Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dwelmseun slaan glo ma met klippe dood
06 September 2018

“As ma het sy baie goed toegelaat en oorgesien. En, ten spyte daarvan dat hy nooit sy samewerking gegee het nie, het sy hom steeds onvoorwaardelik ondersteun en liefgehad.”

Dít was die diepgevoelige woorde van Salome Graham (65) van Strand wat die afgelope naweek haar jonger suster op ’n hartverskeurende en tragiese manier aan die dood afgestaan het.

Haar suster, Betsie Warne (60), is na bewering in haar huis in Gordonsbaai deur haar vermeende dwelmverslaafde seun, Richard Warne, vermoor.

Die 31-jarige man het haar vermoedelik met klippe doodgeslaan.

Graham vertel dat sy en haar man hulle onmiddellik na die toneel in Durmonte-singel gehaas het nadat die polisie haar ander suster Saterdag omstreeks 00:30 oor die voorval ingelig het en hulle met die skokkende nuus gebel het. Graham sê die polisie was toe reeds op die toneel.

Volgens ’n woordvoerder van die Gordonsbaai-polisie is die polisie Vrydagaand omstreeks 20:30 ontbied nadat klagte van ’n lawaaierige bakleiery van die bure ontvang is.

“Lede in ’n patrollievoertuig het na die woning gegaan, maar alles was stil. Met hul aankoms het die seun verby die voertuig in die pad geloop. Die polisiebeamptes het die seun later weer gesien toe hy ’n tweede keer met blomme en sing-sing in die pad gestap het,” sê die polisiewoordvoerder.

Die polisiewoordvoerder sê nog klagtes is omstreeks middernag ontvang dat die seun buite sy ma se huis gestaan en gil en die bure se huis met klippe bestook het.

“Hy het glo geskree ‘This f****** woman is dead; phone the police!’ Die polisie is kort ná middernag weer ontbied,” sê die polisiewoordvoerder.

Polisielede het met hulp van reaksielede van Gordonsbaai Sekuriteit ’n hek met ’n buurman se koevoet afgebreek om toegang tot die perseel te verkry waar die seun, wat glo duidelik bedwelm was, aangetref is. Hulle het nog ’n hek oopgebreek om by die vrou, wat in die braaikamer aangetref is, uit te kom.

“Polisielede het met hulp van reaksielede van Gordonsbaai Sekuriteit ’n hek met ’n buurman se koevoet afgebreek om toegang tot die perseel te verkry waar die seun, wat glo duidelik bedwelm was, aangetref is. Hulle het nog ’n hek oopgebreek om by die vrou, wat in die braaikamer aangetref is, uit te kom.”

Volgens die polisiewoordvoerder is Warne se lewelose liggaam op klippe met ’n sigbare kopwond en frakture aan die neus gevind. Sy is op die toneel dood verklaar. Die seun, wat na bewering soos ’n beskuldigde sy hande gelig en vir inhegtenisneming agter sy rug gehou het toe hy deur die polisie genader is, is op aanklag van moord in hegtenis geneem.

Hy het Maandag (3 September) in die Strand-landdroshof verskyn. Die saak is tot Vrydag 14 September vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.

Volgens Graham was Warne ’n enkelma en het sy as makelaar in Somerset-Wes gewerk. Graham sê sy het haar seun onlangs glo weens sy dwelmmisbruik uit die huis gesit. Sy verduidelik dat haar suster dikwels deur haar eie seun mishandel en met die dood gedreig is.

Ons weet nie hoe hy by haar uitgekom het nie. Dat sy moontlik deur haar seun vermoor is, maak die verlies nog seerder. Die werklikheid is veral erg vir ons 91-jarige moeder om te verwerk,

“Ons weet nie hoe hy by haar uitgekom het nie. Dat sy moontlik deur haar seun vermoor is, maak die verlies nog seerder. Die werklikheid is veral erg vir ons 91-jarige moeder om te verwerk,” sê sy.

Die polisiewoordvoerder sê Warne het by menige organisasie asook die polisie aangeklop vir hulp, maar tevergeefs. Die polisiewoordvoerder sê wanneer Warne ’n saak teen haar seun aanhangig gemaak het, het hy haar met die dood gedreig om dit te laat vaar. Die polisiewoordvoerder voeg by dat hy voorheen sy ma teen haar sin saam met hom in ’n motor geneem het om dwelms in Somerset-Wes te koop. Hy het haar buite die plek in die motor toegesluit. Sy het ’n venster gebreek en na ’n nabygeleë winkelsentrum gevlug.

Graham maan ander ma’s met dwelmverslaafde kinders om versigtig te wees wanneer daar doodsdreigemente is.

“Hulle doen dit. Kry hulp,” sê sy.

Die familie het Warne se lyk Dinsdag uitgeken.

Sy word oorleef deur haar ma en twee susters.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.