Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Drome word waar vir Menanto

’n Afrikaanse man wat fanaties is oor sokker is so skaars soos hoendertande.

Maar Menanto de Lange, ’n 25-jarige inwoner van Somerset-Wes, is een van dié seldsame mans.

Menanto se liefde vir sokker kom van kleins af toe hy en sy pa die 2002-Wêreldbekersokkertoernooi saam gekyk het.

“Ek het dadelik op dié sportkode verlief geraak en nie lank daarna nie het ek dit op televisie begin volg en selfs begin speel,” vertel hy.

Volgens hom het hy vroeg besef dat hy nie self ’n professionele sokkerspeler sal kan word nie, maar wel dat hy deel van ’n professionele span kan wees. “Ek het nooit my droom laat vaar nie en het BSc (Sportwetenskap) aan die Universiteit Stellenbosch studeer en nadat ek my graad verwerf het, ook BSc (Biokinetika) nagraads studeer,” vertel hy.

Sy droom om by ’n professionele span betrokke te raak, het verlede jaar waar geword toe hy by Stellenbosch-voetbalklub (SFC) aangesluit het. “Ek is die biokinetikus en my hoofrol is om beseerde spelers saam met die klub se fisioterapeut te rehabiliteer. Ek is betrokke by die eerste span, die o.21-span en ook die jeugspanne. My dag begin gewoonlik met voorbereiding met die hele span voordat hulle gaan oefen, en ná die oefening sal ek saam met van die spelers gimnasium toe gaan. Naweke toer ek saam met die o.21-span en ek is in beheer van hul opwarmingsoefeninge. Ek is by elke wedstryd die eerste responder.”

Voordat hy by SFC betrokke geraak het, het hy sy internskap by die biokinetiese sentrum in Stellenbosch gedoen en by die Laerskool De Hoop se sportafdeling gewerk.

Menanto het in Somerset-Wes grootgeword en volgens hom sal hy sy grootwordjare vir niks in die wêreld verruil nie. Hy het matriek aan die Young Eagles Christian Academy voltooi en woon vandag nog in Somerset-Wes.

“My grootwordjare was wonderlik. Ek het in ’n wonderlike huis grootgeword waar ek van kleins af geleer het om na Jesus op te kyk en ander te hanteer soos Jesus sou. Ek hou ook daarvan om glimlagte op ander se gesigte te sit en mense gelukkig te maak.”

Hy glo verder actions speak louder than words. “Sonder aksie gaan ’n droom net ’n droom bly. Ek werk saam met my kollegas hard om die beste hoëprestasie-afdeling in die Premier-sokkerliga (PSL) te wees.”

Die grendeltyd het hom nie ondergekry nie en dié tyd het hom herinner dat familie en veral ondersteuning belangrik is. “ ’n Gesonde familie is ’n steunpilaar en veilige hawe. Ons gaan nie maklik weer só ’n geleentheid kry om elke dag saam met jou gesin deur te bring soos nou in die grendeltyd nie.”

Vir ontspanning hou Menanto daarvan om tyd in die natuur deur te bring en komedies te kyk. Sy gunstelingspan is Manchester United en hy is ’n groot aanhanger van die Britse sokkerster David Beckham.

Hy glo sy toekoms is rooskleurig en werk hard om sy drome te verwesenlik.

“My korttermynplanne is om my meestersgraad te doen terwyl ek graag in die toekoms my vaardighede en kennis in Europa sal wil gebruik. Een van my hoogtepunte was toe ek verlede jaar die geleentheid gekry het om my gunstelingklub in Engeland te besoek en ’n paar sokkerwedstryde te gaan kyk. Dit is ’n droom wat ná 16 jaar verwesenlik is en ’n bewys dat niks onmoontlik is as jy dit in God se hande plaas nie,” sluit hy af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.