Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eerste digbundel vir Renier

Renier Palland, ’n ­inwoner van Somerset-Wes, stel binnekort sy eerste digbundel bekend.

Dié 30-jarige sê om te skryf is sy lewe.

“In gr. 1 het hulle ons gevra om neer te skryf wat ons eendag wou wees wanneer ons groot is, en ek het digter daar neergeskryf,” vertel Palland.

Hy vertel ook hoe hy reeds op sesjarige leeftyd boeke gelees en op 10 jaar al gedigte begin skryf het.

“Vir my voel dit of digkuns al die antwoorde op my vrae oor die lewe kan verskaf. En wat lees betref, is ek altyd honger vir nog inligting en kennis. Verlede jaar het ek 365 boeke gelees.”

Palland, met ’n IK van 159, is ook ’n lid van Mensa, ’n internasionale vereniging vir begaafde mense.

Behalwe dat hy ’n digter is, skryf hy al ses jaar lank vir ’n Amerikaanse nuuswebwerf vir glanspersoonlikhede, Celebrity Dirty Laundry.

“Die maatskappy is in Amerika gebaseer maar ek werk van die huis af. Ek geniet dit verskriklik baie om vir hulle te werk en kry ook kans om met verskeie glanspersoonlikhede oor die foon te praat.”

Volgens Palland beeld sy digbundel, getitel Maniese Meervoud, sy ­bipolêre siekte uit.

“Ek was 16 toe bipolariteit by my gediagnoseer is. Ek wil graag hê hierdie bundel moet aan die leser ’n insig in die siekte en my maniese episodes gee.

“Dis my biografie in digvorm. Ek wil hê die leser moet ’n stukkie van my voel wanneer hulle die boek lees.”

Hy voeg by dat die bundel ’n gesprek oor dié siekte ­onder lesers moet aanwakker, aangesien soveel mense daaroor onkundig is.

Dié skrywer het nog groot drome oor sy toekoms. Benewens dat “skryf sy lewe is”, is hy ook ’n ywerige kortfilmmaker en wil eendag sy films by kortfilmfeeste inskryf.

Tans is hy deur middel van korrespondensie besig met sy doktorsgraad in sosiologie aan die Stanford-universiteit in Amerika.

Die lewenslustige Palland is dol oor die Survivor-televisiereeks en sê hy is ’n mega super fan.

“Ek kan jou alles vertel van elke episode en wie waar uit is,” lag hy.

Hy sal later vanjaar, in Desember, ’n Engelse digbundel bekendstel.

“Dit gaan nie heeltemal nuwe gedigte wees nie en ook baie anders as my Afrikaanse werk.”

Palland se boek word op Vrydag 15 Julie nasionaal bekendgestel en later die maand hou Palland ’n amptelike bekendstellingspartytjie.

“Ek is buite myself. Dit was ’n lang pad om tot op hierdie punt te kom waar my boek uiteindelik bekendgestel word,” sê hy met ’n glimlag, vol selfvertroue en trots.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.