ongelooflik bly dat die toerusting gevind is en dankbaar vir die flinke polisiediens. Wait het gesê daar was altyd hoop dat die gespesialiseerde toerusting gevind sou word omdat nie enigeen dit kan gebruik nie. Boonop is die plaaslike filmbedryf maar klein, het Wait gesê.

“Ek het winkels wat tweedehandse goedere verkoop en pandjieswinkels gereeld besoek en koerante en allerhande mediapublikasies fyn dopgehou. Nadat ek op dié Facebook-advertensie afgekom het, het vyf ander in die filmbedryf my gebel om my daarvan te vertel.”

Volgens ’n polisiewoordvoerder is ’n saak van diefstal uit ’n motorvoertuig Donderdag 7 Februarie aanhangig gemaak nadat Wait se toerusting glo die vorige dag (Woensdag) uit sy Toyota Corolla, wat in ’n oprit in Jefthastraat geparkeer was, gesteel is. Die polisiewoordvoerder het gesê Wait het na bewering die motor gesluit en later agtergekom dat die venster uitgeslaan is en die toerusting gebuit is.

“Inligting wat verkry is, het polisielede na die broers se huis gelei waar die beweerde gesteelde toerusting gevind is. Hulle het beweer dat iemand met die goedere daar by hulle opgedaag het,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Die polisiewoordvoerder het verder gesê die sibbe is verlede Dinsdag met hul hofverskyning op borgtog vrygelaat en die saak is uitgestel tot 3 Desember vir verdere ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.